NOVEMBER 2023
“Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon”
(Johannes 14:23 Afr83)
Woensdag 1 November: “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ’n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin.” (1 Johannes 5:3-4 Afr83) Donderdag 2 November: Bid vir FEBA Oekraïne en al die kerke wat saam met hulle werk om God se Woord te versprei. Bid dat God hul krag en hoop elke dag sal vernuwe, en dat hulle lewende voorbeelde van God se genade aan die mense van Oekraïne sal wees. Vrydag 3 November: FEBA Tsjad het ‘n nuwe direkteur, en die stasie verhuis na ’n nuwe perseel toe. Bid dat die trek glad sal verloop en dat God die span deur die veranderinge sal lei, sodat hulle so gou as moontlik weer kan begin uitsaai. Saterdag & Sondag 4-5 November: Mensehandel is een van die grootste euwels op aarde. Daar is op enige gegewe tydstip ‘n geraamde 27 miljoen slagoffers ter wêreld. Mensehandelaars teiken mense wat kwesbaar is weens armoede of ’n gebrek aan kennis. FEBA beveg mensehandel deur mense in te lig deur middel van hul programme en bewusmakingsveldtogte. Die kinderhandel in Indonesiese dorpies het afgeneem, en in Indië is ’n FEBA-luisteraar gered nadat sy as prostituut verkoop is! Bid dat God FEBA sal gebruik om mensehandel te bekamp en meer slagoffers te red. Maandag 6 November: Prys God vir die nuwe kerke wat met FEBA Indië begin saamwerk het! Bid dat Hy hulle sal lei in die besluite wat hulle neem en hul werk sal seën. Bid ook dat FEBA Indië se span krag en inspirasie van God sal kry wanneer hulle nuwe inhoud vir hul luisteraars skep. Dinsdag 7 November: Ek was voorheen getroud … maar toe verlaat my man my, en ek was platgeslaan! My pa, wat na jul radiostasie luister, het my aangemoedig om saam met hom te luister en van God te leer. Mettertyd het ek in Christus begin glo, en van toe af bestudeer ek die Bybel saam met jul aanbieder. Ek dank God vir jul uitsendings! (Luisteraar in Laos) Woensdag 8 November: “Daarmee vernietig ons die redenasies en elke hooghartige aanval wat teen die kennis van God gerig word. Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.” (2 Korintiërs 10:4b-5 Afr83) Donderdag 9 November: Belarus is een van menige lande wat tans politieke onrus ervaar. Ten spyte hiervan gebruik God FEBA Rusland se programme om ’n toenemende aantal jongmense in Belarus deur sosiale media te bereik. Bid dat meer mense sal inskakel en Christus as hul Redder sal aanvaar. Vrydag 10 November: FEBA Radio Suid-Afrika ondersteun stasies in Mali, Mosambiek, Malawi en Tsjad. Bid dat God die span die nodige krag en fokus sal gee om uitnemende werk te lewer, en dat hulle getrou aan Hom sal bly in alles wat hulle doen. Saterdag & Sondag 11-12 November: Tegnologie is sentraal tot FEBA se werk – van radiotorings en senders tot rekenaarhardeware en -sagteware. FEBA se tegniese ondersteuningspanne is dus ‘n onontbeerlike deel van die organisasie. IT-personeel en ingenieurspanne reis die wêreld vol om nuwe stasies te help oprig en die Goeie Nuus op die lug te hou. Bid dat God hulle sal bewaar en die wysheid sal gee om enige probleme wat opduik, te kan oplos. Bid ook dat Hy sal sorg dat FEBA altyd die regte mense vir die taak het. Maandag 13 November: Bid vir FEBA Pakistan. Die oorheersing van Islam maak dit moeilik en eensaam om ’n Christen in dié land te wees. Talle Christene vind troos in FEBA se uitsendings. Bid dat God FEBA Pakistan se programme sal gebruik om Sy krag en teenwoordigheid onder luisteraars bekend te maak. Dinsdag 14 November: “Ek is geslaan vir my geloof en vir my diens aan die Here, maar ek beskou dit as ’n seën en eer! Hoewel ons met beproewinge, vervolging en die magte van die duisternis te doen kry, weet ons dat God ons sal beskerm en bemoedig. Onthou ons asseblief in jul gebede.” (Luisteraar in Viëtnam) Woensdag 15 November: “Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Johannes 14:23 Afr83) Donderdag 16 November: Islamitiese ekstremiste het onlangs op FEBA Mosambiek se direkteur geskiet terwyl hy bestuur het. Dit het ’n ongeluk veroorsaak, maar hy is nie ernstig beseer nie. Ten spyte van die gevaar, hou FEBA Mosambiek se bediening aan groei en floreer. Bid dat God die span sal bewaar en voorsien wat hulle nodig het. Vrydag 17 November: Bid vir FEBA Mali. Die span werk ywerig ten spyte van die politieke onrus en vervolging. KanuYah FM Sollo word deur beide gelowiges en nie-gelowiges as ’n top-kwaliteit radiostasie beskou. Bid dat God luisteraars se harte sal oopmaak om die Goeie Nuus deur FEBA Mali se programme te ontvang. Saterdag & Sondag 18-19 November: In Rusland is godsdiensvryheid gedurig onder bedreiging. Bid vir FEBA Rusland se span wat hard werk om te bedien onder moeilike sosiale en politieke omstandighede. Bid vir die beradingspanne, wat meer en meer oproepe ontvang vanaf mense wat moeilike vrae vra en hartverskeurende stories deel. Bid ook vir Dr Viktor Akhterov, Direkteur van FEBA Eurasië, wat die spanne van FEBA Rusland en FEBA Oekraïne in hierdie moeilike tye moet lei. Maandag 20 November: Ten spyte van ‘n toename in inperkings, gaan FEBA Hong Kong voort om die Goeie Nuus te deel. Hul Bybel-onderrig bereik ’n wyd uitgestrekte gehoor in China. Bid dat God vir die FEBA Hong Kong-span nuwe maniere sal wys om hul bediening voort te sit te midde van vervolging, en dat dié wat hoor, Christus sal aanvaar. Dinsdag 21 November: “Ons is baie dankbaar vir FEBA wat vir ons die Goeie Nuus van Jesus Christus bring met hul Way of Life-program. Hier in Nyambi sluit daar baie mense, jonk en oud, by ons luisteraarklub aan en dit groei meer as wat ons ooit sou kon dink.” (Luisteraar in Malawi) Woensdag 22 November: “Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.” (Jakobus 1:22 Afr83) Donderdag 23 November: FEBA Kambodja doen moeite om na afgeleë dorpies te reis om hul luisteraars persoonlik te ontmoet. Bid dat God die span veilig sal hou en hulle sal seën met kreatiwiteit in hul pogings om die Goeie Nuus met onbereikte mense in Kambodja te deel. Vrydag 24 November: FEBA Suid-Afrika werk daaraan om ‘n radiostasie in Niger te vestig. Bid dat God die pad gelyk sal maak sodat die stasie teen die einde van die jaar op die lug kan wees om God se Woord met die mense van Niger te deel. Saterdag & Sondag 25-26 November: FEBA poog om die evangelie in elkeen se moedertaal, aan alle mensegroepe beskikbaar te stel. Spanne werk daaraan om preke te vertaal en nuwe inhoud te skep in verskillende etniese tale wat deur minderheidsgroepe, soos die Yao of die Hmong, gepraat word. Bid dat God FEBA se personeel wysheid sal gee in die skep van programme vir etniese minderheidsgroepe, en dat Hy geleenthede sal voorsien vir die programme om mense in afgeleë gebiede te bereik. Bid ook dat Hy luisteraars se harte sal voorberei om die Goeie Nuus te ontvang. Maandag 27 November: Bid dat God vir FEBA Thailand geleenthede sal voorsien om saam met Thai kerke te werk. Kerke kan geestelike groei aanhelp nadat mense die Goeie Nuus deur FEBA gehoor het. Bid dat luisteraars se harte oop sal wees vir FEBA se boodskap en dat hulle betrokke sal raak by die nuwe inhoud wat die span skep. Dinsdag 28 November: “Ek is dankbaar teenoor Krusa FM dat hulle my leer hoe om ’n goeie ma en vrou vir my gesin te wees. Ek waardeer hoe goedhartig en behulpsaam Krusa FM teenoor my is.” (Luisteraar in Kambodja) Woensdag 29 November: “Ek wil nou ’n baie ernstige versoek tot julle rig. Ek doen dit omdat julle begryp hoe baie God vir julle omgee. Gee julle hele lewe aan Hom. Julle moet lewende offers in God se hand wees. ’n Lewe wat voltyds afgesonder is vir Hom is presies waaroor godsdiens gaan.” (Romeine 12:1 DB) Donderdag 30 November: Bid vir FEBA leiers reg oor die wêreld. Hulle moet spanne deur ’n tyd lei wat gekenmerk word deur oorlog, verdrukking, ekonomiese swaarkry en wanhoop. Bid dat hulle getrou aan God se roeping sal bly en hul krag van Hom sal kry, sodat FEBA kan aanhou om God se Woord uit te saai … totdat almal gehoor het. Maak ‘n donasie op ons webwerf |





