Oekraïne: Nuusbrief en gebedsversoeke vanaf Michele van die Oekraïne – Augustus 2023

Liewe vriende en familie

Ek wil begin om dankie te sê. Baie dankie vir elke persoon wat bid en intree vir ons en vir Reni asook vir Oekraïne. Ek weet dat die gebed van ‘n gelowige groot krag het. Dankie vir elke bydrae en ondersteuning vir die werk in Reni, asook vir ons as gesin. Ek waardeer dit oneindig baie. 

Ek dink so aan Psalm 23

 Die Here is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.

Hy laat my neerle in groen wyvelde, na waters 

waar rus is lei Hy my heen. 

Hy verkwik my siel.

Om in Suid-Afrika te wees is soos die wyvelde vir my en elke keer wat ek met iemand kuier, verkwik Hy my siel deur my vriende en familie. Dit is so groot voorreg om hier te wees. Ek weet dat Suid-Afrika ook sy probleme het, maar ek geniet elke oomblik. Elke geleentheid wat ek kry om te deel, is my hoof doel om oor die Here se goedheid en getrouheid te getuig en dat Hy verheerlik word. Soms is dit by heel wêrelse geleenthede. Verlede Vrydag was ek na ‘n dans konsert wat by ‘n universiteit in Johannesburg aangebied is, juis oor Oekraine en die stryd waardeur Oekraine gaan is in dans vorm uitgebeeld. Daar was heelwat studente en hooggeplaasdes van die universiteit, asook ‘n moslem vrou. Hulle het my gevra om bietjie te vertel. Ek kon deel oor die Here se getrouheid en Sy beskerming. 
Heelwat mense het na die tyd kom gesels. 

Elke besoek aan ‘n gemeente is vir my so bemoedigend. Elke woord en gebed bêre ek diep in my hart vir die dae wat voorlê en wat ek dit nodig mag hê. 

Dit is met groot dankbaarheid aan die Here en aan elke persoon wat Sonneblomme en Sneeu in Oekraine gekoop het. Hy was verlede week nommer 11 op die top 100 Nielson lys wat alle boeke by alle winkels in Suid-Afrika verkoop is vir week 33 van 2023. Vanaf Maandag 16 Oktober elke aand net na 7nm aandnuus op Pta FM gaan hy deur Estelle Zeeman voorgelees word. 

In Reni is dit ‘n ander storie. Hou asseblief aan met bid. Reni hawe is 2 keer die afgelope aand getref. Tanya vertel dat hulle die hommeltuie bo ons huise in die donker sien vlieg terwyl die weermag dit in die donker probeer skiet en vernietig, maar hulle het net twee groot ligte waarmee hulle hom in die donker nag soek. Elke hommeltuig veroorsaak ‘n groot ontploffing in die graan skure. Dit is baie hartseer. Dit hou aan tot in die vroeg oggend ure en niemand in Reni kan slaap nie.  Alex stuur vir my ‘n video van ons jeug Sondagaand aan. Daar is oor die 50 jongmense. Met die gemeente gaan dit ook goed. Die leiers maak beurte om Sondae woord te bring en hulle gaan getrou voort met die woord.

Bid assebief vir Raduga kleuterskool vir finansies. Ons moes die besluit geneem om van die onderwyseresse te laat gaan, na ‘n paar maande wat ons nie voldoende finansies gehad het nie. Verlede maand het Wikus en Jubilee gemeente ons gehelp om die maand te kon afsluit. Bid asseblief vir ons vir uitkoms. 

Ek en Ivan beplan om die tweede helfte van Oktober terug te vlieg na Reni, deur Roemenië. Bid asseblief vir finansies vir ons visums asook die vliegkaartjies. Die kaartjies is verskriklik duur omdat dit na Roeminië is. 

Terwyl ek vir ‘n boek bekendstelling in George was, was ek een dag in Grootbrak by ‘n gemeente en na die geleentheid het ek sommer Kleinbrak toe gery. Sommer na die huis toe waar ons met Ockert die laaste paar dae gebly het. Die huis was toe en die gordyne was dig toegetrek. Ek het afgestap tot by die hekkie wat na die strand lei. Die strand waar ek voor die Here gehuil het, die plek waar die Here vir my gesê het om terug te gaan Oekraïne toe. Die plek waar die Here my weer opgetel het en Sy beloftes gegee het. Dit was moeilik om weer daar te wees, maar my hart was ook vol dankbaarheid vir die manier hoe die Here my gedra het en vertroos het en die diep werk wat Hy in my lewe doen. Die troos en genesing wat ek reeds ervaar het. 11 Oktober gaan dit twee jaar wees wat ek sonder Ockert is. Ek mis hom nog elke dag en maar die Here het reeds ‘n diep werk in my gedoen. Om die boek te skryf was vir my vetroostend en genesend, om weer deur elke emosie te gaan. 

Ek dank die Here dat Jy elke oomblik by my is en dra. 

My nessie raak leeg. Benjamin ook is in Santa Rosa waar Hannes-Joshua is asook Ockert se ouers en my skoonsussie Rynie en haar man Keith woon. 

Bid asseblief vir Mari-Alena wat die jaar klaar maak met haar studies in Onderwys vir grondslagfase. Sy wil graag in of om Stellenbosch omgewing ‘n pos hê. Bid asseblief dat die Here vir haar deure sal oopmaak by die regte skool. 

Dankie dat julle bid. Baie liefde en seën 

Ek is môre, Sondag 3 September by Kononia gemeente in Modimolle 8:30

10 September in Klerksdorp by NG Doringkruin

17 September in Bloemfontein by Kairos gemeente

19 September (Dinsdag) sal daar ‘n boekbekendstelling wees in Somerset Wes by Helderberg gemeente. 10:00

Begin Oktober gaan ek ‘n draai maak in Upington 

Michele Potgieter
Reni, Ukraine

Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

My persoonlike besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010