Desember 2022
“Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking.“
– Jakobus 5:16 –
| Donderdag 1 Desember: Bid dat FEBC-Korea hul grense sal verbreed en die evangelie plaaslik en internasionaal deur verskeie media sal versprei om sodoende meer siele vir Christus te wen. Vrydag 2 Desember: Bid asseblief dat die Here deure sal open vir nuwe vennootskappe met kerke, besighede en individue wat passievol daaroor is om die kerk te sien groei en FEBC-Korea finansieel te ondersteun soos hulle nuwe stasies toevoeg. Saterdag & Sondag 3-4 Desember: Bid dat beide die 50ste herdenkingfees van die ’73 Billy Graham Seoul Crusade (3 Junie, 2023) en die 50ste herdenkingvieringe van FEBC-Korea se Jeju-stasie (8-9 Junie, 2023) God sal eer en ‘n geleentheid sal wees waar baie mense na die Here toe draai. . Maandag 5 Desember: Bid asseblief vir God se guns en genade op ons span in Suid-Afrika soos ons veranderinge ondergaan. Ons het onlangs twee nuwe personeellede verwelkom en bid dat God hul leiding sal gee in hul nuwe poste. Dinsdag 6 Desember: Bid asseblief vir die groei van ons bediening in Suid-Afrika en vir God se voorsiening sodat ons steeds die groeiende werk van ons Afrika-stasies kan ondersteun. Woensdag 7 Desember: Bid asseblief vir ons stasie in Malawi, Litala FM. Die land ly onder erge kragonderbrekings wat soms tot 12 ure lank kan duur. Daarom het ons begin werk om solar te installeer sodat uitsendings kan voortgaan. Donderdag 8 Desember: Prys God vir KanuYah FM se kragtige bediening aan die onbereikte mense in ‘n tyd van ernstige voedseltekort en konflik. Luisteraars ervaar daagliks God se werk in hul lewens, ten spyte van hul swaarkry. Bid asseblief dat meer mense God sal leer ken en hul lewens aan Hom sal gee. Vrydag 9 Desember: Ons prys God vir Sy getroue voorsiening aan ons bediening in Afrika, ten spyte van die ekonomiese uitdagings wat ons land teister. Bid asseblief vir God se seën op ons vriende en vennote wat maandeliks tot die bediening bydra met fondse en gebed. Saterdag & Sondag 10-11 Desember: Bid dat God ons uitsaaiers as invloedryke stemme sal gebruik in die Zambezi-gemeenskap, waar hulle twee nuwe stasies, Voice of Hope en Impact FM, se uitsendings geniet. Maandag 12 Desember: Soos ons die feestyd ingaan, loof ons die Here vir FEBC-Australië se bedieningspan en die diens van hul direkteure. Bid asseblief dat God hulle sal verfris en krag sal gee vir die nuwe jaar.Dinsdag 13 Desember: Bid asseblief dat God die regte persoon sal stuur vir FEBC-Australië, waar hulle ‘n behoefte het om hul kantore en bedieningswerk uit te brei.Woensdag 14 Desember: Prys God vir die groot toename in skenkings en algehele inkomste ten spyte van die moeilike omstandighede waarin baie Australiërs hulself bevind. Loof God vir Sy goedheid, vir die getrouheid van Sy mense en hul ondersteuning van FEBC. Bid dat ondersteuners deur God bemoedig sal word om allereers Sy koninkryk en wil te soek.Donderdag 15 Desember: Bid asseblief vir Australiërs, insluitend ons ondersteuners, wat deur moeilike tye gaan. Bid dat hulle na God sal draai as hul Voorsiener en so Sy liefde en goedheid sal ervaar. Australië is ook getref deur die wêreldwye styging in brandstofpryse. COVID-19, vloede en bosbrande het ook ‘n behuisingskrisis veroorsaak.Vrydag 16 Desember: Bid asseblief vir God se hand van beskerming oor die reddingswerkers in Australie wat help tydens die vloede en brande, sowel as die burgerlikes wat deur die rampe getref is.Saterdag & Sondag 17-18 Desember: In Australië word inperkings geleidelik opgehef, wat die FEBC-Australië span in staat stel om kerke te besoek en kontak te maak met mense wat FEBC nog nie ken nie. Bid asseblief dat meer mense met FEBC-Australië in verbinding sal tree en dat hul bediening ‘n toonbeeld van God se kragtige werk sal word. Maandag 19 Desember: Bid vir ons broers en susters in China. Baie van hulle loop deur onder streng wette wat deur die regering afgedwing word in ‘n poging om die Kerk te beheer. Bid dat God die Chinese gelowiges moed en wysheid sal gee. Mag Hy die FEBC personeel lei om die evangelie te versprei ten spyte van vervolging. Dinsdag 20 Desember: Bid asseblief vir die 443 onbereikte mensegroepe in China. ‘n Luisteraar deel: “Jul programme het my laat besef daar is Christene regoor die wêreld. Nou verwerp ek dit nie meer nie.” Bid dat meer mense soos hierdie luisteraar die Goeie Nuus sal hoor en Christenskap sal aanvaar. Woensdag 21 Desember: Bid asseblief vir God se beskerming in China, insluitende vir ons span en kollegas in Hong Kong. Ten spyte van COVID-19 se swaar impak het FEBC se aanlynprogramme rekord speel-en aflaaisyfers getref. Mag die evangelie na meer en meer mense in hierdie land versprei. Donderdag 22 Desember: Bid asseblief dat God gelowige mans en vroue in die Chinese regering sal plaas en dat hulle sal opstaan vir die Christelike geloof. Vrydag 23 Desember: China het ‘n bevolking van 1,457,801,933. Slegs 5,1% is Christene. Ons bid dat die Here die FEBC-span in China sal uitbrei sodat die oorblywende 94,9% die evangelie sal hoor en gered sal word. Saterdag & Sondag 24-25 Desember: Hoewel die COVID-19 inperkings deels opgehef is in China, is daar nog baie wat siek is. Bid asseblief dat God diegene wat aan of onder COVID-19 ly, sal aanraak en genees, en dat Hy die FEBC-China span veilig sal hou waar hulle hoop deur die evangelie versprei. Maandag 26 Desember: Ons is dankbaar vir al FEBC/FEBA se vennote, vriende en ondersteuners. Bid asseblief dat die Here almal sal seën wat die bediening regoor die wêreld so getrou ondersteun. Dinsdag 27 Desember: Bid asseblief vir FEBC se direksie, dat God hulle gesond sal hou en krag sal gee om met insig en wysheid te lei. Woensdag 28 Desember: Bid asseblief dat die Here ons stasies en uitsaaiers sal seën met nuwe insigte om met hul luisteraars te deel. Donderdag 29 Desember: Soveel mense regoor die wêreld moet nog die Goeie Nuus hoor. Bid saam met ons vir nuwe deure om oop te gaan sodat ons spanne nog meer mense wat God nodig het, kan bereik. Vrydag 30 Desember: Bid asseblief vir die geestelike, emosionele en finansiële welstand van elke persoon wat by FEBC en FEBA se bediening betrokke is. Saterdag 31 Desember: Terwyl die wêreld vir 2022 groet en die nuwe jaar verwelkom, bid ons dat God sal waak oor die visie wat Hy vir FEBA gegee het en dat Hy struikelblokke uit die weg sal ruim sodat die evangelie die verlorenes in 2023 sonder hindernisse sal bereik. ![]() Maak ‘n donasie op ons webwerf |






