JULIE 2023
“Die blydskap wat die Here gee sal julle krag wees!”
– Nehemia 8:10
Saterdag & Sondag 1-2 Julie: Op 6 Junie het die Nova Kakhovka-damwal ineengestort. Etlike dorpe is oorstroom en die Zaporizhzhia kernstasie is daardeur in gevaar gestel. Skade aan rioolstelsels en verspoelde begraafplase het mense genoodsaak om te ontruim, omdat dit die gevaar van siektes inhou. Bid vir die veiligheid van FEBA Oekraïne se personeel by die Zaporizhzhia radiostasie. Bid dat die uitsendings mense na God sal lei en dat hulle dan hul krag en hoop in Hom sal vind. Maandag 3 Julie: Radio Chiuanjota in Mosambiek het begin om dissipelskapprogramme vir die jeug te maak. Dis gemik op die jongmense van Chiconono, Chiuanjota, Muembe en Lundale. Bid dat God hierdie projek sal seën en dat dit vrug sal dra. Dinsdag 4 Julie: “Danksy radio, het ek Christus aanvaar. Ek leer my kinders nou om Bybel te lees. Die Bybel het ‘n impak op my hele gesin.” – A. Ali, luisteraar uit Irak Woensdag 5 Julie: “Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag” (Jesaja 40:30-31 Afr53) Donderdag 6 Julie: FEBA Mongolië het ‘n nuwe program oor geestesgesondheid geloods. Bid dat die Here die span sal lei terwyl hulle mense bedien wat dit nodig het. Mag Hy genesing bring deur die uitsendings, en mag dit luisteraars na Hom toe bring. Vrydag 7 Julie: Sosiale media is ‘n kragtige metode om die Goeie Nuus te deel, veral in lande waar Christene vervolg word. Prys God vir die geleenthede wat Hy skep en bid dat Hy die FEBA-spanne sal lei in hul pogings om inhoud te skep wat God se liefde oordra…totdat almal gehoor het! Saterdag & Sondag 8-9 Julie: Noord-Korea is die slegste plek in die wêreld om ’n Christen te wees. Christene word erg vervolg. Daar is ongeveer 400,000 Christene in Noord-Korea, waarvan sowat 70,000 in kampe vir gevangenes is. Dit sluit kinders in. Dis ook een van die wêreld se mins-bereikte lande, met 99.3% van die bevolking steeds onbereik. FEBA Korea saai 18 ure per dag na Noord-Korea uit. Bid dat mense die Goeie Nuus sal hoor en met die hoop van Christus gevul sal word. Maandag 10 Julie: FEBA Filippyne het ‘n nuwe direkteur, Luis Castillo. Bid dat God hom sal lei in die bestuur van die span en hul projekte, dat hy krag van God sal kry om uitdagings te oorkom, en dat hy vreugde in sy werk sal vind. Dinsdag 11 Julie: “God se genade het my uit hopeloosheid gered en my gebroke hart genees. Krusa FM het my siel aangespoor om Jesus Christus as my enigste hoop op verlossing van sonde te aanvaar” – FEBA Kambodja luisteraar Woensdag 12 Julie: “Al beswyk my vlees en my hart – God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid” (Psalm 73:26 Afr53) Donderdag 13 Julie: Meer as 95% van Kambodja se bevolking is nog nie deur God se woord bereik nie, tóg groei Sy koninkryk in dié land. Bid vir FEBA Kambodja se mobiele-studio projek, wat die Goeie Nuus na onbereikte dorpies gaan neem. Mag die span veilig wees en die oes groot! Vrydag 14 Julie: FEBA Taiwan het met ‘n nuwe “narrow-casting” strategie vorendag gekom, waarmee hulle inhoud pasmaak vir kleiner mensegroepe. Bid vir die programme wat gemik is op die Chinese in Taiwan en dat FEBA Taiwan se planne voorspoedig sal wees. Saterdag & Sondag 15-16 Julie: Bid vir FEBA Oekraïne se beradingspanne. Al het elke berader al iemand weens die oorlog verloor, kies hulle steeds om ander te help. Die telefoniese hulplyn het gegroei van vyf tot sowat 35 beraders, wat elke dag na hartverskeurende stories luister en moeilike vrae beantwoord. Baie jongmense deel ook hul vrese en uitdagings op die aanlyn teks-gebaseerde hulplyn. Bid dat die beraders God se vrede en wysheid sal ontvang, sodat hulle mense na Hom kan lei. Maandag 17 Julie: FEBA Indonesië het onlangs opleiding in rampreaksie-uitsending in Bali gegee, waar vrywilligers geleer het hoe om die radio te gebruik om mense gedurende natuurlike of mensgemaakte rampe te help. FEBA Indonesië beoog om die opleiding oral in Indonesië aan te bied. Bid dat God hul pogings sal seën. Dinsdag 18 Julie: “Na twee jaar van luister na KanuYah FM Sollo, het ek in die Here begin glo. Ek koop nou gereeld nuwe batterye vir my FM-radio, want ek spandeer die meeste van my tyd in die weiveld met my beeste.” (Mamadou Diallo, FEBA Mali luisteraar) Woensdag 19 Julie: “My Sterkte, op U wil ek wag, want God is my rotsvesting” (Psalm 59:10 Afr53) Donderdag 20 Julie: FEBA se bediening maak baie staat op die beskikbaarheid van kortgolf-, AM- en FM-radio’s. Bid dat God FEBA se vennootskap met Christen-radiovervaardigers sal seën, en dat Hy die fondse sal voorsien vir radio’s sodat die bediening kan aanhou groei. Vrydag 21 Julie: Bid vir FEBA Thailand. Ongeveer 95% van Thailand se bevolking is Boeddhiste en ’n verdere 4% is Moslems. Bid dat God vir die FEBA Thailand-span die nodige moed en wysheid sal gee om programme te vervaardig wat mense se siening van Christenskap sal verander en hulle na Christus sal bring. Saterdag & Sondag 22-23 Julie: Die vloede in Pakistan het meer as 30 miljoen mense geraak, en daar word nog vloede hierdie jaar verwag. Bid vir diegene wat geliefdes verloor het en vir hulle wat nou hul huise en gemeenskappe moet herbou. Bid vir gesondheid- en hulpwerkers, wat mense moet help oorleef in haglike omstandighede. Mag die Here FEBA Pakistan gebruik om hoop en troos te bring aan dié wat ly, en mag Hy verligting bring. Maandag 24 Julie: Bid dat die konstruksie van Krusa FM se selfondersteunende toring veilig voltooi sal word. Bid dat die toring FEBA Kambodja sal help om hul bediening uit te brei na elke onbereikte hart in Kambodja. Dinsdag 25 Julie: “Jul programme is soos balsem vir ons wonde. Ons leef in die aakligste toestande – sonder kos of skuiling, sonder die basiese benodigdhede – en tog het ons hoop as gevolg van jul programme. Dankie!” – FEBA Pakistan luisteraar Woensdag 26 Julie: “Die Naam van die Here is ‘n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut” (Spreuke 18:10 Afr53) Donderdag 27 Julie: FEBA Pakistan beleef ‘n sekere mate van sukses met hul FM-uitsendings in Charsada, veral onder die jeug. Bid dat die Goeie Nuus onder luisteraars sal versprei en hulle na Christus toe sal bring. Vrydag 28 Julie: Daar is tans meer as 32 miljoen vlugtelinge in die wêreld. FEBA bedien vlugteling-gemeenskappe oraloor – insluitend sommige in Pakistan, Indonesië, Moldova en Tsjad – en deel die Goeie Nuus met hulle. Bid dat FEBA se bediening meer vlugtelinge sal help om hul tuiste in Christus te vind. Saterdag & Sondag 29-30 Julie: Dis ‘n groot voorreg om ’n Bybel in jou hartstaal te hê. ‘n Menigte mensegroepe het dit nog steeds nie. Baie mense in minderheidsgroepe is ook ongeletterd. Hulle neem gereeld FEBA Internasionaal se programme op om hulle in hul geloof te help groei. Bid dat God se woord lewend sal word in hul harte en bid dat die Bybel aan meer mense in hul hartstaal beskikbaar sal raak. Maandag 31 Julie: FEBA-spanne reg oor die wêreld ondergaan gereeld opleiding in onderwerpe soos rampreaksie-uitsending, klankopname, inhoudskepping en leierskap. Bid dat die opleiding effektief sal wees, sodat FEBA kan voortgaan om uitsonderlike diens te lewer ter wille van God se koninkryk. Maak ‘n donasie op ons webwerf |




