Liewe vriende en familie.
*Indien jy dalk ‘n boodskap aan die einde wil stuur, skryf asseblief vir my na: Nuwedag@gmail.com of Whatsapp na +380838126060
As jy net “reply” druk, kry almal op die verspreidingslys jou brief.
Baie dankie dat julle bid. Baie dankie vir elke bemoediging en boodskap. Baie dankie vir elke bydrae en donasie. Ek waardeer dit alles oneindig baie. Dit is julle wat die werk in Reni moontlik maak. Dankie dat ons saam ‘n span kan wees. Ons het geen sending organisasie of uitstuur gemeente wat ons ondersteun nie. Dit is net ons vriende en familie wat al die jare by ons staan. Vir 26 jaar en veral ook nou, die moeilikste jaar van die 26 jaar. Ek sou dit nooit alleen kon doen nie. Elke bemoediging is vir my so kosbaar en ek dank die Here dat jy in my lewe is. Ek is so verskriklik baie dankbaar.
Ek kan net vanmore weer getuig oor hoe goed en getrou die Here is! Ek en Ivan is oppad Suid-Afrika toe om by Mari-Alena, Benjamin en Ockert se ouers te wees. More sal dit ‘n jaar terug wees wat die Here vir Ockert kom haal het. Hierdie is net ‘n tyd om bietjie af te sonder, tyd met familie te spandeer en om die boek klaar te skryf. Ek is halfpad maar het net tyd tot begin Desember en het klaar die ooreenkoms onderteken. Ek weet nie hoe ek die tyd daarvoor gaan kry nie. Bid asseblief dat ek dit sal klaar kry en wanneer ek skryf dat die Heilige Gees my sal lei. Ek wil net dat die Here verheerlik word en dat mense se geloof versterk word wanneer ons getuig van die Here se goedheid en getrouheid.
Soos ek hier sit en skryf is ek en Ivan in Bucharest en vlieg ons D.V. vanaand SA toe. By die Moldavie grens het hulle ons sonder ‘n visum deurgelaat, vit transit omdat dit ‘n kort entjie is tot by Rominie se grens. By Rominië het die grens hulle gesê dat hulle nie vir ons kan deurlaat nie omdat ons al in Poland was na die oorlog begin het…ons kan ook nie terug draai Moldavie toe nie, want hulle het gesê dat hulle my net een keer deurlaat! Ek het hom probeer ompraat om te help, alles probeer, toe sê hy streng vir my, “Nee, verstaan jy my!! Jy het n visum nodig.” Ons het in niemandsland gesit en kon nie Rominië ingaan nie en ook nie Moldavie terug gaan nie. Hy het gesê: “Gaan Moldavië toe en gaan more oggend na die kunsul dat hulle vir jou n visum vir Rominië oopmaak.” Maar ons het nie visums vir Moldavie nie en sal moet terug gaan Oekraine toe. Hy sê hy gaan vir my ‘n brief skryf vir die konsulaat in Moldavie vir ‘n Rominië visum. Ons bid…. na ‘n lang ruk kom hy terug en gee my paspoort en sê dat sy jonger kollega van Charlene Theron die SA akstriese hou, daarom het hy die rekenaar “getriek” en ons paspoorte gestempel en vir ons gesê: “Say thank you to my younger colleague. Welkom in Rominië.” Ek sal dit ‘n duisend maal sê….die Here is so goed en getrou! Tot in alle ewigheid! Halleluja! Aan Hom alle eer en heerlikheid.
Hannes-Joshua en Nastia is veilig in Santa Rosa Kalifornië. Hulle pas goed aan en Ockert se sussie Rynie en haar man is so goed vir hulle. Hulle help hulle met ‘n blyplek en kyk so mooi na hulle.
Ek wil net ‘n regstelling maak oor Cilliers se baas. Ek het ‘n baie goeie gesprek met hom gehad en wil net eerstens sê hoe dankbaar ek teenoor hom en die Here is vir die geleentheid wat Cilliers en Tanya het om in Duidsland te wees en daar te kan werk. Met my vorige brief het ek ondankbaar en onvergenoegd voorgekom en dit is regtig nie my hart nie. Daarom wil ek omverskoning vra. Cilliers se baas doen alles in sy vermoë om vir Cilliers te help en stap ook ‘n nou pad met die Here. Dit is so wonderlik om te sien hoe die Here alles regstel wanneer ons net met mekaar praat, want wanneer ons mekaar nie ken nie maak ons foute. Soms kan slegte kommunikasie soveel misverstande tot gevolg hê. Bid asseblief dat die Here hierdie maatskappy sal seën in alles wat hulle doen. Bid asseblief vir al vyf my kinders dat die Here vir elkeen sal wys waar hulle moet wees en waar hulle die Here kan dien.
In Reni het daar wer die week twee bussies met kos uit Rominië gekom en ons mense in die gemeente maak steeds elke dag kos vir vlugtelinge. Daar is elke dag nuwe mense wat in Reni aankom, veral nou dat die oorlog meer na die Suide beweeg. Ons is in kontak met Nikolai se ma en sussie Olga wat daagliks vra dat ons vir hom bid. Sy hele battalion se posisie is moontlik bekend gemaak aan die vyand. 80% van die soldate is dood in ‘n lokval. Nikolai het gesien hoe een van sy vriende van Reni langs hom dood is. Dit is ‘n groot wonderwerk dat hy bly lewe het. Hy is nou op hierdie oomblik in loopgrawe waarop daar herhaaldelik geskiet word. Daar is glo 10 van Reni se jongmanne in twee dae naby Kgherson dood. Gister en eergister is die liggame van van hierdie soldate terug gebring Reni toe. Die hele dorp het langs die strate met vlae en blomme gestaan. Een van die soldate was Nikolai se vriend. Hy het ‘n vrou en dogtertjie na gelaat. Bid asseblief vir hierdie families.
Die laaste punt van die brandweer se voorwaardes is afgemerk met ‘n groot wonderwerk. Ons het vir ‘n paar maande lank gesoek na ‘n groot genoeg tenk sodat daar genoeg water sal wees op die perseel. Die laaste keer het ons in Izmail na ‘n 20 000 liter staal tenk gaan kyk. Ons sou ‘n hyskraan moes huur in Izmail en Reni en ‘n groot vragmotor om die tenk te vervoer. Die onkostes was verskriklik groot en daar was net nie ‘n manier hoe ons dit kon doen nie. Ons het na die ou geroeste tenk gaan kyk en toe het die persoon nog die prys verdubbel as wat hy geadverteer het. Die een wat hy geadverteer het was begrawe en heelwat kleiner as die een wat hy toe aan ons wou verkoop. My moet was op. Ek het die burgemeester gebel.Hy gee toe vir ons ‘n tenk heeltemal gratis! Hy het ook gratis ‘n hyskraan gestuur en ‘n trekker om ‘n gat te grawe. Bomme ‘n dag is die gat gegrawe, die tenk met pik geverf en in die gat gesit. Nie ‘n sent betaal nie. Die Here is so goed en getrou! Raduga kan werk selfs nou tydens die oorlog. Die Here gee vir ons soveel guns. Daar is nuwe kindertjies in Raduga wat uit die oorlog gebiede kom. Ek sien die week ‘n video van een van die vlugtelinge se dogtertjie wat in Raduga is. Haar ouma wat nie die Here ken nie het dit geneem. Haar ouers is ook nie Christene nie. In die video sing sy van die Here met haar handjies in die lug! Dat hierdie dogtertjie die evangelie bring in haar huis deur ‘n liedjie. Prys die Here vir Raduga en vir elke juffrou wat daar werk. Bid asseblief vir finansies vir Raduga. Ek moet die borge vir die nuwe kindertjies kry en weer op datum kry. Dit is iets wat Ockert gedoen het, waarby ek nog moet uitkom.
Bid asseblief dat ek en Ivan vanaand net op daardie vliegtuig kan klim. Dat die Here weer vir ons die deur oopmaak om uit Rominië te kan kom.
Baie liefde en seën uit Rominië
Michele Potgieter
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010