Radio Feba – Gebedsfokus vir Augustus 2023

AUGUSTUS 2023“Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.” – Psalm 4:9
 Dinsdag 1 Augustus: “KanuYah FM Sollo is ongetwyfeld ‘n bron van wysheid en seën vir almal. Dis so gewild dat selfs ongelowiges van die Christelike liedjies, stories en dramas hou. Bowenal troos dit die gebroke harte van talle gesinne wat treur oor geliefdes wat in die stryd vermoor is.” – Fatamba, FEBA Mali luisteraar
 
Woensdag 2 Augustus: “U regeer in vrede oor ons, Here, U doen alles vir ons.” – Jesaja 26:12 AFR83

Donderdag 3 Augustus: Bid vir Mianmar. Hierdie land met sy 55 miljoen inwoners, is na raming een van die armstes ter wêreld, en sy mense ly nog meer as gevolg van die voortdurende militêre konflik. Bid dat mense God se vrede en hoop deur FEBA Mianmar sal vind.
 
Vrydag 4 Augustus: Bid vir FEBA Indonesië. Meer as 80% van Indonesië se bevolking beoefen Islam en meer as 190 miljoen mense is steeds onbereik. Bid dat God FEBA Indonesië se span sal lei wanneer hulle die Goeie Nuus met luisteraars deel.
 
Saterdag & Sondag 5-6 Augustus: Die vervolging van Christene word dikwels deur vrees en misverstand aangespoor. Mense sien Christenskap as ’n Westerse geloof wat ’n negatiewe uitwerking op hul kultuur en gemeenskap kan hê. FEBA se programme is daarop gemik om luisteraars in te lig en hulle te wys dat die Goeie Nuus werklik goed is. Bid dat FEBA-spanne reg oor die wêreld ingrypende verandering in hul lande sal meebring.
   Maandag 7 Augustus: Bid vir Noord-Korea. Die mense daar ly aan fisiese en geestelike hongersnood. Die FEBA Korea-span neem Noord-Koreaanse oorlopers in diens om vir hulle inhoud te help skep wat die Goeie Nuus op ’n manier kan deel sodat dit tot Noord-Koreane spreek. Bid dat hul harde werk baie vrug sal dra.
 
Dinsdag 8 Augustus: In Rusland en die Oekraïne het die oorlog sover baie huwelike gekos. Ná ’n mislukte selfmoordpoging, toe sy vrou hom gelos het, het een man saam met FEBA se beraders gebid. “Die gebed was die beste deel van die hele konsultasie,” sê hy. “Ek kan vreugde in my hart voel. Ek glimlag selfs!”
 
Woensdag 9 Augustus: “Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.” – Psalm 4:9 AFR83
 
Donderdag 10 Augustus: Wanneer mense met ’n Moslem-agtergrond besluit om Christus te volg, word hulle gewoonlik onteien – en soms fisies mishandel – deur hul families en gemeenskap. FEBA bedien Moslems in talle lande. Bid dat God FEBA sal gebruik om sy luisteraars moed te gee en vertroosting te bied.
 
Vrydag 11 Augustus: Prys God vir die aanstelling van Sumet Techarukpong as Nasionale Direkteur van FEBA Thailand. Bid dat God hom die wysheid sal gee om die span in hul lewensveranderende bediening te lei, en die krag om elke uitdaging op sy pad te oorkom.
 
Saterdag & Sondag 12-13 Augustus: Bid dat die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne tot ‘n einde sal kom. Vier van FEBA Oekraïne se span dien tans in die weermag – twee as kapelane en twee as soldate. Bid dat die Here hulle veilig aan hul gesinne sal terugbesorg, en dat Hy mense sal bewaar teen die toenemende geweld. Mag die vier lede van ons FEBA-familie ‘n kragtige impak hê op dié wat hulle ontmoet, dat hulle beide vriende en teenstanders na Christus toe sal lei.
   Maandag 14 Augustus: FEBA werk saam met plaaslike kerke, waar moontlik. Wanneer mense tot bekering kom deur FEBA se uitsendings, dien kerke in hul omgewing as plekke waar hulle van dissipelskap en geestelike samesyn kan leer. Bid dat FEBA sterk verhoudings met kerke sal bou om God se liefde met meer mense te deel.
 
Dinsdag 15 Augustus: “As ek nie jul programme gehad het om na te luister nie, het ek teen dié tyd al my lewe geneem. Ek het die Here deur FEBA leer ken en nou is my lewe baie anders.” – Luisteraar uit Laos
 
Woensdag 16 Augustus: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” – Matteus 11:28 AFR83
 
Donderdag 17 Augustus: FEBA Kasakstan werk aan ‘n videoreeks oor Jesus se lewe. Bid dat die reeks baie kykers sal lok en hulle na Christus sal lei. Bid dat FEBA Kasakstan ‘n bron van troos en hoop vir mense sal wees te midde van die voortdurende politieke onrus.
 
Vrydag 18 Augustus: Bid vir FEBA China en FEBA Hong Kong, wat programme moet vervaardig ten spyte van inperkings wat al hoe erger raak. Bid dat die regerings hierdie inperkings sal verlig en dat God mense se harte sal oopmaak om die Goeie Nuus te ontvang.
 
Saterdag & Sondag 19-20 Augustus: Het jy geweet? Daar is 300,000 sprekers van die Karakalpak- taal. Die Karakalpak-mensegroep, in noordwes-Oesbekistan, is deel van die Isa (Jesus) Resurrection projek se teikengehoor. Hierdie projek reik uit na Moslems waar openbare evangelisasie onwettig is. FEBA-spanne vervaardig radioprogramme oor die daaglikse lewe, sowel as video-getuienisse, Bybelgeskiedenis en Bybelstories vir sosiale media. Elke getuienis-video word gemiddeld 50,000 keer gekyk. Bid dat God die spanne sal seën in hul pogings om die Goeie Nuus reg oor Sentraal Asië te verkondig.  Maandag 21 Augustus: Bid vir FEBA Kirgisië. Hulle bedien luisteraars wat in liefdelose huwelike vasgevang is en soms mishandel word, en wat sukkel om gesinne groot te maak in ‘n slegte
ekonomiese klimaat. Bid dat God vir FEBA Kirgisië sal gebruik om hul luisteraars te troos en na Hom toe te lei.
 
Dinsdag 22 Augustus: “My vrees is weg nadat ek hierdie konferensie bygewoon het…Jesus Christus se wonderbaarlike leringe in die Bybel het my hart diep geraak. Ek gaan dit met my gesin deel sodra ek by die huis kom.” – Bywoner van die FEBA Pakistan Nasionale Leierskonferensie, vir luisteraars wat meer oor Christenskap wou weet.
 
Woensdag 23 Augustus: “Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.” – Johannes 16:33 AFR83
 
Donderdag 24 Augustus: Inna, ‘n aanbieder by FEBA Oekraïne, lei ‘n weeklikse byeenkoms vir vroue waar hulle Bybel lees, bid en oor God gesels. “Sommige van die vroue gaan nou vir die eerste keer kerk toe,” sê Inna. Bid dat hierdie vroue oorvloedige vrede, hoop en liefde in God sal vind.
 
Vrydag 25 Augustus: Bid vir FEBA Mali. Die land loop swaar deur onder Islamitiese ekstremiste, politieke onstabiliteit en armoede. Tog, hoewel die bevolking merendeels Moslem is, bou KanuYah  FM Sollo (FEBA Mali) ‘n reputasie vir sulke uitstekende inhoud, dat selfs nie-Christene dit geniet! Bid dat God elke luisteraar se hart sal aanraak.
 
Saterdag & Sondag 26-27 Augustus: FEBA gebruik allerhande kanale en tegnologie om die Boodskap te versprei, of dit nou sonkrag-radio’s of sosiale media is. Gospel Speaker Boxes is sover besonder effektief onder etniese groepe in Suidoos-Asië. Elke toestel bevat meer as 130 uur se vooraf-gelaaide programme sodat mense daarna kan luister wanneer hulle wil. Bid dat God genoeg klanktoestelle sal voorsien om elke siel in Suidoos-Asië te bereik, en dat siele gered sal word deur wat hulle hoor.
 
Maandag 28 Augustus: Bid vir FEBA Korea, wat na Noord- en Suid-Korea uitsaai. Alhoewel Suid- Korea op papier welvarend is, is die selfmoordsyfer besonder hoog en baie mense sukkel met hul geestesgesondheid. Bid dat FEBA Korea hul luisteraars na die Bron van troos sal lei.
 
Dinsdag 29 Augustus: “Terwyl ek in my hospitaalbed lê, het ek begin draai na die God waarvan jul programme praat. Ek het God gevra om my sondes te vergewe. Julle was heeltyd met my, al weet julle dit nie! Julle was die grootste hulp in my herstel. Julle is werklik van God af!” – FEBA Rusland luisteraar
 
Woensdag 30 Augustus: “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”  – Romeine 12:18 AFR83
 
Donderdag 31 Augustus: Bid vir FEBA Oekraïne. Een van die span, Evgeny, bedien tans soldate in die ooste van Oekraïne. Bid vir sy veiligheid en dat God hom krag sal gee om diegene rondom hom te help. Bid dat God FEBA Oekraïne se uitsendings sal gebruik om wonde wat deur die oorlog veroorsaak is, te genees.