Radio FEBA e-gebedsfokus Junie 2023

Donderdag 1 Junie: Kiëf ervaar die afgelope tyd swaar bombardering. Die geweld eis daagliks lewens, insluitende sommige van FEBA Oekraïne-personeel se familielede. Baie aanbieders is tans in die buiteland ter wille van veiligheid, wat ‘n groter werkslas op die huidige span laai. Bid asseblief dat God vir FEBA Oekraïne en hul luisteraars krag, moed, troos en hoop sal gee.

Want U laat my lamp skyn; die Here my God laat my duisternis opklaar.” – Psalms 18:29 
 


Vrydag 2 Junie: Pakistan ervaar sedert 9 Mei erge politieke onrus. Joernaliste en radiostasies word geteiken, en meeste sosiale media-kanale is geblok. Bid vir FEBA Pakistan en hul luisteraars se veiligheid en dat hulle nog meer geleenthede sal vind om die Goeie Nuus te versprei.

Saterdag & Sondag 3-4 Junie: In 1948, toe China buitelandse sendelinge verbied, het FEBA begin uitsaai vanuit die Filippyne. Die eerste uitsending het op 4 Junie 1948 plaasgevind. Vandag saai FEBA Filippyne uit na 65% van die land via 13 radiostasies. Hulle verskaf weekliks 1,500 ure se Christelike inhoud op die lug, met ’n verdere 1,200 ure aanlyn, in 26 van die landstale. Die FEBA Filippyne-span het Jesaja 26:12 gekies as die leuse vir hul herdenkingsmaand: “…U het ook al ons werk vir ons volbring.” Veels geluk met jul 75ste verjaardag, FEBA Filippyne! Ons bid dat God sal voortgaan om Sy liefde deur julle bekend te maak.

Maandag 5 Junie: Die verwoestende Sikloon Freddy het twee van FEBA Mosambiek se stasies sleg beskadig. Danksy FEBA Suid-Afrika se harde werk is hulle voorlopig terug op die lug, maar die een stasie kort beduidende herstelwerk. Bid dat God die nodige kennis en fondse sal voorsien om die stasies weer volsterkte te kry.

Dinsdag 6 Junie: Wai se ouma het hom as kind bekendgestel aan FEBA China se Radio Liangyou. Wai was eendag op sy motorfiets op pad kerk toe, toe ’n trok oor ’n rooi lig snel. ’n Stem het vir Wai gesê, “Gaan, vinnig!” Hy het gehoorsaam en ongedeerd daarvan afgekom. “Toe het ek geweet dat die God wat ek en my ouma aanbid, werklik God is.” Prys God vir Sy getrouheid wat oor generasies strek!

Woensdag 7 Junie: “Baie sê: Wie sal ons die goeie laat sien? Verhef oor ons die lig van u aangesig, o HERE!” (Psalms 4:7 AFR33/53)

Donderdag 8 Junie: Na Sikloon Freddy se verwoesting het FEBA Malawi sonpanele installeer om die gedurige kragonderbrekings teë te werk. Nou kan Litala FM vir 24 uur per dag uitsaai! Prys God vir Sy voorsiening!

Vrydag 9 Junie: Bid asseblief vir die mense van die Oekraïne. “Hierdie lugaanval sirenes is skrikwekkend,” sê ’n luisteraar. “Ek is alleen hier in ’n nuwe stad … my ou tuiste, die hele stad, is vernietig.” Bid dat die mense wat ontwortel en in rou is, God se teenwoordigheid sal voel, en dat Hy vrede en hoop in Sy kinders se harte sal bring.

Saterdag & Sondag 10-11 Junie: FEBA Ethiopië se hoofkantoor is in Addis Abeba, waar hulle twee programme van 15 minute elk vervaardig – “The Amharic Message for the World” (Donderdag tot Sondag) en “The Way of Righteousness” (Maandag tot Woensdag). Die programme word uitgesaai na Ethiopië en die Midde-Ooste, insluitend Libanon en Saoedi-Arabië, waar mense dit elke aand om 19h00 kan luister. In Maart en April het FEBA Ethiopië briewe en telefoonoproepe van sowat 1,148 luisteraars ontvang, waarvan 570 nuut was! Loof God vir hierdie wonderlike groei en bid dat FEBA Ethiopië se direkteur, Tenkir Teni, en sy span se harde werk nog meer vrugte sal afwerp.

   
Maandag 12 Junie: In die Filippyne is 30 uit die 202 mensegroepe steeds onbereik. Baie van hulle woon in “dowe kolle”, gebiede waar radio-opvangs swak is. Hierdie gebiede beslaan ongeveer 35% van die land. Bid dat God vir FEBA Filippyne sal gebruik om Sy stem en boodskap selfs na hierdie dowe kolle te dra.

Dinsdag 13 Junie: “Ek het op hoërskool na jul programme begin luister, nou is ek by die Universiteit van Wolaita. Ek het die evangelie met my vriende op kampus gedeel en hulle vertel van Jesus en die weg na redding. Een van hulle het na jul programme begin luister en Bybel begin lees. Bid dat hy die Here sal leer ken.”FEBA Ethiopië-luisteraar

Woensdag 14 Junie: “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Johannes 8:12 AFR53)

Donderdag 15 Junie: FEBA Radio SA het onlangs ‘n nuwe spanlid bygekry. Bid dat God haar sal toerus en gebruik om Sy koninkryk te bevorder. Bid asseblief ook vir die span se gesondheid, beide fisies en emosioneel. Mag God hulle die krag gee om die pad te loop waarop Hy hulle geplaas het.

Vrydag 16 Junie: FEBA Mosambiek het onlangs agt nuwe jeugluisteraarklubs in die Nicoadala-distrik gestig. Hulle beoog om jong leiers te kweek en te bemagtig. Sommige van die kinders het familielede verloor as gevolg van Sikloon Freddy. Bid dat hierdie jongmense God se teenwoordigheid en liefde sal ervaar, en dat die Goeie Nuus nog meer van hulle sal bereik.

Saterdag & Sondag 17-18 Junie: “Keiko’s Mailbag” is FEBA Japan se gewildste program. Dit word al vir meer as 50 jaar aangebied deur FEBA Japan se voormalige direkteur, Keiko Yoshizaki. Die program gee mense kans om vrae oor God en Christenskap te vra sonder vrees vir verleentheid, iets wat baie belangrik is in die Japannese samelewing. Deur die jare het God vir Keiko en haar program telkemale gebruik om selfmoorde te voorkom. Keiko sê, “Mense voel so afgesonder … hulle soek ’n Redder, maar besef nie Sy naam is Jesus nie. Ek wys hulle na God se beloftes en waarhede.” Prys God vir Sy goedheid en bid dat Hy FEBA Japan sal gebruik om genesing in hul pragtige land te bring.

   
Maandag 19 Junie: Loof God vir die geleentheid om die mense van Kirgisië te bereik deur FEBA se netwerk van ses FM-stasies. Bid dat samewerking met plaaslike kerke sal toeneem. Bid dat God vir FEBA Kirgisië sal help om meer Christelike uitsendings op radio, internet, en sosiale media te vervaardig en daardeur die onbereiktes te bereik.

Dinsdag 20 Junie: Mev. Alaina Kimu, ’n luisteraar wie se dorp deur Sikloon Freddy getref is, vertel, “Ek het die stasie gebel vir hulp en hulle het 100 sakke mieliemeel gebring. Beide ons geestelike en fisiese lewens word gevoed deur na Litala FM te luister.” Bid dat God FEBA Malawi sal krag gee om die goeie werk vol te hou en die Goeie Nuus te versprei.

Woensdag 21 Junie: “Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem.” (Romeine 13:12 AFR83)

Donderdag 22 Junie: Teen Desember 2022 het FEBA Suid-Afrika al nege stasies in Afrika gestig en ondersteun hulle boonop verskeie internasionale FEBA-stasies. Dr Jurie Vermeulen, FEBA Suid-Afrika se nasionale direkteur, bestuur die werk en reis gedurig. Bid dat God hom krag en wysheid sal gee in alles wat hy doen.

Vrydag 23 Junie: FEBA Thailand ontvang bemoedigende terugvoer vanaf luisteraars in Laos. Baie van hulle hoor die uitsendings via Facebook Live. Sommige luisteraars het selfs weeklikse Bybelstudies begin! Bid asseblief vir volgehoue geestelike groei in hierdie luisteraars en hul gemeenskappe.

Saterdag & Sondag 24-25 Junie: Volgens die Joshua Project bestaan sowat 42% (ongeveer 3 miljard mense) van die wêreldbevolking uit onbereikte mensegroepe. Reg oor die wêreld werk FEBA dag en nag, te midde oorlog, natuurrampe, politieke onrus, en ekonomiese uitdagings om hierdie mense te bereik. Bid vir die spanne: dat God hulle die moed sal gee om nuwe uitdagings aan te pak en wysheid om hindernisse te oorkom. Bid vir die FEBA-leiers: dat hulle God se wil sal doen en Sy stem te alle tye sal gehoorsaam. Bid dat FEBA se personeel en luisteraars God se liefde in oorvloed sal ervaar en dit met ander sal
deel.
  
Maandag 26 Junie: Kasakstan sien ’n toename in hardvogtige vorme van Islam. Diegene wat Christus aanvaar, word gesien as verraaiers. Dis tegnies onwettig om buite ’n kerkgebou te evangeliseer. Bid vir die FEBA Kasakstan-span waar hulle aanhou om hul luisteraars te bedien. Bid ook dat God nuwe deure vir die Goeie Nuus in hierdie land sal open.

Dinsdag 27 Junie: Casto, ’n FEBA Indonesië luisteraar, het by die werk gesukkel. Hy het gebed versoek deur Heartline Radio se gebedsprogram. Na die tyd het FEBA Indonesië se span na hom toe uitgereik. “Dankie vir jul besorgdheid oor my en vir die omgee wat ek van die FEBA Indonesië-span ervaar,” sê hy. “Mag God voortgaan om die bediening en jul werk te gebruik en te seën. Amen.”

Woensdag 28 Junie: “Dít is nou die boodskap wat ons by Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.”
(1 Johannes 1:5 AFR83)

Donderdag 29 Junie: Bid asseblief vir die mense van Indië. Baie luisteraars soek na God wanneer hulle na FEBA Indië se programme luister deur kanale soos YouTube en Instagram Live. Bid ook dat FEBA se vennootskappe reg oor die land sal groei sodat meer onbereikte mense die liefde van Jesus kan ontdek.

Vrydag 30 Junie: Bid vir FEBA Oekraïne en FEBA Rusland waar hulle luisteraars in oorlogtoestande moet bedien. Meer en meer mense soek berading. Bid dat God vir die spanne die regte woorde sal gee, asook die moed om dit te sê, en dat hulle die vreugde van klein oorwinnings sal beleef.    Maak ‘n donasie op ons webwerf