Radio FEBA e-Gebedsgids Mei 2023

Maandag 1 Mei: FEBA Vietnam het onlangs ‘n jeugkamp, die ​​Mien en Kim Mun Jeugkamp, aangebied. Dit is deur meer as ‘n duisend jongmense bygewoon. Bid asseblief dat hierdie jongmense se verhouding met Christus sal groei; en dat hulle die vrymoedigheid sal hê om die liefde van die Here Jesus Christus met hul maats te deel.

MEI 2023

“Genade en vrede vir julle van God ons Vader en van die Here Jesus Christus.” – Romeine 1:7
  
 

 
Dinsdag 2 Mei: Prys die Here vir die goeie werk wat Hy doen deur FEBA Oekraïne. Die radiostasie het onlangs toestemming gekry om na die stad Ivano-Frankivsk in Wes-Oekraïne uit te saai. Die uitsending het die potensiaal om ‘n gehoor van sowat 700 000 mense te bereik.
 
Woensdag 3 Mei: “In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan Sy ewige heerlikheid. Nadat julle ‘n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel: Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak.” – 1 Petrus 5:10
 
Donderdag 4 Mei: FEBA brei voortdurend uit en lei sy leiers gereeld op. Bid asseblief vir die veiligheid van die leiers wat van regoor die wêreld na Thailand vlieg om ‘n opleidingskonferensie by te woon. Bid vir eenheid en goeie gesindheid; en dat  kennis en vaardighede uitgeruil sal word, veral op die gebied van digitale media.
 
Vrydag 5 Mei: Hou asseblief aan om te bid vir die veiligheid en welstand van die uitsaaiers van FEBA Oekraïne terwyl die oorlog voortduur.
 
Saterdag & Sondag 6 – 7 Mei: Die republiek van Boerjatië bestaan ​​tradisioneel uit Boeddhisme, animisme en voorvaderlike aanbidding. Ten spyte van die tradisioneel oorheersende godsdienste en die wreedaardige oorlog, groei FEBA Rusland se bediening steeds. Bid asseblief dat God hulle die genade en guns sal voorsien wat nodig is om diegene te bereik wat desperaat is vir hoop.

   
Maandag 8 Mei: Die FEBA-uitsendings van Suid-Korea word uitgesaai na Japan sowel as na twee ander lande in Oos-Asië waar toegang beperk is. Bid dat hierdie beperkings opgehef sal word en dat die uitsendings die lewens sal aanraak van duisende wat in hierdie militêr-beheerde lande woon.
 
Dinsdag 9 Mei: FEBA Taiwan het ‘n toekenning ontvang van die regering, genaamd  ‘Uitstekende Godsdiensorganisasie’. Hierdie toekenning word gewoonlik aan tempels gegee en selde aan ‘n Christelike organisasie. Ons loof God vir die personeel en vrywilligers van FEBA Taiwan en die uitstekende werk wat hulle doen.
 
Woensdag 10 Mei: “Die Here is barmhartig en genadig, lankmoedig, vol liefde.” – Psalm 103:8
 
Donderdag 11 Mei: Bid asseblief vir stabiliteit in Jemen waar die mense oorweldig word deur krisisse. Bid dat God aan die armes sal voorsien en dat Sy beskerming sal rus op almal wat Jesus in die geheim volg.
 
Vrydag 12 Mei: Bid asseblief dat daar vrede na die Midde-Ooste sal kom en dat elkeen wat homself bo die naam van Jesus Christus wil verhef, tot niet gemaak sal word. Bid dat die miljoene Moslems die evangelie sal hoor en aangemoedig word om hulle lewens aan die Here Jesus te gee.
 
Saterdag en Sondag 13 – 14 Mei: Pakistan is bekend daarvoor dat sy mense Islamitiese ekstremiste is en Christene vervolg. Ten spyte van die potensiële gevare wat om elke hoek en draai skuil, saai die personeel van FEBA Pakistan getrou elke dag die Goeie Nuus uit. Bid asseblief dat FEBA Pakistan sal uitbrei en dat hul reikwydte in Pakistan sal aanhou vergroot. Bid dat ‘n vyfde stasie geopen kan word as gevolg van ‘n groter aanvraag.

   
Maandag 15 Mei: FEBA het sy bedrywighede verskuif en fokus nie meer op die land nie, maar poog nou om Sjinese etniese groepe in die algemeen te bereik. Bid vir wysheid en guns by regerings- en media-owerhede terwyl FEBA Sjina met hul goeie werk voortgaan, ten spyte van die teenkantings wat hulle in die gesig staar.
 
Dinsdag 16 Mei: “Julle het my gehelp om die boek van Romeine beter te verstaan. Julle het my geleer van die bevryding van sonde deur middel van geloof. Ek het gesien hoe baie mense in my dorpie bevry is van die krag van bose geeste toe hulle in Jesus begin glo het…” – G S, Cao Bang, Viëtnam.
 
Woensdag 17 Mei: “Die Here julle God is ganadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.” – 2 Kronieke 30:9
 
Donderdag 18 Mei: Bid asseblief dat God sal voortgaan om FEBA Indië se impak te vergroot en dat getroue vennote gestuur sal word om te help om die visie  te laat groei om verlorenes deur middel van radio en sosiale media te bereik.
 
Vrydag 19 Mei: Bid asseblief dat God FEBA Taiwan die guns en kreatiwiteit sal voorsien om nog twee programme hierdie jaar van stapel te stuur wat vrugbaar sal wees. Bid dat dit mense sal aanmoedig om hul harte vir Jesus Christus te gee.
 
Saterdag & Sondag 20 – 21 Mei: FEBA Taiwan is een van vyf produksiesentrums en vervaardig twaalf programme in Mandaryns. Bid asseblief dat God elke program sal seën wat deur FEBA Taiwan vervaardig en uitgesaai word; en dat dit die mense sal bereik wat dit veronderstel is om te bereik, sonder enige hindernis. 
 
Maandag 22 Mei: Bid asseblief dat God die harte sal versag van almal wat  Christene vervolg, veral die luisteraars van FEBA regoor die wêreld. Ons bid dat die Heilige Gees Christus aan hulle sal openbaar en dat hulle gered sal word.
 
Dinsdag 23 Mei: Die personeel van FEBA Thailand reis dikwels na Mianmar om luisteraarsklubs te besoek en radio’s te versprei asook SD-kaarte wat vooraf met die evangelie gelaai is. Prys God vir die toenemende vraag na radio’s en SD-kaarte en dat die luisteraars gretig is om meer van die Goeie Nuus te hoor.
 
Woensdag 24 Mei: “Jy dan, my seun, wees sterk in die genade wat ons in Christus Jesus het.” – 2 Timoteus 2:1
 
Donderdag 25 Mei: Bid asseblief vir die luisteraars van FEBA Mianmar en dat God vrywillige skenkers sal stuur sodat meer SD-kaarte en radio’s gekoop kan word vir verspreiding. Hoe meer radio’s en SD-kaarte versprei word, hoe meer mense kan van die Here en Verlosser, Jesus Christus, hoor!
 
Vrydag 26 Mei: Bid asseblief dat God meer vrywilligers en personeellede sal stuur wat bereid is om uit te gaan en die Goeie Nuus van Jesus Christus aan al die onbereikte en afgesonderde etniese groepe in Suidoos-Asië te verkondig.
 
Saterdag & Sondag 27 – 28 Mei: FEBA Mianmar fokus hoofsaaklik op nie-gelowiges, maar help ook hul Christelike luisteraars deur gereeld met hulle op te volg en hulle met ander gelowiges te verbind. Bid asseblief vir die span van FEBA Mianmar en dat hul invloed onder die etniese nie-gelowiges sal toeneem, sodat meer mense hul lewens aan Christus sal gee.
 
Maandag 29 Mei: Bid asseblief vir elke skenker en voorbidder van FEBA en dat die seën van God op hulle en hul gesinne sal rus omdat hulle God se koninkryk soek.
 
Dinsdag 30 Mei: Herstelwerk het begin by die FEBA-stasies in Malawi en Mosambiek. Ons loof God vir Sy genade en dat Hy voorsien het gedurende hierdie tyd van herbouing.    Maak ‘n donasie op ons webwerf