Radio FEBA E-Gebedsfokus vir Oktober 2023

OKTOBER 2023
“En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.”
(Markus 11:25 Afr83)

 
Maandag 2 Oktober: FEBA Indonesië het begin om maandelikse aanbiddingsdienste by tronke te hou. Loof die Here vir die geleentheid om uit te reik na dié wat Sy liefde nodig het, en bid dat Hy die span sal gebruik om radikale verandering te bring in the gevangenes wat die dienste bywoon.

Dinsdag 3 Oktober: “Ek voel nou gelukkig en gewillig om oor my ervaring te praat. Toe ek aanvanklik tronk toe gekom het, het ek erg gely. Maar toe ontmoet ek God hier en nou het ek baie hoop.” (Luisteraar van Thailand)

Woensdag 4 Oktober: “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.” (Efésiërs 4:32 Afr53)

Donderdag 5 Oktober: Vervolging is dikwels die gevolg van misverstande. FEBA Pakistan bied seminare aan vir luisteraars wat meer oor Christenskap wil weet. Van die deelnemers het getuig dat die waarheid hul vrese verlig het! Bid dat FEBA Pakistan toegelaat sal word om in veiligheid te bedien en dat hul bediening baie vrug sal dra.

Vrydag 6 Oktober: Bid vir FEBA Malawi. Die span werk hard om die Waarheid van Christus onder Yao-luisteraars te versprei. Hulle reis wyd en syd om mense te besoek, Bybels uit te deel en luisteraarklubs te stig. Bid vir die span se veiligheid en dat God alles sal voorsien wat hulle benodig om effektief te bedien.

Saterdag & Sondag 7-8 Oktober: Prys God vir die miljoene luisteraars wat die Goeie Nuus al deur FEBA se radiostasies, internet-uitsendings, klanktoestelle en sosiale media-bediening gehoor het. Ongeag die land, taal, kultuur en uitdagings – ons is almal een in Christus. Bid dat ons Vader Sy teenwoordigheid onder Sy kinders bekend sal maak, en hulle die moed sal gee om die waarheid te deel met dié wat oor hul pad kom. 
 
Maandag 9 Oktober: Die oorlog in die Oekraïne het talle mense tot nou toe gebroke en sonder hoop gelaat. FEBA Oekraïne hou aan om na mense uit te reik deur middel van radio, internet, sosiale media en hul beradinghulplyn, om die boodskap van God se liefde en verlossing te deel. Bid dat hul luisteraars hoop en troos in Christus sal vind.

Dinsdag 10 Oktober: “Vanweë drie jaar se luister na jul radioprogramme, weet ek dat Christenskap nie ‘n bygeloof is nie, maar ware godsdiens. Ek het besluit om my lewe aan Christus te wy.” (Luisteraar uit China)

Woensdag 11 Oktober: “En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.” (Markus 11:25 Afr83)

Donderdag 12 Oktober: FEBA Kazakstan is besig om ’n sterk internet-gebaseerde bediening op die been te bring, met video’s op YouTube en TikTok wat deur duisende (onder andere Moslems) gekyk word. Bid dat die Here die span sal seën met die inspirasie, kreatiwiteit en energie wat hulle benodig om die Goeie Nuus in hul land te verkondig.

Vrydag 13 Oktober: Loof God vir Impact Radio se nuwe toring. Met n hoogte van 56 meter sal die Goeie Nuus voortaan meer mense in Sentraal-Mosambiek kan bereik. Bid ook vir die FEBA Mosambiek-span se veiligheid wanneer hulle in gebiede bedien waar daar aanvalle deur ekstremiste voorkom.

Saterdag & Sondag 14-15 Oktober: Die Filippyne beleef ’n besonder verwoestende tifoonseisoen, met gereelde vloede en skade aan infrastruktuur. FEBA het twee enorme kortgolfstasies by Iba en Bocaue wat uitsaai na Oos-Asië, Rusland en Suidoos-Asië. Bid vir die Filipino-mense wat hul huise of geliefdes verloor het. Bid ook dat God Sy hand oor die stasies en FEBA Filippyne se span sal hou, sodat die Goeie Nuus kan aanhou om diegene te bereik wat dit moet hoor. 
 
Maandag 16 Oktober: FEBA Indonesië het onlangs twee webtuistes geloods wat ontwerp is om luisteraars op ’n indirekte manier te bereik in gebiede met radikale Islamiste. Bid dat die webtuistes die waarheid van Christus suksesvol sal versprei en dat FEBA Indonesië se bediening oorvloedige seën sal ervaar.

Dinsdag 17 Oktober: “God seën ons! Selfs terwyl ons hierdie ongelooflike omstandighede in die gesig staar, is ons bediening nou meer effektief as ooit tevore!” (Luisteraar uit Rusland)

Woensdag 18 Oktober: “Ons sondes het ons ingehaal, maar U maak ons daarvan vry.” (Psalm 65:4 Afr83)

Donderdag 19 Oktober: Op Daebu-eiland, Suid-Korea, is daar ’n kragtige AM-radiostasie wat die hele Noord-Korea bereik. FEBA Korea werk saam met oorlopers om spesiaal vir Noord-Koreaanse luisteraars inhoud te skep. Dank God vir hierdie stasie en bid dat Noord-Koreane die Goeie Nuus sal hoor en aanvaar.

Vrydag 20 Oktober: Bid vir FEBA Tsjad. Die radiostasie skuif na ’n nuwe perseel en die span kry ook ’n nuwe leier. Prys God vir die geleenthede wat Hy voorsien en bid dat die veranderinge glad sal verloop, sodat die bediening kan groei en vrug dra.

Saterdag & Sondag 21-22 Oktober: In Thailand, waar Boeddhisme oorheersend is, doen meer as 20,000 studente FEBA se Bybel-korrespondensiekursus. Baie van die studente is in die tronk en het Christus gevind deur die Bybel te bestudeer. Bid dat die studente God se Woord met oop harte en denke sal bestudeer, en dat selfs dié in die tronk, die vryheid wat in Christus is, sal beleef. 
 
Maandag 23 Oktober: In Kirgisië word jong meisies soms ontvoer en gedwing om te trou. Armoede speel ’n groot rol in dié onwettige gebruik. Sommige van FEBA Kirgisië se vroue-luisteraars is vasgevang in liefdelose huwelike wat op hulle afgedwing is. Bid dat God hulle sal troos en hul verhoudings deur FEBA Kirgisië se uitsendings sal genees.

Dinsdag 24 Oktober: “Ons dienste en byeenkomste vind onder ’n boom plaas wanneer dit nie reën nie. KanuYah FM Sollo het terselfdertyd ons onderwyser, ons pastoor en ons biblioteek geword.” (Luisteraar uit Mali)
Woensdag 25 Oktober: “Moenie oordeel nie, en oor julle sal nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, en julle sal nie veroordeel word nie. Spreek vry, en julle sal vrygespreek word.” (Lukas 6:37 Afr83)

Donderdag 26 Oktober: Bid vir FEBA Kambodja. Die span reis dikwels om luisteraars te ontmoet en radio’s uit te deel. Bid dat die onbereikte mense in Kambodja die Goeie Nuus sal verwelkom en geseën sal word met die lewe wat in Hom is.

Vrydag 27 Oktober: In Laos word Christene dikwels van hul stamme afgesny. Vroeër vanjaar is sommige uit hul dorpie gedryf. FEBA Laos saai die evangelie uit deur mp3-spelers, kortgolfradio en Facebook Live. Bid vir God se krag en beskerming vir Lao Christene, en dat meer mense Christus as Verlosser sal ontvang.

Saterdag & Sondag 28-29 Oktober: Hoflikheid en ’n goeie beeld is sentraal tot Japannese kultuur. Dit maak sommige mense huiwerig om vrae oor God en Christenskap te vra, want hulle is bang om in die verleentheid gestel te word. Teenstand van hul Boeddhistiese gesinne weerhou mense ook daarvan om Jesus te aanvaar. Bid dat FEBA Japan se luisteraars veilig sal voel om van God te leer en om die evangelie met hul geliefdes te deel. 
 
Maandag 30 Oktober: Indië se jongmense sukkel toenemend met hul geestesgesondheid…veral studente. FEBA Indië werk hard om die evangelie te verkondig aan die 95% van die bevolking wat steeds onbereik is. Bid dat meer jongmense FEBA Indië se programme sal vind en van God se lewensveranderende liefde sal leer.

Dinsdag 31 Oktober: “Halleluja! Gister, deur jul uitsending, het my ma Christus as haar Verlosser aanvaar. Ek is baie dankbaar teenoor FEBA.” (Luisteraar uit Suid-Korea)    Maak ‘n donasie op ons webwerf