Sinodale nuusbrief: Wes-Kaap Vrydag 10 Maart 2023

NG-Wes-en-Suid-Kaapland_03_03

Lees deur internet, klik hier >>10 Maart 2023kommunikasie@kaapkerk.co.za

Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Groot-Brakrivier  
  SINODENUUS
 
Die storie agter die sinodelogo
Die 2023 Sinodesitting spog met ‘n kleurvolle logo wat deur die grafiese kunstenaar Lizanne Jordaan ontwerp is. Daar is egter baie simboliek en dinkwerk agter die protea. In die abstrak is daar gekyk na ‘n kaleidoskoop om die diversiteit van die Wes-Kaap vas te vang, maar terselfdertyd vorentoe te kyk met God as ons middelpunt. Uiteindelik het sy haar inspirasie gekry in die unieke inheemse plantegroei in die Wes-Kaap soos ons fynbos. Uiteindelik het sy die vorm van proteablare gebruik om die Drie-eenheid en vyf bewegings tydens die sinode uit te beeld met ‘n kleurvolle palet om ons ankergedagte Christus, ons vreugde! te vergestalt. Klik hier om haar visiebord en ontwerpproses te sien.  Geloofsbriewe en inligtingsvorms
Afgevaardigdes word daaraan herinner dat die sperdatum vir die voltooiing van die inligtingsvorm Dinsdag 14 Maart is. Klik op die grafika hieronder om die aanlynvorm in te vul. Dit is ook beskikbaar op https://www.kaapkerkadmin.co.za/ onder Sinodesitting 2023.Let asseblief dat Artikel 33.4 bepaal dat geloofsbriewe sowel as inligtingsvorms ingedien MOET word.  
Nuwe Saakgelastigde 
Die Sinode van Wes-Kaapland het ‘n nuwe persoon in die kantoor van die Saakgelastigde. Na die bedanking van mnr. Stephan Pretorius, het die moderatuur besluit om ‘n tussentydse reëling te tref en onmiddelik vir Charl Stander te vra om die posisie van waarnemende saakgelastigde te aanvaar.Charl het op 28 Februarie geëmeriteer as leraar, nadat hy vir 37 jaar in die bediening by NG Kerk Kraaifontein Parke was. Hy en sy vrou Ilna het hulle in die Paarl gaan vestig. Charl is tans nog die aktuarius van die sinode en gaan ook hierdie funksie bly vervul tot na die sinodevergadering in Mei. Charl se verantwoordelikheidsin is sodanig dat hy besef het die kerk het hom nodig en dat hy oor besondere kundigheid beskik om spoedig in die rol van saakgelastigde in te pas. Hy het reeds op Maandag 6 Maart met sy nuwe werk begin.  Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, skryf dat hulle baie dankbaar is dat Charl die oorgangsrol sal vervul. “Sy kennis van die sinodale sisteem, maar veral ook van die gemeentes van ons sinode, maak van Charl ‘n besonderse bate in al die spanne waarin hy funksioneer.  Hy is ewewigtig en weldeurdag, het wysheid en begrip en sal sterk leiding kan gee aan die personeel, asook die gemeentes wat advies benodig.  Ons sien baie uit na die nuwe tyd saam met Charl in hierdie belangrike pos van ons kerk. Ons bid ook dat die Here aan hom alles sal voorsien wat hy nodig het om al die verantwoordelikhede van hierdie pos te kan vervul. Ons is groot dank verskuldig aan Charl en Ilna wat baie persoonlike opofferings moet maak om nou hierdie werk te doen.”
  
Sinode verwelkom nuwe PSD
Siegfried Louw van Brackenfell-Proteahoogte het die pos van PSD (Predikant in Sinodale Diens): Predikantebegeleiding aanvaar. Ons wens vir hom voorspoed in hierdie nuwe fase van sy bediening en bid dat die Here hom sal lei en seën. Siegfried vertel dat hy opgewonde is dat die Predikantebegeleidingspos na Wellington toe skuif, omdat die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit ʼn fisiese ruimte gee waar mense net weer hulleself kan vind. “Ek sien en beleef dat predikante dikwels baie moeg is of vasgeloop voel. Daar is so baie uiteenlopende komponente in die bediening. As jy jou oë uitvee, is jy oraloor met alles besig, maar jy verloor jouself. Dit is die teenoorgestelde van integrasie. En dan vervaag jou roepingsfokus. My droom is om, saam met ander mense rondom my, prosesse te ontwikkel en verder uit te bou wat predikante help om hulle werk met vreugde en vervulling te doen. ʼn Veilige ruimte vra nie net ʼn mooi tuin nie – dit vra ook eerlike oomblikke wat ons doelbewus moet skep. Ek hoor soms dominees praat oor hulle geloofsbelewenisse – oor wie God vir hulle is. En dan maak dit my hartseer as dit klink asof ons soms godsdiens in die kerk bedryf en ons eerlike geloof liewer in privaatheid uitleef. Die Sentrum vir Spiritualiteit beskou ek as ʼn veilige hawe waar ons die “pause-knoppie” kan druk, brokstukke van ons lewe (goed en sleg, lelik en mooi) weer bymekaar kan sit en met blydskap ons Godgegewe roeping kan koester.Elke enkele dominee het iewers met ʼn roeping of ʼn droom begin. Daar is soveel wonderlike Bedienaars van die Woord. Ek is daarvan oortuig dat God se Woord nie onverrigter sake na God terugkeer nie. Ek brand om dit saam met kollegas te sien en te hoor gebeur. Party het al ʼn bietjie moed opgegee of het besluit om maar net eenkant hulle eie ding te doen, want dit is al waarvoor hulle krag oor het. My uitnodiging sou wees: “Kom ons wees regte, gewone mense vir mekaar… en vertrou God vir wat volgende gebeur.” Lees gerus meer oor Siegfried se lewe en roeping as predikant op ons webblad.
Foto: Siegfried saam met sy seun Carlo, dogter Leandri en vrou Elfreda. 
Moderamen sluit termyn af
Die huidige moderamen het vandeesweek (6-8 Mei) vir die laaste keer in hulle vier jaar termyn vergader. Die propvol agenda het verslae van die verskillende diensgroepe en taakspanne asook ‘n uitgebreide moderatuursverslag ingesluit. Dr. Tommy Solomons van die Rynse Kerk in Suid-Afrika was Dinsdag die gasspreker, terwyl dr. Coenie Burger Woensdag die nuwe publikasie Ons wil Jesus sien bekendgestel het (lees meer hieroor onder Publikasies). ‘n Opsomming van die vergadering sal eersdaags aan gemeentes gestuur word.Vier dominees uit die Suid-Kaap het na vier jaar as ringsvoorsitters vandeesweek hulle laaste moderamenvergadering bygewoon. Na afloop van die vergadering stuur Pieter ‘n stemboodskap. “Daar kom nou nuwe leierskap in die Suid-Kaap. Ek en Jan ry al vir vier jaar saam na elke moderamenvergadering toe. As ons uit George vertrek, praat ons oor ons gemeentes en as ons terugry, praat ons oor hoe dit in die groter kerk gaan. Vir ons was dit ‘n ongelooflike leersame tyd en ons het baie oor die kerk, leierskap en vergaderingsprosedures geleer. Ons is eintlik hartseer om klaar te maak, maar dis nou tyd vir ‘n nuwe generasie leiers om oor te neem.”Foto van links na regs: Willem Smit van Hartenbos, Pieter van Santen van George-Tuinedal, Anton Louw van Knysna en Jan Marais van Oudtshoorn-Wes.
 
Zithulele Vennootskap verbind gemeentes
“Tydens ons onlangse besoek aan die VGK Zithulele, in die voormalige Transkei, is dit weereens bevestig dat ons besoek daar nie net ’n uitreik na hulle toe is nie, maar dat dit werklik ’n tweerigtingstraat in ’n vennootskap met mekaar is.” So vertel ds. Wynand Breytenbach, predikant by Durbanville-gemeente en sameroeper van die Zithulele Vennootskap, wat onlangs saam met ’n paar van hul lede op besoek was aan Zithulele. Lees meer van hul besoek hier.Foto van links na regs: Louise Koch (Sonstraal-gemeente), ds. Christi Thirion (Kenridge-gemeente), ds. Mzukisi Mtyana (VGK Zithulele) en ds. Wynand Breytenbach (Durbanville-gemeente)

Pedriatiese noodhulp opleiding
Medical Education Centre (MEC) bied op 27 Junie ‘n pediatriese noodhulpkursus by Badisa se kantoor in Bellville aan. Die opleiding word aangebied deur Little Seeds.  Die koste van die kursus beloop R500. Daar is beperkte plekke beskikbaar. Little Seeds nooi alle belangstellendes uit om met Zylia Volschenk by 082 902 8391 te skakel indien jy belangstel in die opleiding. ’n Sertifikaat word na afloop van die kursus uitgereik. 
Kerkenboek van Caap de goede hope
Ds. Joannes van Arckel is op 23 Augustus 1665 aangestel as die eerste predikant van die gereformeerde kerk aan die Kaap. Dit was die konstituering van die eerste Christelike gemeente aan die Kaap en word dan gesien as die stigtingsdatum van die Kaapstad-gemeente (Groote Kerk) en die begindatum van die NG Kerk in Suid-Afrika. Die eerste dokumente van die gemeente is deur die dominees bygehou en dit is van leraar tot leraar oorgedra. Hierdie oudste dokumente van die kerk, nl. notules, doop-, lidmaat- en huweliksregisters is later van tyd saamgebind in een dokument en is bekend as Kerkenboek van Caap de goede hope. Die Kerkargief het in samewerking met prof. de Boer (links op foto links onder) hierdie werk as die sesde boek in die Argiefpublikasiereeks laat publiseer. Dit is op Vrydag 24 Februarie op Stellenbosch bekendgestel. Dolf Brits, professor in Kerkgeskiedenis, het met prof. de Boer gesels oor die werk en ook goeie toeligting gegee oor die beginjare van die kerk in die Kaap. Op Sondag 26 Februarie het Andrew Kok van die Argief die boek ook in die Groote Kerk bekendgestel en ‘n kopie van die boek is aan ds. Riaan de Villiers oorhandig (foto regs).Die boek is beskikbaar by die Kerkargief teen R250 plus R100 posgeld. Kontak die argief by argief@kaapkerk.co.za vir bestellings.  
Stewige bande met Arbeidsbediening Helderberg – tot groot seën vir almal
“Dis wat in die praktyk gebeur as ‘n mens met ’n oop hart, ’n oop gemoed en opregte toewyding getuig oor wat die Here vir jou gedoen het en ook vir ander mense kan doen,” sê At Kampman, geestelike werker van Arbeidsbediening Helderberg in die Strand. “Op hierdie manier kry die Here die eer wat Hom toekom.” At praat hier van die effek wat hul bediening dikwels het op van die talle besighede wat deur hul 35 vrywilligers bedien word. Lees meer oor hoe dit veral een besigheid geraak het hier.Foto: Die voorsitter van Arbeidsbediening Helderberg Buks du Toit (links) en geestelike werker At Kampman (regs) by hul kantoor in die Strand se ingang. 
SAFCEI by presidensiële kommissie
Die  Presidential Climate Commission het gister in Johannesburg met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en SAFCEI (South African Faith Communities Environment Institute) vergader. Die R1.4 duisend miljard Just Energy Transition Plan is in detail bespreek. So ook die ontwikkeling van groen waterstof, uitfassering van petrolaangedrewe motoraanlegte. Braam Hanekom skryf: “Ons is in krisis. Werksverliese by steenkoolmyne of kinders wat doodgaan weens besoedeling? Ek was egter baie beïndruk met die vlak van die gesprek. Daar is hoop!”Foto van links na regs: Braam Hanekom, Queen Munyai en Francesca DeGasparis van SAFCEI.  
EKOLOGIE Groenspan besoek aan boomplantprojek in Malawi
Dewald Hoffmann, koördineerder van die Taakspan Ekologie en Noxolo Fihla, lid van hul Groenspan, was bevoorreg om verlede week Malawi te kon besoek in verband met ʼn boomplantprojek. Die projek word in vennootskap tussen Getuienisaksie en ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode gedoen. Die doel van die projek is om bome te plant in gebiede wat veral in gevaar van ontbossing is. Tot dusver is daar 600 bome by agt verskillende plekke geplant. Die projek plant spesifiek bome op of naby CCAP-gemeentes met lidmate, kleingroepe, kore en diensgroepe wat elkeen ʼn boom of twee aanneem. Die bome word dus nie net aan die elemente oorgelaat nie, maar word deur die lidmate van die gemeentes versorg. Die doel van Dewald en Noxolo se besoek was om van die gemeentes te besoek en ook meer te leer oor die hele proses. Kontak gerus vir Dewald by ds.dewaldh@gmail.com vir meer inligting.   GEMEENTENUUS 
Worcester-Vallei in vennootskap met Songo
Worcester-Vallei beplan ‘n Afrika-uitreik van 23 Junie tot 9 Julie om die gemeente van Songo te help. Die Mosambiekse gemeente is sowat 3 000 km van Worcester af geleë. Die kerkgebou wat in 2020 beplan is, is tot op dakhoogte gebou en die gemeente versoek tans hulp met die dakkonstruksie.As jy belangstel om deel te raak van die uitreik, stuur ‘n WhatsApp aan Worcester-Vallei se kerkkantoor by 066 158 9857 en vra vir ‘n inskryfvorm. Enige navrae kan aan Johan Blomerus gerig word by 082 829 7302.”Belangstellendes moet in voertuie groepeer. Elke voertuig werk dan as ‘n eenheid en die passasiers moet selfonderhoudend wees vir die hele trip. Daar is geen sentrale koördineerder nie en daar word 100% staat gemaak op onderlinge reëlings.  Belangstellendes moet ook min of meer R20 000 vir brandstof begroot per voertuig vir soontoe en terug. Songo sorg vir kampplek waar almal dan as groep saamsnoer, oornag en take  sowel as etes deel.  Die gemeente van Worcester-Vallei sal die boufonds vir die dak dryf. Sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Maart, so moet asseblief nie wag nie!” 
Van trauma tot triomf 
Akteur en skeppende kunstenaar Erik Holm bied in Mei sy vertoning “Van Trauma tot Triomf!” by NG Gemeente Bellville-Vallei aan. Hierdie uurlange reis deur die heuwels en dale van die mens se hart en gees, is gebaseer op Erik se ervarings nadat hy na ‘n fratsduikongeluk in 2007, op die ouderdom van 25 ‘n kwadrupleeg geword het. Na baie omwentelinge wat hom geskep en herskep het, kom deel hy nou in die vertel-spel sy storie van oorlewingsgees en druppels dou van lafenis en lag.”Die ervaring is ‘n wa-wip rit deur die newels van die goed-en-sleg, mooi-en-lelik, die gee-en-neem van die lewe, met die gees van vernuwing en hoop altyd in die oog. Met oomblikke van diep teerheid, gevolg deur uitspattige en traanskietlag uit die maag, is hierdie kleurvolle ervaring werklik iets wat blyplek vind in jou hart en gedagtes.”Bellville-Vallei nooi ieder en elk om saam hierdie ervaring te kom geniet. Fondse word ingesamel ten bate van MES en gaste word aangespoor om ook enige onbederfbare kos of toiletware saam te bring as deel van hul ingangsfooi. Verder sluit die prys verversings asook versnaperinge wat die tongspiere sal kielie in. Daar sal ook interessante stalletjies wees.  
70 jaar van genade in Parowvallei-Oos
Sondag 26 Maart om 09:30 vier Parowvallei-Oos hulle 70ste verjaarsdag! Hulle beplan om ‘n langtafel liefdesmaal buite in Amazing Place te hou. Die tema van hierdie spesiale geleentheid is Jesus ontmoet ons by die tafel. Almal is welkom, maar ter wille van beplanning moet jy Soekie teen 22 Maart per WhatsApp by 072 306 8602 of e-pos by ngpvoos@telkomsa.net kontak om ‘n sitplek te bespreek.       
ONS FAMILIE IN AFRIKA
 
God aan die werk in Kenia
“Afrika los mens altyd met weersprekende emosies,” vertel dr. Koos Greeff, tentmaker-predikant, tans verbonde aan die NG Kerk Vredenburg, wat in Februarie op besoek was aan Kenia. Hy is deur dr. Luka Ariko, die algemene sekretaris van ons susterkerk daar, die Reformed Church in East Africa (RCEA), uitgenooi om vir twee weke by hul seminarium in Eldoret klasse oor inleiding tot sistematiese teologie en inleiding tot ekklesiologie te gaan aanbied. Lees gerus hier hoe hy ten spyte van sy verlore tas en die gevolglike uitdagings ook diep geroer is deur die uitlewing van ons susterskerk in Kenia se Christenskap.
Foto: Dr. Koos Greeff saam met die RITT-studente.  PREDIKANTENUUS 
Karla Smit bevestig by NG Lambertsbaai
NG Gemeente Lambertsbaai laat weet dat Karla Smit die afgelope naweek by hulle verwelkom en bevestig is. Hierdie is haar eerste gemeente. Sy is Saterdagaand bevestig deur Cobus Swanepoel van De Tyger-gemeente waar sy ‘n proponent was en het Sondag haar intreepreek gelewer.  Hetta Saunderson vertel dat dit vir hulle as gemeente werklik ‘n voorreg is om hulle eerste vrouepredikant te ontvang. “Welkom ds. Karla! Dankie aan al die gaste wat van ver gekom het om die aand nog meer spesiaal vir haar te maak. En dankie vir almal wat namens die Ring van Clanwilliam daar was. Spesiale dank aan ons lidmate vir die ongelooflike samewerking om ‘n LIEFDE Sonder Grense markie te hou en dieselfde aand sonder krag die pragtige saal met diè lekkerste eetgoed gemaak het.” Klik hier om meer foto’s van die geleentheid te sien. Voorspoed en seën met jou bediening in Lambertsbaai, Karla!
  
Uitsig-gemeente verwelkom Suléne du Toit
NG Gemeente Uitsig in Bellville is opgewonde om vir Suléne du Toit, haar man Rikus en seuntjie Jean as deel van die Uitsig-familie te verwelkom en bid vir haar ‘n geseënde bediening toe. Sy is op Sondag 5 Maart 2023 as medeleraar van die gemeente bevestig en is die sewende leraar in die geskiedenis van die gemeente. Suléne het in die hartjie van die Karoo, op ‘n plaas naby De Aar, grootgeword en was die afgelope vier jaar leraar op Fraserburg. Foto: Uitsig-gemeente se twee leraars Suléne en Louis Minnaar en hulle eggenote.   
TOERUSTINGSGELEENTHEDE 
Klik op die grafika vir meer inligting.
    GEBEDSVERSOEK   
VAKATURES Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
     
BEHOU DIE HUMOR
   PUBLIKASIES 
Hoogtepunte uit Kerkbode
Dele van Namakwaland is al nege jaar sonder goeie reën. Kerkbode was onlangs daar om eerstehands te hoor en sien wat beteken droogte én droogtehulpprojekte soos RSG Red ’n Plaas vir mense soos Berto Archer, wat boer naby Kamieskroon, en Elton Vries, wat boer naby Springbok. Hulle vertel hul stories in die video hieronder.   
Nuut op die rak
Ons wil Jesus
sien is tydens vandeesweek se moderamenvergadering bekendgestel. Dr. Coenie Burger en professor Marius Nel se publikasie fokus op die ryk en vreemde veelkantigheid van Jesus se lewe en veral van sy werk. “Ons besef nie altyd hoe sentraal Jesus Christus in die Christelike geloof staan nie en ons moet meer aandag gee aan die veelkantigheid van Christus se lewe en werk. Ons moet ruimte maak vir groei in ons verstaan van Jesus en ons geloof in Hom,” sê Burger tydens die bekendstelling.Die boek bied ’n waardevolle oorsig oor wat die Nuwe-Testamentiese boeke oor Jesus sê, én hoe gelowiges deur die eeue heen – tot vandag toe – oor Jesus en sy werk gedink het. Die skrywers bou voort op van die heel beste navorsing, maar het die boek vanuit ’n geloofshoek vir gewone gelowiges geskryf.Klik hier om die boek aanlyn by Bybel-Media te bestel.
 
Wêreldbiddag vir mans
In die nadraai van Wêreldbiddag vir Mans wat op 5 Maart gevier word, herinner CLF dat hulle gratis pamflette vir mans beskikbaar stel wat aanlyn of via e-pos bestel kan word. Mans het vandag meer as ooit tevore aanmoediging, goddelike wysheid en hoop nodig. God se Woord is vol manlike figure wat God met hulle hele hart, verstand en siel gesoek het! God het ‘n spesiale roeping vir mans om sterk, moedige leiers te wees, en Sy Skrif kan die inspirasie bied wat hul nodig het om daaglikse stappe te neem in die rigting van hul roeping.1 Timoteus 6: 11-12 “Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.”  
NUUSBRIEWE   
ALGEMEEN
 
Raakgelees: Musiek toon hoe SA’ers voel
Musiek is ‘n integrale deel van selfuitdrukking en help mense om hulle gevoelens te verwoord. Die musiekstroomdiens Spotify se nuwe data onthul wat die heersende gemoedstoestand vir Suid-Afrikaanse luisteraars is volgens die toon van die snitlyste waarna ons luister en gee so ‘n blik van hoe 2023 tot dusver ervaar word.Die snitlyste waarna Suid-Afrikaners luister, is oorweldigend positief. Produktiwiteit is die topbui, met fokus in die derde plek en motivering sesde. Dit blyk dat Suid-Afrikaners ook meer selfversekerd wil voorkom, met selfvertroue wat ook in die top-10 pronk.Maar die soektogte is nie net maanskyn en rose nie, want “donker” is die tweede gewildste bui vir snitlyste in ons land (en dit is die soort donker wat niks met beurtkrag te doen het nie), terwyl “hartseer” die bui is wat in die negende plek verskyn. Die top 10 word afgerond met “chill”, “free” en “happy” vir balans, terwyl “hopeful” net buite die top 10 in die 11de plek is. Luister gerus Hauke Egermann se TedTalk waarin hy meer vertel oor hoekom mense emosionele reaksies op musiek het. 
Geloofsreis vir lidmate
Die Sentrum vir Geloofsvorming bestaan reeds 14 jaar – honderde leiers se lewens is op ‘n baie diep vlak getransformeer. Hierdie reis is nou nuut verpak vir gelowiges.Kern elemente: Om God beter te leer ken – Hy is Here en Hy is hier! Om persoonlik met Jesus te lewe – groter intimiteit is die gevolg. Om Sy stem duideliker te hoor.Om Hom te leer ken nie net as Verlosser nie – maar “Afrigter” vir die daaglikse lewe.Om te ontdek dat Christenskap nie net uiterlike rituele is nie – karaktergroei na Christus se karakter toe vind plaas. Om jouself beter te leer ken. Ontdek jou eie emosionele ongesondheid en beleef vryheid.Om Die oorvloedige lewe (Joh. 10) wat Hy beloof, te ervaar. Jy begin vry en lig leef. Omdat jy verander, verander jou huwelik, werksplek, gemeenskap, SA.Datum: 10 – 12 Maart 2023
Plek: ATKV Goudini, Rawsonville
Koste: R1650 per egpaar (Sluit akkommodasie, twee etes en materiaal in)
Registreer: Stuur ‘n e-pos na info@geloofsvorming.co.za voor 24 Februarie 2023.    KUIERKANSE 
Klik bo vir ‘n lys van gemeentes met gesellige geleenthede. TEN LAASTE 
Die sleutelteks vir die derde Sondag van Lydenstyd is Romeine 5:1-11. “Omdat ons dan nou op grond van geloof regverdig is, het ons vrede by God ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.”Mag ons hierdie week die genade van God beleef en vrede vind. Luister gerus hier na Peace van We The Kingdom/Sparrow Records. Illustrasie: Tumiso/Pixabay.VrydagNuus-groeteRonelda Visser en Wilmi Wheeler kommunikasie@kaapkerk.co.za

Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.zaTeken In | Verander Inligting | Teken Uit | VrywaringNG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” Dag 17

Visio Divina 10 Maart

VISIO DIVINA #17

Deel 1

Dit was eers in die 1500’s dat kunstenaars aandag aan híérdie bybelverhaal begin gee het. Sommige reken dit is omdat Martin Luther gereeld hierna verwys het as ‘n voorbeeld van vergewende liefde teenoor verguisende veroordeling. Wat hierdie skildery (deur die Vlaamse kunstenaar, Pieter Bruegel, 1565) so besonders maak is die vreemde monokleure (wat die figure bykans soos klipbeelde laat lyk). Waar ander kunstenaars die owerspelige vrou óf neergegooi op die grond, óf as ‘n gevangene voor die skare geskilder het, staan sy hier, kiertsregop, en is dit Jesus wat buig.

Hoe weet jy dit is Jesus? (Daar is geen stralekrans om sy kop nie; en Hy dra nie die tipiese purper-en-blou kleed nie.) Die bukkende man lyk dan net soos al die ander. Maar is dit nie die punt nie! Jesus lyk “soos ons.” ‘n Mens! Maar Hy tree anders as ons op. Jesus buig voor die sondige vrou en voor elke sondige mens wat staar.

Deel 2

TEKSVERS:

“Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Joh 8:7).

Dit is ‘n strikvraag waaruit Jesus Homself nie sou kon loswikkel nie. Daar was net een regte antwoord: “stenig haar!” Dit was wat die wet van Moses beveel het. Vir owerspel is daar nie genade nie! Die Fariseërs het dit geweet. Die skare het dit geweet. Die vrou het dit geweet. En toe kom die vraag, “…Maar u, wat sê u?” (v5). Dalk sou Jesus (om tyd te koop) kon sê, “en die man, waar is hy? Bring hom, hy moet ook gestraf word volgens die wet van Moses.” Maar nee, Jesus antwoord nie ‘n woord nie. Hy buk net grond toe.

Dit was ‘n ontstellende ding wat Jesus gedoen het: hy verneder homself om laer as die vrou te buig … nie net ‘n vrou nie; maar ‘n vrou soos sý! En steeds geen woord nie! Hy krap net met sy vinger in die sand.

Natuurlik wou hulle ‘n antwoord van Jesus hê (want dan kon hulle hom aankla). “Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Het jy opgelet dat Bruegel klippe by haar voet geskilder het?)

Die res van die verhaal ken jy goed. Jy ken die gesprek wat Jesus met die vrou het (Joh 8:8-11). Maar mag ons nooit hierdie verhaal lees sonder om nie te onthou van die geboë Jesus nie En dit voor ‘n sondaar.

GEBED:

Vergewe my, Here, dat ek soveel keer eerder reg wil wees as om te buig.

———–

“Nederland Zingt” “Genade, zo oneindig groot

Op Dag 17 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n “Nederland Zingt”-opname in Doesburg waar die gemeente “Genade, zo oneindig groot” sing.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 16

Visio Divina 9 Maart

VISIO DIVINA #16

Deel 1

Hierdie ikoon (uit Noord-Masedonië) is getiteld “Die Omhelsing.” Die meeste mense assosieer die ikoon met Adventstyd: die swanger Maria het vir drie maande by haar Tant’ Elisabeth (toe ses maande swanger) gaan bly (Luk 1:56). Maar tog wonder ek of dit nie juis ook ‘n Lydenstydikoon is nie? Hoe min het hierdie twee vroue geweet wat vir hulle (en hul twee seuns) gewag het nie! Simeon het dan reeds vir Maria by die tempel (in Luk 2:35) gesê: “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”

Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 16″

Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 15

Visio Divina 8 Maart

VISIO DIVINA #15

Deel 1

Weereens sien ons hier ‘n uitbeelding van Jesus wat die kulturele reëls van sy tyd ignoreer, en weereens is ‘n vrou ter sprake. Nie net is sy ‘n nie-Jood (Samaritaan); maar sy is alles wat die Wet van Moses veroordeel: sy is al by haar vyfde man! Soos altyd is Jesus geklee in kleure wat beide sy goddelike (rooi/purper) en sy menslike (blou) status uitbeeld.

Daar is twee uitstaande kenmerke van hierdie ikoon: die put is in die vorm van ‘n klassieke doopfond. Natuurlik is dit simbolies van die Lewende Water wat haar reinig; ook bitter water (Mara) soet gemaak deur Christus. Maar dan sien jy hulle raak! Agter Jesus staan hulle, koppe na mekaar gedraai; drie dissipels. Agter haar, staan 2 ou mans in die stadspoorte (bewaarders van die sedes) en nog twee nuuskieriges.

Hoe konfronteer hierdie ikoon ons nie met al ons stereotipering nie!

Deel 2

TEKSVERS:

“Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het’” (Joh 4:39).

Volgens oorlewering het die Samaritaanse vrou ‘n naam gehad: Fotini (wat “helder lig” in Grieks beteken). Hoe insiggewend dat dit juis die naam van ‘n vrou is met ‘n donker geheim. (“Ek het nie ‘n man nie”, antwoord sy Jesus. “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” – Joh 4:16-18). Hierdie vrou was ‘n uitgeworpene – vir Jode was sy vuil; ‘n Samaritaan. Onder haar eie mense ook, daarom dat sy nie saam met die ander vroue gaan water skep nie; maar op die warmste uur van die dag (aldus vers 6). En tog word sy die eerste een wat verstaan dat Jesus die Messias is. Lank voor die dissipels dit begryp, begryp sy. Inderdaad word sy die eerste apostel: sy hardloop om almal in haar dorp te roep; “kom kyk, kom kyk!”

Fotini se lig skyn! Ongeag haar verlede. Ongeag haar agtergrond. Dit is wat gebeur as die Lig van die Lewe op jou val.

GEBED:

Here, maak van my ‘n helder lig en laat my in die donker skyn


U is die Lig wat in die donker skyn – Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.

Op Dag 15 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “U is die Lig wat in die donker skyn”; soos uitgevoer deur die massakoor en Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Sendingnuus: Japan – Elmar en Nadine du Randt van OMF

Goeie dag liewe vriende.

Graag deel ons nuus oor die afgelope paar weke se bedrywighede.

Ons is weer volstoom besig met besoeke aan gemeentes. Ons het Clarens, Frankfort, Volksrust en Bethal onlangs besoek. Dit was geseënde geleenthede by elke gemeente. Ons het ‘n wêreldsending kinderboodskap aangebied by Volksrust. Ons het ook vir die mediese ondersoek gegaan wat OMF vereis. Ons moet nou heelwat inentings ontvang. Die mediese goedkeuringsproses is baie volledig, so daar is nog heelwat toetse wat gedoen moet word voordat dit voltooi is.

Lees meer “Sendingnuus: Japan – Elmar en Nadine du Randt van OMF”

Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 14

Vision-Divina 7 maart

VISIO DIVINA #14

Deel 1

Die kunswerk van Johannes Vermeer oor Lasarus se twee susters: Marta en Maria, is in 1655 geskilder. As iemand dalk glad nie die verhaal ken waar Jesus by hulle aan huis gaan kuier nie (in Lukas 10:39-42), wat sou uit hierdie kunswerk afgelei kon word?

Jesus is duidelik baie tuis in hulle geselskap. Kleur in kuns kommunikeer altyd iets: Jesus dra die goddelike koninklike kleur – purper – as ‘n onderkleed; en ‘n blou bokleed – die hemelse kleur. “Toevallig” dra net die sittende vrou ook die hemelse kleur. Die een vrou se moue is opgerol; die ander een s’n nie. Die een vrou kyk opwaarts; die ander vrou kyk af. Jesus praat met die vrou by sy skouer (met varsgebakte brood wat sy aanbied), tog dui sy hand in die sittende vrou se rigting.

Daar is geen veroordeling in Jesus se lyftaal nie. Die kunstenaar nooi jou bloot uit om dieper te kyk en vir jouself ook ‘n posisie te kry. Kan jy?

Deel 2

TEKSVERS:

“Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge …” (Luk 10:41).

Hoe het Jesus gedink moes kos op die tafel kom! En meer nog, die sosiale reëls was dat vroue hulself eenkant van mans sou hou. Dit is dus die hele huishouding van Lasarus se goeie naam wat op die spel geplaas word. (En as jy dít verloor, verloor jy alles!) Die ergste is, Jesus het dit geweet. Waaroor gaan dit dan hier? Tog nie oor “ora et labora” (bid en werk) nie, want dit is nie “of … of” nie; dit was nog altyd “en … en”.

Dit is ‘n skok om te besef dat daar gelyktydig in ons ‘n Marta en ‘n Maria is. Elkeen van ons het iets in ons wat die heilige harmonie van God versteur. Ons maak mensgemaakte reëls om sekere mense binne te hou en ander buite. En dit is presies waarmee Jesus Marta konfronteer: jy is meer ingestel op die kulturele reëls as op die heelheid wat God wil bewerk. Soos Paulus skryf, “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie” (Gal 5:1).

Hoe maklik wil ons nie die status quo in stand hou nie, terwyl Jesus ons wil bevry van selfgemaakte wette. Maria het dit verstaan; Marta het nie. Die vraag is wat is “ons Marta’s” wat ons weerhou van God se heelheid.

GEBED:

Here, is daar dalk selfgemaakte reëls wat my (of ander) keer om U voluit te dien?

———–

Marta en Maria:“Solo Committee”.

Op Dag 14 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n musikale verwerking van die verhaal van hierdie twee susters, Marta en Maria, soos gesing deur die groep “Solo Committee”.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023

Wêreldbiddag vir vroue 3 Maart 2023

Die wêreldbiddag vir Voue is ‘n wêreldwye ekumeniese beweging van Christinvroue, – mans en -kinders uit verskillende nasies wat elke eerste Vrydag in Maart saambid. Die Wêreldbiddag bring mense uit verskillende rasse, kulture en kerke byeen, om saam voor God te verenig in gemeenskap met Hom en groter begrip vir mekaar.

Hierdie jaar was die Wêreldbiddag, in ons omgewing, by die VGK Groot-Brakrivier gehou. Die tema vir hierdie jaar was:

Lees meer “Wêreldbiddag vir Vroue 3 Maart 2023”

Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 13

Visio Divina 6 Maart

VISIO DIVINA #13

Deel 1

Ladislav Zaborsky is in 1921 in die destydse Joegoslavië gebore. In die 1950’s het hy met tronkstraf begin. Sy misdaad? Dat hy nie opgehou het om as ikonograaf (kunstenaar van sakrale werk) te werk na die kommunistiese oorname nie. Die kunswerk wat so aanstoot gegee het? ‘n Uitbeelding van Jesus as ‘n hande-arbeider wat hy in 1949 geskilder het.

Lees meer “Lydenstyd : “Visio Divina” Dag 13″

Afkondigings 5 Maart – 12 Maart 2023

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Sondag 5 Maart

  • Baie welkom by die erediens.
  • Ons skriflesing kom vanoggend uit Rom. 4 vers 1-17. Die tema van die prediking is : Geopende deure?
  • Derde Lydensweek.
  • Kategese.
  • Sinodale Offer vir Hospitaalbearbeiding by die deure.
  • Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.

JEUG :
Kategese vind plaas op Sondagoggende om 09:00.
Skakel asb. vir Pauline (079 557 8591) indien u enige verdere inligting verlang.

Nuwe lidmate in ons gemeente :
Ons nooi nuwe lidmate om asb. na die erediens tot voor die kansel te kom waar ons u graag wil ontmoet. In die voorportaal is ook vorms beskikbaar wat u kan voltooi sodat ons u vinnig kan leer ken. U is welkom om ons te kontak of te kom inloer by die kerkkantoor Maandae, Woensdae & Vrydae tussen 08:00 & 13:00.

Gebedsgidse :
Gebedsgidse vir Maart 2023 is beskikbaar in die voorportaal. Die gebedsgidse, dankofferkoeverte, Kerkbode en Gemeentebriewe is ook by die traliehek van die kerkkantoor beskikbaar.

Woensdag 8 Maart 2023 :

  • Kooroefening – 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751). Alle belangstellendes is welkom.
  • Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 5 (Hersham) by Anton en Barbara Gericke, Franklinstraat 22 (083 277 2777 of 082 411 1222).

Sondag 12 Maart 2023 :

  • Prediker:ds. Danie Goosen.
  • Kategese.
  • Spesiale Offer Arbeidsbediening Mosselbaai.

Omgeebediening

  • In hierdie gemeente wil ons vir mekaar omgee. Ons wil weet van nood, siekte en eensames wat hulp en ondersteuning benodig.
  • Ons wil gemeentelede kans gee om prakties betrokke te raak! By die deure is houers om enige nie-bederfbare kosprodukte in te plaas. Ons ondervind tans ‘n groot tekort aan groot inkopiedrasakke asook bydraes vir die kruideniers-pakkies soos blikkieskos, suiker, koffie, tee, pasta, skoonmaakmiddels soos gesigseep, tandepasta, skottelgoedseep, wasgoedseep, toiletpapier, ens.
  • Enige persoon wat graag by die Omgeebediening betrokke wil raak skakel asb. vir Corrie Pieters (082 327 9527).

Ondersteuningsgroep :

Ons groep wil graag mense ondersteun met:
• Vervoer na doktersafsprake, of vir inkopies.
• Emosionele ondersteuning weens verlies van een of ander aard.

Soms het ’n mens net iemand nodig om te luister of by jou te sit.
Skakel ons by 081 039 8853 – Kontakpersoon Riana Briers.

Getuienisbediening :

Ons uitreikdatums vir Wolwedans vir die eerste kwartaal is: 8 en 22 Maart.

Ons nooi almal weereens uit om deel te neem aan die sopprojek en te help om 80 gesinne te kan bedien. Die voorsiening van sop is ’n deurlopende behoefte. Baie dankie vir u getroue ondersteuning.

Behoeftes vir Getuienisprojekte :

  • Daar is ’n dringende behoefte vir krukke en ’n rolstoel vir verskeie volwassenes, asook ou selfone vir ons dienswerkers van die getuienisbediening. Indien iemand kan help kan dit gedurende kantoorure by die kerkkanoor afgegee word / gereël word vir afhaal. Vir navrae skakel vir Aletia (084 783 1308).
  • Die voorsiening van materiaal, gare, borduurgare, keramiek en wol is ook ’n deurlopende behoefte en ons gee gereeld terugvoer van die produkte wat die mensies maak d.m.v. foto’s wat op die webblad geplaas word.

SUID-KAAP KINDERKOOR:

Die baie bekende en beminde Suid-Kaap Kinderkoor tree Vrydag 10 Maart 2023 om 18:00 by die NG Kerk Reebok op. Kaartjies teen R100 en R80 vir pensioenarisse en kinders is by die kerkkantoor van Reebok, tydens kantoorure beskikbaar of by die deure.

Die webtuiste (nggrootbrak.co.za)

5 Maart 2023

  • Skakel na die YouTube Preek van 5 Maart 2023.
  • Lydenstyd reeks: ‘n 40 dag reeks, Visio Divinia, wat 22 Februarie begin het, kan daagliks na geluister word. Indien u die boodskap daagliks per WhatsApp wil ontvang, stuur gerus ’n WhatsApp na 073 319 9807 of ‘n epos na nggrootbrak.co.za om by ‘n betrokke lys gevoeg te word.
  • Getuienisbediening: Nuusflits van Elmar en Nadine van OMF, nuus oor al die opbouende doen en late van Michelle uit die Öekraïne en Lynette van Madagaskar se versoek vir gebed.
  • Jeugbediening: Kinderbydraes wat op As Sondag gemaak is tydens kategese.
  • Ons eerste bydrae van “Gawes van Bo” Frans Hancke deel sy ervaring van God se behoudende hand tydens ‘n besoek aan die KNP, in ‘n tyd van verwoestende reën.
  • Kommunikasiebediening: “Stof tot nadenke: Weerkaatsers van God se Liefde”.

FEBA RADIO SA:  GEBEDSFOKUS – ONS BID VIR FEBA Hongkong

China het twee jaar gelede beheer oorgeneem oor Hong Kong, waarna die vervolging van kerkleiers en -werkers begin het. FEBC Hong Kong het ten spyte van streng godsdienstige regulasies en vervolging, hul uitsendings getrou voortgesit. Hulle program: “Tussen Tralies “, het ‘n toekenning ontvang as een van die top tien radioprogramme.

Ons gebed vir die week: Ons gebed is dat die vervolging gestaak sal word en dat FEBC van krag tot krag sal gaan ten spyte van die vervolging.

YouTube Eredienste
YouTube eredienste is elke Sondagoggend om 07:00 beskikbaar op YouTube. Die skakel word per WhatsApp aan u gestuur. Alternatiewelik is die skakel ook op ons gemeente webwerf beskikbaar by https://www.nggrootbrak.co.za.

Ons dank u vir u volgehoue bydrae en ondersteuning van die werk van die Here.

Leraar: Danie Goosen (079 525 3624)

Posbus 9, Groot-Brakrivier, 6525  044 620 2205
e-pos: ngkgbr@mweb.co.za / tilliengk@live.co.za
Webbladadres: https://www.nggrootbrak.co.za

Bankbesonderhede: FNB tjekrekening
Rek Nr. 530 831 865 11
Takkode 210314

Gholfdag Advertensie 2023
Gholfdag Advertensie 2023

Lydenstyd : “Visio Divina” Sondag 2

Visio Divina 5 MAART

2de Sondag in Lydenstyd

Een van die oudste (6de eeu n.C.) ikone uit Egipte staan bloot bekend as die “Vriendskapsikoon”. Jesus se stralekrans het die tipiese kruis agter sy kop en bygeskryf staan “Verlosser.” Jesus word uitgebeeld as ‘n jong man met ‘n korter baard, langs hom is ‘n ouer man met ‘n langer, grys baard. Hy word uitgeken as “Abba (vader) Mena” – 4de eeuse martelaar.

Lees meer “Lydenstyd : “Visio Divina” Sondag 2″

Stof tot nadenke: Weerkaatsers van God se liefde

Stof tot Nadenke: Weerkaatsers

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges”

Kol. 1: 3-4

As ons deel is van God se kudde, beteken dit nie ons kan nou immer net kerk toe kom om gevoed te word nie. Dit beteken nie ons kan nou agteroor sit en sefvoldaan wees nie. As ons die pad saam met God stap, moet ons weerkaatsers vir Hom na buite word. Alle mense om ons moet sien dat ons van ons ou klere en verkeerde gewoontes afstand gedoen het, en dat ons die nuwe stel klere aangetrek het en daarmee die nuutgevonde gewoontes wat God ons gegee het, onder leiding van die Heilige Gees, uitleef. (Kol 3: 9-11).

Lees meer “Stof tot nadenke: Weerkaatsers van God se liefde”

Nuusflitse Week 10+ van 2023

Nuusflitse

Kategese vind plaas op Sondagoggende om 09:00
Woensdag 8 Maart 2023:
Kooroefening – 17:15 by die orrel.
Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 5 (Hersham)
Sondag 12 Maart 2023 : Erediens 09:00 Prediker:ds. Danie Goosen
Wolwedans vir die eerste kwartaal is: 8 en 22 Maart
 Suid-Kaap Kinderkoor tree Vrydag 10 Maart 2023 om 18:00 by die NG Kerk Reebok
25 Maart 2023 09:00 Gholfdag

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 10

3 Mrt Visio Divina 10

VISIO DIVINA #10

Deel 1

Sonder om te raai weet jy dadelik hierdie (16de eeuse) ikoon beeld Jesus uit wat ‘n storm stil maak. Omdat ‘n enkele ikoon die hele storie moet vertel, sien jy twee Jesusse (met glanskrans om elk se kop): eers ‘n slapende Jesus, dan een met ‘n uitgestrekte hand wat die golwe stil maak. Maar dit is nie die unieke van die ikoon nie. Kyk in die rigting waarna Jesus se hand dui: ‘n bose figuur met ‘n tuit in sy mond wat wind aanblaas. Aan die oorkantse oewer is daar bose geeste wat op die varke se rûe aangejaag kom en in die see in vaar. Dit herinner dadelik aan die verhaal (in Mark 5:1-20) waar Jesus die bose geeste uit die besetene van Gerasa uitdryf, en die demone in die varke jaag, wat dan oor die krans val in die see in en daar verdrink (Mark 5:13).

Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 10″