Radio FEBA gebedsgids vir Januarie 2023

Sondag 1 Januarie: Bid dat FEBC Taiwan se nuwe kinder- en jeugprogramme, “Fun After School” en “Bible Unboxing”, kinders na Jesus toe sal lei.
Maandag 2 Januarie: Wetgewing in Japan verbied enige godsdienstige organisasie om uitsaaitorings te besit. FEBC Japan, die enigste Christelike uitsaaier in die land, saai uit vanaf Jeju Eiland in Suid-Korea. Bid asseblief dat FEBC Japan se programme nog baie verder sal reik.


Dinsdag 3 Januarie: Bid vir FEBC-vennote Joshua en Nit Chan wat in Thailand dienswerk doen. Bid vir wysheid waar hulle toesig hou oor die groeiende Khmu-bediening en terselfdertyd bykomende leierskap verantwoordelikhede dra.
Woensdag 4 Januarie: Ons prys God vir die nuwe program in die Bugkalot-taal wat onlangs in die Filippyne geloods is. Soortgelyke programme speel gedurig oor luidsprekers in die buurte. Bid dat hierdie nuwe program baie mense sal help om die evangelie te hoor en verstaan, en hulle so na Jesus toe lei.
Donderdag 5 Januarie: Byna twee jaar het al verloop sedert die militêre staatsgreep in Mianmar. Menigte mense lei steeds as gevolg van onderdrukking. Bid asseblief vir God se beskerming oor FEBC Mianmar se personeel en hul families, sowel as vir vrede om in die land herstel te word.
Vrydag 6 Januarie: Boeddhisme is ingewortel in Thailand se kultuur. Bid asseblief dat God die FEBC-uitsendings sal gebruik om mense se lewens en hul siening van Christenskap te verander.
Saterdag & Sondag 7-8 Januarie: Bid vir die opkomende Eeufeesviering van die Evangelie in Kambodja wat plaasvind op 27-28 Januarie 2023. Mag God die nodige hulpbronne vir beplanning, wysheid vir die spanne, en guns aan hierdie historiese geleentheid voorsien sodat dit die lig van God sal weerspieël en Hom eer.
Maandag 9 Januarie: Kirgisië is tradisioneel ‘n Moslem-nasie. Bid dat die verlorenes en onbereikte se harte sal oopmaak om die Goeie Nuus te ontvang wanneer dit deur die toegewyde FEBC-stasies uitgesaai word. 
Dinsdag 10 Januarie: FEBC het ‘n projek geloods om Moslem-luisteraars in Eurasië, insluitend Rusland, Kasakstan en Kirgisië, te bereik. Bid vir die dapper Moslem bekeerlinge wat daagliks gedreig word wanneer hulle hul getuienisse en geloof in Jesus Christus met ander deel.
Woensdag 11 Januarie: Irina is ‘n aanbieder vir FEBC Oekraïne, asook ‘n trauma-spesialis. Sy help tans om ons gebed-hulplyn uit te brei sodat aanlyn-berading ingesluit word. Bid dat God haar sal rig soos sy spanne lei, oplei, en nuwe spanne bou om te werk met die menigte wat die hulplyn skakel.
Donderdag 12 Januarie: Die konflik tussen Rusland en die Oekraïne toon geen einde nie. FEBC se beradings bediening pas vinnig aan weens die toename in oproepe van luisteraars wat vrae het en hulp benodig. Bid vir die beraders waar hulle troos bied en die oorvloedige liefde van Jesus Christus deel.
Vrydag 13 Januarie: Prys God dat FEBC Rusland se uitsendings nie verban is nie en inderdaad gewilder raak. Bid asseblief dat hierdie vryheid en groei in luister talle sal volhou.
Saterdag & Sondag 14-15 Januarie: Bid asseblief vir die groeiende bediening in die Republiek van Boerjatië in Rusland, waar plaaslike inwoners ‘n mengsel van Boeddhisme, animisme, en voorvader-aanbidding beoefen. Ons span ontvang aanhoudend getuienisse van mense wat hul harte vir die Here gegee het. Bid dat God hierdie wonderlike werk sal seën en dat dit sal aanhou uitbrei.
Maandag 16 Januarie: Die FEBC Mongolië-span maak vordering en laat hul merk op sosiale media met bemoedigende video’s wat op ‘n nuwe, jonger gehoor gemik is. Bid asseblief dat enige sensuur wat die platforms rakende Christelike inhoud mag hê, nie ‘n hindernis sal wees nie.
Dinsdag 17 Januarie: As gevolg van die uitdagende ekonomiese klimaat, kan baie leiers nie die “Inner Mongolia Leadership Training” in persoon bywoon nie. Bid asseblief dat dit hulle nie sal ontmoedig nie, maar dat hulle mekaar in die aanlyn-opleidingsessies sal bemoedig.
Woensdag 18 Januarie: FEBC Mongolië beplan om nog drie FM-stasies in 2023 te vestig. Bid dat God Sy guns aan hulle sal betoon en dat die plaaslike kerke aangemoedig sal word om radio-uitsendings te gebruik om meer mense met die evangelie te bereik.
Donderdag 19 Januarie: FEBC Mongolië bied op 10-12 Mei digitale media-werkswinkels aan. Bid asseblief dat die vennote, instrukteurs, en deelnemers wat moet reis om dit by te woon, veilig sal arriveer.
Vrydag 20 Januarie: ‘n Nuwe program rakende geestesgesondheid word tans uitgesaai aan luisteraars in Mongolië. Bid dat hierdie program gebruik sal word om genesing te bring en mense aan te moedig om te groei in hul geloof.
Saterdag & Sondag 21-22 Januarie: Bid asseblief vir die uitsendings pan, leiers en direkteure van FEBC Mongolië, dat God hulle die wysheid en krag sal gee om al hul planne vir die nuwe jaar getrou uit te voer.
Maandag 23 Januarie: Ons dank God vir al die suksesvolle byeenkomste in 2022 wat gelei het tot strategiese besluite waardeur FEBC en FEBA se visie in hierdie jaar kan groei. Bid asseblief dat God die bediening se planne sal seën en dat Hy deure sal oopmaak wat geen mens kan toemaak nie.
Dinsdag 24 Januarie: Al FEBC en FEBA se personeel is passievol daaroor om kontak met ons luisteraars te maak. Bid asseblief vir God se beskerming oor die personeel wat reis om luisteraars regoor die wêreld te ontmoet en hulle met die evangelie te bedien.
Woensdag 25 Januarie: Die wêreld probeer steeds herstel van die globale ekonomiese agteruitgang wat gelei het tot duurder brandstof, olie, kos, en ander basiese benodighede. Bid asseblief vir al die gesinne wat ly onder hul lande se ekonomieë en dat God verligting sal bring.
Donderdag 26 Januarie: Met ons jaarlikse Kersfees Radio-projek het FEBA Suid-Afrika genoeg fondse ingesamel om ongeveer 5000 radio’s aan te koop en te versprei. Een radio het die potensiaal om tot 50 mense te bereik. Bid dat die evangelie soos ‘n veldbrand deur die Horing van Afrika sal versprei.
Vrydag 27 Januarie: FEBA Suid-Afrika benodig ‘n energieke nuwe spanlid. Bid asseblief dat God die regte persoon sal stuur om die pos te vul en dat die kandidaat passievol sal wees oor die bediening en die werk wat dit doen vir God se koninkryk.
Saterdag & Sondag 28-29 Januarie: Bid dat God se seën ook hierdie jaar op FEBC en FEBA sal rus waar ons die evangelie deur middel van radio aan die mees afgeleë dorpies op aarde verkondig. Bid dat God Sy guns sal betoon wanneer nuwe lisensies benodig word en dat meer programme by al die uitsending stasies gevoeg sal word soos die aantal luisteraars toeneem.
Maandag 30 Januarie: Bid asseblief dat God leiding en krag sal verleen aan FEBC Indonesië se spanne wat passievol is oor hul gemeenskappe en ondersteuning bied waar dit nodig is.
Dinsdag 31 Januarie: Indonesië is ‘n groot nasie met 714 diverse etniese groepe. Bid asseblief dat God die regte persoon sal kies om die huidige president in 2024 te vervang, en dat die nuwe president Bybelse waardes en ‘n respek vir verskillende kulture sal hê.