Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 5 Maart 2023

5 Maart (2de Sondag in Lydenstyd)

Een van die oudste (6de eeu n.C.) ikone uit Egipte staan bloot bekend as die “Vriendskapsikoon”. Jesus se stralekrans het die tipiese kruis agter sy kop en bygeskryf staan “Verlosser.” Jesus word uitgebeeld as ‘n jong man met ‘n korter baard, langs hom is ‘n ouer man met ‘n langer, grys baard. Hy word uitgeken as “Abba (vader) Mena” – 4de eeuse martelaar.

Jesus hou ‘n boek met ‘n buiteblad vol edelstene vas – simbolies is dit die Goeie Nuus/Evangelie wat leer dat Jesus die Woord is, die Weg en die Waarheid. Vader Mena hou ‘n klein perkamentrolletjie in sy een hand vas; hy was ‘n verkondiger van die Woord. Sy ander hand (in die tipiese posisie van ‘n seëning) dui in die rigting van Jesus.

Drie dinge val jou op:

  1. Die arm om Vader Mena se skouers is nie net ‘n vriendskaplike houding nie, maar veral ook van beskerming. (Niemand kan Vader Mena meer skade wil aandoen nie). Iets in hulle gesigsuitdrukking illustreer dat hulle mekaar goed ken.
  2. Die vriendskap kan ‘n mens veral ook in hulle oë sien: vergroot die prentjie, dan sal jy sien, met een oog “loer” hulle so na mekaar (die oogbal is gedraai na elkander). Dit is asof hulle ‘n skalkse geheim deel. Met die ander oog kyk hulle direk vir ons. Ons is dus deel van die prentjie.
  3. Waarom is net Abba Mena se voete sigbaar? Is daar dalk ‘n boodskap in dat ons Jesus se voete, hande en mond op aarde is as dissipels.

As jy lank en biddend hierna kyk, wat maak die ikoon in jou wakker? Praat dit dalk met jou oor vriendskap – vriendskap met Jesus, maar ook vriendskap in die alledaagse lewe? Staan jy met ‘n arm om ‘n vriend/in se skouers, soos Jesus met syne om joune staan?

Voel jy Jesus met sy arm om jou skouers terwyl Hy sê, “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê”? (Joh 15:14).

GEBED: Trek my nader in U omhelsing dat ek met my hartklop teenaan U leef, my Here.

———

Op Dag 12 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina, luister ons na die soet stem van Rina Hugo waar sy saam met die mannegroep, “Hi-5”, die bekende, “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” sing.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.