Afkondigings: 19 – 26 Maart 2023

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Vandag – Sondag 19 Maart 2023 :

  • Baie welkom by die erediens en ’n spesiale verwelkoming aan dr. Gerrie van Deventer wat vanoggend se erediens lei.
  • Ons skriflesing kom vanoggend uit 2 Sam. 4:4 en 9:1-23. Die tema van die prediking is : Menseregte?
  • Vyfde Lydensweek.
  • Geen Kategese.
  • Spesiale Offer Carpe Diem-Skool by die deure.
  • Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.

JEUG :

  • Kategese vind plaas op Sondagoggende om 09:00.
  • Skakel asb. vir Pauline (079 557 8591) indien u enige verdere inligting verlang.

Nuwe lidmate in ons gemeente :

Ons nooi nuwe lidmate om asb. na die erediens tot voor die kansel te kom waar ons u graag wil ontmoet. In die voorportaal is ook vorms beskikbaar wat u kan voltooi sodat ons u vinnig kan leer ken.

Ds. Danie Goosen besoek nuwe intrekkers. Indien u nog nie ’n besoek ontvang het nie kontak of kom loer gerus in by die kerkkantoor – Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 13:00.

Lidmaat besoeke :

Enige lidmate wat ’n besoek verlang kan gerus die kerkkantoor kontak of kom inloer – Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 13:00.

Gebedsgidse :

Gebedsgidse vir Maart 2023 is beskikbaar in die voorportaal. Die gebedsgidse, dankofferkoeverte, Kerkbode en Gemeentebriewe is ook by die traliehek van die kerkkantoor beskikbaar.

Woensdag 22 Maart 2023 :

  • Kooroefening – 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751). Alle belangstellendes is welkom.
  • Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 6B (Eurekapark) by Alida Terblanche, Duineweg 4. Skakel Kobus Stander vir enige navrae (084 657 3611).

Sondag 26 Maart 2023 :

  • Prediker: dr. Fanie Bergh.
  • Kategese.
  • Spesiale Offer Gemeente Instandhoudingsfonds.

Ondersteuningsgroep :

Ons groep wil graag mense ondersteun met:

  • Vervoer na doktersafsprake, of vir inkopies.
  • Emosionele ondersteuning weens verlies van een of ander aard.

Soms het ’n mens net iemand nodig om te luister of by jou te sit.

Skakel ons by 081 039 8853 – Kontakpersoon Riana Briers.

Getuienisbediening :

  • Wolwedans boodskap, sop en brood uitreik: Ons laaste uitreik vir die kwartaal is op 22 Maart.
  • Ons het ons uitreik verhoog na 100 gesinne, aangesien die nood net te groot is.
  • Ons is so dankbaar vir die getroue ondersteuning en voorsiening wat deurlopend gedoen word. Ons wil dit moontlik maak vir meer mense om dit te ondersteun en daarom maak ons bekend dat daar drie alternatiewe is om die sopvoorsiening te ondersteun:

– Die bekende 2 liter (gevries in ‘n roomysbak) sop voorsiening – bakke is verkrygbaar by die vrieskaste.

– Mengsel droë bestandele, resep hieronder, in twee formate.

1. Bestanddele in ‘n glas koffiebottel of

2. Gevries in 2 liter roomysbak

Resep – 100g sopmengsel, 100g rys, 100g lensies,150g soja, 1 blokkie aftreksel, 1 pakkie sop.Om gaar te maak roer 3,5 liter water by mengsel en kook tot gaar.

‘n Ander alternatief is om kontant te skenk vir die aankoop van bestanddele wat verpak kan word.

Ons benodig op ‘n deurlopende basis leë 200g koffiebottels om die droë sopbestanddele in te plaas asb.

Behoeftes vir Getuienisprojekte :

  • Die voorsiening van materiaal, gare, borduurgare, keramiek en wol is ook ’n deurlopende behoefte en ons gee gereeld terugvoer van die produkte wat die mensies maak d.m.v. foto’s wat op die webblad geplaas word.
  • DRINGENDE BEHOEFTE: Daar is ’n dringende behoefte vir krukke en ’n rolstoel vir verskeie volwassenes, asook ou selfone vir ons dienswerkers van die getuienisbediening. Indien iemand kan help kan dit gedurende kantoorure by die kerkkantoor afgegee word / gereël word vir afhaal. Vir navrae skakel vir Aletia (084 783 1308). Baie dankie vir die skenkings wat reeds ingekom het.

Dankfees – 22 April 2023

Kom geniet ‘n koppie koffie of tee en iets lekkers te ete en kuier saam. Lyste met die oog op die gemeente dankfees sirkuleer tans in die gemeente, maar geldelike bydraes is altyd welkom by die kerkkantoor of per direkte inbetaling in die bankrekening.

Moederskamer :

Tans dien die konsistorie ook as moederskamer. Ons vra asseblief u geduld op Sondae wat díé reëling aanbetref. Die kerkraad probeer om op die laatste 08:50 daar uit te wees, sodat die moeders en kinders kan ingaan betyds vir die 09:00 diens.

Die webtuiste(nggrootbrak.co.za)

19 Maart 2023

  1. Skakel na die YouTube Preek van 19 Maart 2023.
  2. Lydenstyd reeks: Die reeks, Visio Divinia, word daagliks per WhatsApp uitgestuur.
  3. Getuienisbediening: Nuusflits van Japan.
  4. Sinode: ‘n Sinodale nuusbrief word gedeel op die webtuiste.
  5. Kommunikasiebediening: “Stof tot nadenke: God se Offer”.
  6. Die Afkondigings word weekliks op die webtuiste geplaas.

FEBA RADIO SA:  GEBEDSFOKUS – ONS BID VIR FEBA INDONESIË

FEBA Indonesië bestaan al sedert 1969 en die radiostasie staan plaaslik bekend as YASKI. Die stasie het in die Fillipyne begin uitsaai vanaf ‘n FEBA kortgolfstasie. YASKI  besit en bestuur tans sewe radiostasies, produseer  en saai programme in ses minderheidstale uit: Javaans, Sasaknees, Minangnees, Buginees, Makassarees en Soendanees.

Ons gebed vir die week: Bid asseblief dat God nuwe vennote sal stuur om te help met die befondsing vir die noodsaaklike werk wat FEBA in Indonesië doen.

YouTube Eredienste

YouTube eredienste is elke Sondagoggend om 07:00 beskikbaar op YouTube. Die skakel word per WhatsApp aan u gestuur. Alternatiewelik is die skakel ook op ons gemeente webwerf beskikbaar by https://www.nggrootbrak.co.za.

Ons dank u vir u volgehoue bydrae en ondersteuning

van die werk van die Here.

Neem asseblief kennis dat die kerk gebruik maak van nuwe e-pos adresse:

Carmi Kriel (Skriba) – kerkkantoor@nggrootbrak.co.za en

Alfreda Stander (Kassiere) – kassiere@nggrootbrak.co.za

Leraar: Danie Goosen (079 525 3624)

Posbus 9, Groot-Brakrivier, 6525  044 620 2205

e-pos: kerkkantoor@nggrootbrak.co.za / kassiere@nggrootbrak.co.za

Webbladadres: https://www.nggrootbrak.co.za

Bankbesonderhede: FNB tjekrekening

Rek Nr. 530 831 865 11

Takkode 210314

KERMIS TE REEBOK OP 1 APRIL

Almal word hartlik uitgenooi na Reebok-gemeente se jaarlikse kermis-basaar op Saterdag, 1 April,vanaf 10:00, rondom die kerkgebou in Impalaweg. Impalaweg gaan tydelik gesluit word, sodat daar voldoende plek vir verskillende stalletjies en ook kuierplek sal wees. Die tafels gaan kreun onder brood & beskuit, kleinkoekies, koeke & terte, jaffels, potjiekos, kerrie-en-rys, pannekoek, poeding, boeke & cd’s en vele meer! Vir al ons kinders sal daar ook ‘n kindertafel, tombola, speletjies en springkasteel wees. Kom geniet die dag saam met ons!

HERFSBASAAR BY SUIDKERK!

Mosselbaai-Suid Gemeente hou weer op Vrydag, 24 Maart, ‘n lekker basaar in hul kerksaal te 15de Laan. Dit beloof om – soos in die verlede – ‘n heerlike feesgeleentheid met talle verrassings te wees. Die basaar begin om 17:30 sodat ons werkende mense dit ook kan bywoon. Die volgende etes kan vooraf bestel word per whatsapp: Blokkies Kerrie en Rys, Kerrie Vetkoeke, Jafels, Boereworsrolle, Sosaties, Hoenderburgers en Ribburgers – whatsapp u naam en van met bestelling na Lezelda (083 210 3057). Vir die kinders is daar ‘n kindertafel met eetgoed en interessanthede wat nét by ‘n basaar gekoop kan word. Die aktiwiteite vir die kinders begin om 17:00. Allerhande lekker eetgoed soos pasteie, pannekoek, basaarpoeding en drinkgoed sal te koop wees. Ons het ook ‘n Wit Olifante-tafel waar die versamelaar interessanthede teen billike pryse kan opraap. As u op soek is na ‘n interessante oudheid of ‘n baie billike prys vir gebruiksitems mag u dit dalk ook daar vind. Ons het ook ‘n marktafel waar gebruikte tydlose boeke en tydskrifte verkoop word, asook inmaakprodukte en besondere geskenkies. Ander wegneem-eetgoed soos kleinkoekies, terte, groot koeke, koeksisters, tuisgemaakte lekkers en brood en beskuit sal te koop aangebied word. Ons nooi almal in die gemeenskap om lekker saam met ons lidmate uself te kom geniet! Bring u vriende en familie saam en kom kuier lekker saam met ons, terwyl die kinders hulle behoorlik geniet saam met hulle maats.

Gholfdag Advertensie 2023
Gholfdag Advertensie 2023

VERLORE

Ons het al ’n geruime tyd gelede ’n los Toyota sleutel in die bokamer gevind, maar niemand het dit nog kom opeis nie. Die sleutel word gehou in die kerkkantoor sou u vermoed dat dit aan u behoort.

Lydingstyd: “Visio Divina” 4de Sondag in Lydenstyd

19 Maart Visio Divina 26 3de Sondag

VISIO DIVINA #26

4de Sondag in Lydenstyd

Teen hierdie tyd weet jy al, Sondae is ‘n dag van viering. Elke Sondag vier ons opstandingsdag. Sondae is nie deel van die 40-dae Lydensreis nie. Dit is so nodig dat ons deur die 40 dae in Lydenstyd nadink oor ons lewens. Wie is ons? Wie s’n is ons? Waarop is ons hoop werklik ingestel? Wat is ons roeping? Leef ons dit uit? Leef ons as beeld van God en verteenwoordiger van Jesus?

Lees meer “Lydingstyd: “Visio Divina” 4de Sondag in Lydenstyd”

Stof tot nadenke: God se Offer

“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Joh. 3: 17

In Lydenstyd is die offer wat God bereid was om te bring, gedurig in ons gedagtes. Hy het ons so lief gehad (Joh. 3:16) dat Hy sy Seun gestuur het, nie as oordeel nie, maar om ons, sy skepsels, vir wie hy so liefhet, te red van die ewige dood.

Lees meer “Stof tot nadenke: God se Offer”

Nuusflitse Week 12+ van 2023

Nuusflitse

Kategese vind plaas op Sondagoggende om 09:00
Woensdag 22 Maart 2023 :
Kooroefening – 17:15 by die orrel. Marida (082 471 0751). Alle belangstellendes is welkom.
Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 6B (Eurekapark)
Sondag 26 Maart 2023 : Prediker: dr. Fanie Bergh. Kategese
Wolwedans boodskap, sop en brood uitreik: Ons laaste uitreik vir die kwartaal is op 22 Maart.
Dankfees – 22 April 2023
KERMIS TE REEBOK OP 1 APRIL
HERFSBASAAR BY SUIDKERK!Mosselbaai-Suid Gemeente hou weer op Vrydag, 24 Maart

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 25

Visio Divina 18 Maart

VISIO DIVINA #25

Deel 1

Die Johannes-evangelie gebruik ‘n ander woord vir wonderwerke as die res van die evangelieskrywers. Vir Johannes is die wonderwerke meer as net wonders; dit is fisiese tekens dat die profesie oor die Messias vervul is. Alhoewel die wonderverhaal waar Jesus ‘n doofstom man genees het, net in Markus voorkom, is hierdie uitbeelding báíe, báíe meer as net ‘n wonder! Dit beeld eeue se profesieë uit dat die Messias sal kom: “Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, lammers sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing. Strome water sal uit die woestyn uit bars; daar sal riviere loop in die droë wêreld” (Jes 35:5-6). Maar meer nog, dit beeld die die ganse lewe van Jesus uit: van gekruisigde tot opgestane tot verheerlikte. Wat dood is a.g.v. sonde bring Sy bloed weer lewe.

Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 25″

Lydenstyd: “Visio Divina” – Dag 24

Visio Divina - 17 Maart

VISIO DIVINA #24

Deel 1

Hierdie is nie ‘n antieke uitbeelding nie (die Engelse woorde daarop verklap dit). Ons ken die verhaal: 10 melaatses word genees, maar slegs een kom terug om dankie te sê. Wat val jou op terwyl jy hierna kyk? Vir my is dit die enkele man wat by Jesus se voete kniel. Nege ander mans is steeds vol sere. Maar is al tien dan nie genees nie? Waarom hou die kunstenaar die ander nege dan nog steeds siek? Waarskynlik omdat hulle dalk van hul melaatsheid genees is, maar nie die heelheid (vrede) ontvang het (sien #16) wat Christus werklik wil aanbied nie.

Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” – Dag 24″

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 23

Visio Divina 16 Maart

VISIO DIVINA #23

Deel 1

Vroeër (#VD 6) is ‘n mosaïek-muurpaneel geplaas wat uit die 6de eeu dateer; vandag se toneel kom uit dieselfde basilika in Ravenna, Italië.

Dit is ‘n visuele uitbeelding van die vrou wat “aan bloedvloeïng gely het” (Matt 9:20; Mark 5:25; Luk 8:43). Die kunstenaar beeld hier nie die groter skare uit nie; net vir Jesus saam met 4 dissipels. Die vrou is seker reeds “uitgevang” omdat sy knielend voor Jesus is. Kyk net hoe toegevou is haar hande (ook een van die agterste mans s’n). Hierdie vrou is volgens die Torah onrein. (Twaalf jaar reeds!) Niemand mag haar aanraak nie. Maar Jesus hou sy hand uitgestrek.

Lees meer “Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 23″

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 22

Visio Divina 15 Maart

VISIO DIVINA #22

Deel 1

In 1433 het ene “Daniel van Urank” ‘n Armeense miniatuur Evangelie(tjie) geïllustreer in ‘n bykans naïwe manier! Sewe figure (die getal van volkomenheid) is by ‘n tafel: ses dissipels (vandaar die stralekrans) en Jesus (sy kleedskleure en die kruis in sy stralekrans dui dit aan). Al die oë is na Jesus gedraai; en Jesus se oë is boontoe gerig. Dit is duidelik ‘n nagmaaltafel, maar Jesus staan bo-op die tafel. Waarom?

Elke dissipel het een broodjie; Jesus hou twee vas. Dit is nie vir hulle nie; dit is om uit te deel. Tel die broodjies en vissies in elke kelk – nie een van die verhale in die Bybel praat van drie vissies en drie broodjies nie. Waarom dan? Maar, jy weet: drie is die Goddelike getal. Op die tafel – weerskante lê 2 x 7 broodjies.

Die nagmaal en die verhaal van Jesus wat die skare voed – alles in een klein illustrasie, om ons te herinner: God deel oorvloediglik uit!

Deel 2

TEKSVERS:

“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk” (2 Kor 9:8).

Net een wonderwerk verskyn in al vier evangelies, en dit is daardie een waar Jesus die honger skare voed (Matt 14:15-21; Mark 9:1-10; Luk 9:12-17; Joh 6:1-13). Elke evangelieskrywer gee sy eie weergawe van die verhaal, maar daar is veel meer aan hierdie gebeurtenis as maar net Jesus wat honger mense jammer kry en vir hulle kos wil uitdeel. Jesus doen veel meer! Dit is ‘n illustrasie van wat wag! Hy gee nóú reeds ‘n proesel van die feesmaal wat ééndag gehou gaan word (aldus Openb 3 en 19). Selfs Dawid kon daaroor juig: “U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid” (Ps 23:5).

Daar is etlike beskrywende woorde vir God in die Bybel: genadige; liefdevolle; goeie; sterke, ens. Maar, die woord wat dit alles vir my omsluit, is dat God die vrygewige God is. Lees net weer 2 Kor 9:8. Kyk net hoe kies Paulus sy woorde: alles; in oorvloed; alle opsigte; altyd; van alles; genoeg; volop. God hou niks terug nie!

Maar net soos in die wonderverhaal waar Jesus by die dissipels wil weet wat húlle by hulle het om te eet; gaan 2 Kor. 9 ook oor óns wat kry om te gee. Gaan lees vandag 2 Kor 9 en kyk weer na Daniel van Urak se illustrasie, en vra jouself af: is jou beskrywende woord ook soos díé van God – vrygewige? Jy is immers beeld van God.

GEBED:

Maak van my ‘n vrygewige mens, Heilige Gees, omdat ek so vrygewiglik van U ontvang.

Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe

Op Dag 22 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons “Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe. Dit is so maklik om saam te sing, omdat dit ‘n enkelfrase lied is.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Missie Japan Nuusbrief vir Maart 2023

Tobie en Annalie de Wet se uitstuurdiens by Swellendam Moederkerk, gelei deur leraars (Gawie Gouws en Lounette Engelbrecht) en die gemeente se getuienis leiers Beste Ondersteuner, Tyd vlieg. Lydenstyd is alweer halfpad verby. Hoe draai die seisoen waar jy jou bevind?Daar’s baie aan die gebeur, op klein en groot skaal by ons. Hierdie nuusflits vat — nes onsself die afgelope tyd — net hier en daar grond, met ‘n paar onlangse gebeure vir jou aandag. Dis uiteenlopend, en bietjie langer as gewoonlik (jammer!), maar dankie dat ons kan vra jy dalk end-uit sal lees, meeleef en saam bid en ondersteun. 

Lees meer “Missie Japan Nuusbrief vir Maart 2023”

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 21

Visio Divina 14 Maart

VISIO DIVINA #21

Deel 1

In 2007 het die Amerikaanse kunstenaar, Michael Dudash, die skildery gemaak, getiteld: “Not by bread alone.” Dit sou ook seker getiteld kon wees, “Not by work alone.” Want is dit nie ons groot “probleem” nie! Vra iemand hoe dit gaan, en die antwoord is iets soos, “aan die hardloop…”.

Soveel keer lees ons in die Bybel dat Jesus “soos sy gewoonte was” (Luk 22:39) homself afgesonder het om te gaan bid. “Hy het alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen” (Matt 14:23).

Dudash (wat self in die berge van Vermont leef) kontrasteer die ruheid van die berge (is dit dalk simbolies van die lewe?) met die sagte, vloeiende wit van Jesus se kleed, ‘n postuur van kalmte.

Lydenstyd is ‘n tyd van afsondering en luister. Ek het herhaal my eie motto aan myself: “die sekerste manier om nie God se stem te hoor nie is ‘n besige lewe.”

Deel 2

TEKSVERS:

“Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” (Ps 91:4).

Vandag se meditasie het eintlik anders om begin: eers het ek – toevallig – op die musiek van Melissa Dittrich oor Psalm 91 afgekom. Terwyl ek na die woorde luister, is dit nie ons menslike vrese en behoefte na veiligheid waaraan ek eerste gedink het nie, maar aan Jesus s’n. Is dit dalk waarom Hy Homself daagliks afgesonder het om te bid? Soms ‘n ganse nag lank!

Die Psalms was die gebede van Jesus se tyd. Hoeveel keer het Hy dalk Psalm 91 opgesê (wat Hy – as ‘n Joodse man – uit sy hoof sou ken). Ek kan my indink, hoe nader Jesus aan daardie Donker Vrydag gekom het, hoe groter sou sy begeerte na tyd met God geword het. Ons weet nie wat Jesus gebid het as hy homself so afgesonder het nie. Maar ek hoor Hom in sy moedertaal bid: “El Shaddai … Abba …”. Allerhoogste God … Vader…

En terwyl ek Psalm 91 weer lees, sien ek weer die ikoon van Rublev se drie engele met hul vlerke (of “vleuels”) wat aan mekaar raak; ‘n muur agter hulle vorm. Soos Dawid skryf: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” Geen opening waardeur ons kan val. Veilig. Vasgehou.

GEBED:

U, Almagtige, “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.

Melissa Dittrich David: Psalm 91

Op Dag 21 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die Kanadees, Melissa Dittrich David, se weergawe van Psalm 91.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 20

Visio Divina 13 Maart

VISIO DIVINA #20

Deel 1

Wat hierdie kunswerk van die Koreaanse kunstenaar, Yongsung Kim, vir my so uniek maak is dat jy nie presies weet vanuit watter rigting jy daarna moet kyk nie. Een oomblik kyk jy van bo en sien die figuur aan die onderkant staan met ‘n uitgestrekte hand. Is dit nie wat Saggeus (Visio Divina #18) dalk ook gesien het nie – ‘n hand, opgesteek in sy rigting: “Saggeus, klim af.” Die volgende oomblik kyk jy weer van onder af en sien jy die hand wat afgesteek word na jou: “Hou vas, ek sal jou uit trek.”

Natuurlik, ja, jy moet van onder af kyk, want die son is dan agter die figuur se kop. Is dit Jesus met ‘n stralekrans om sy kop (‘n “halo”)? Alles is uit fokus geskilder, behalwe die Hand.

Dit is alles wat ek sien. Die vraag is, wat sien jy?

Deel 2

TEKSVERS:

“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie” (Jes 43:2).

Ek kan werklik nie met sekerheid sê uit watter rigting ek na die uitgestrekte hand moet kyk nie. Natuurlik suggereer die golwe ‘n drenkelling aan wie ‘n reddened hand deur die water aangesteek word. Tog sien ek ook hoe ek te hoog geklim het, en die hand van onder af aangebied word om my te help om af te kom. Dit is toe dat ek besef, eintlik maak dit nie saak van waar ek kyk nie, die hand wat uitgestrek is, kan ek – ongeag die rigting – nie miskyk nie. Dit is altyd daar. “U omsluit my van alle kante,” skryf Dawid (Ps 139:5). Die Hand is nooit afwesig nie.

Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar,” skryf Dawid (139:8). Oral vind ek U hand. Hoe instemmend sal ons nie almal kopknik nie. En tog… waarom voel ons dan soms so godsverlate? Het jy dan nie ook al gewonder nie: Here, wáár is U dan? Waar is die uitgestrekte Hand dan nou wanneer ek dit nodig het?

Soek ons dalk die hand vanuit ‘n rigting en herken ons dit nie vanuit ‘n ander rigting nie? Soos die persoon wat – na ‘n groot vloed – op sy huis se dak sit, pleitend dat God sal red. Menigmaal kom iemand daar verby wat aan ‘n groot boomstomp klou: “spring, hier is plek!” Maar jy kyk in die lug vir die helikopter…

GEBED:

Dankie dat die “Ek is”, altyd by my is!

Take My Hand, Precious Lord – John Thomas.

Op Dag 19 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n ou bekende Spiritual – “Take My Hand, Precious Lord” – soos uitgevoer deur die bariton, John Thomas.

Uit die lirieke:

When my way groweth drear
Precious Lord, linger near
When my light is almost gone
Hear my cry, hear my call
Hold my hand lest I fall
Take my hand, precious Lord
Lead me on

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Nuusflitse Week 11 van 2023

Nuusflitse

Kategese vind plaas op Sondagoggende om 09:00
Woensdag 15 Maart 2023 :
Kooroefening – Daar is GEEN kooroefening hierdie week nie.
Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 6A
Sondag 19 Maart 2023 :
• Prediker: dr. Gerrie van Deventer.
GEEN Kategese.
Uitreikdatum vir Wolwedans vir die eerste kwartaal is: 22 Maart
25 Maart 2023 – NGK Groot-Brakrivier Gholfdag
Dankfees – 22 April 2022

Lydenstyd: “Visio Divina” 3de Sondag van Lydenstyd

Visio Divina 12 Maart

VISIO DIVINA #19

3de Sondag in Lydenstyd

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal” (12 Kor 13:13). Die grootste misterie speel voor ons af wanneer ons Sondae in die erediens gegroet word in die Naam van die Drie-Enige God. Maar wat sal ‘n gewone sterfling tog ooit van hierdie misterie kan verstaan? Daarom het ons digters. En ons het komponiste. En ook kunstenaars. Hulle wat dit sê wat ons nie kan nie. Andrei Rublev (15de eeu) was so iemand. Geen ander ikoon kan vir ons die Drie-Eenheid (Triniteit) so “verwoord” soos die “Ikoon van die drie besoekers” (1425-27) nie.

In Genesis 18 lees ons van drie engele wat Abraham en Sara besoek, maar kyk jy dieper, dan leer jy hierin iets van die misterie van die Drie-Enigheid ken:

Drie engele – so intiem teen aan mekaar dat hulle vlerke raak – sit in ‘n sirkelvorm (simbool van ewigheid) aan ‘n tafel. Daar is aan die voorkant ‘n opening – dit nooi jou in om deel te neem aan die ete. Ons lees dat Abraham ‘n kalf geslag het. Die bak staan op die tafel. Al drie figure seën die bak. Sonder woorde verklap die kleure alles! Een is geklee in die kleur van heerlikheid: goud. Een dra die kleur van bloed; met hemelse blou daaroor. Die derde figuur dra ook groen (die kleur van nuwe lewe). Alles is goddelike kleur. Kyk na die agtergrond: ‘n boom verrys agter die middelste figuur. Die boom van die lewe. Die boom wat die hout kon verskaf vir ‘n kruis?

Daar is drie bekers – een op die tafel; een op die grond (waarin die gebede van gelowiges opgevang word?) en een waarin die middelste figuur sit (sien die videoverduideliking).

Al wat oorbly is vir ons om te sê, “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid” (Rom 11:33-36).

GEBED:

Heilige Drie-Enige God, dankie dat ek die misterie van U wese in hierdie Lydenstyd beter mag leer ken.

Ikoon van die Triniteit

Kyk gerus na hierdie verduideliking van die Ikoon van die Triniteit:

Oase Gemeente – Drie Eenheid

Op die derde Sondag van ons Reeks Visioe-Divina luister ons na Oase Gemeente – Drie-Eenheid.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Stof tot Nadenke: God se amfiteater

“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”
Gen. 1: 31

Ons is tans in Lydenstyd en word gedurig herinner aan die offer wat God bereid was om te bring. Hy het ons so lief gehad, dat Hy bereid was om deur Sy seun na hierdie aarde, wat Hy geskep het, te kom. Dit, om vir ons mense, wat so afgedwaal het van alles wat goed is, te red uit genade en liefde. God het geweet dat wat Hy geskep het baie goed was en Hy wil nie sien dat dit alles verlore gaan nie.

Wanneer mens Gen. 1 lees oor die skepping besef jy dat hierdie aarde deel is van God se amfiteater, waar die lied van die lewe behoort te klink. Wanneer ons om ons kyk, staan ons soms so verslae, seker net soos God soms oor ons moet voel. Hoe kan ons hierdie pragtige amfiteater van Hom, so verwoes. Hoe kan ons mekaar en medemense sommer net so uitsmyt, ignoreer en vernietig. Is ons so verblind deur die glans van die goue kalf, dat ons in ons troon-paleise sit en toekyk hoe ander om ons vernietig word – Solank die vernietiging tog net nie aan ons bas kom vat nie!

Lees meer “Stof tot Nadenke: God se amfiteater”

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” Dag 18

Visio Divina 11 Maart

VISIO DIVINA #18

Deel 1

In 1170 nC is ‘n klein (27 x 18 cm) geïllustreerde manuskrip vir die St Albans Abbey (Abdy) saamgestel – die sg. Albans Psalter. By elke illustrasie van ‘n bybelverhaal word die teks met ‘n versierde eerste letter (so groot soos ‘n klein muntstuk) begin. Waarna ons vandag kyk is die eerste letter (‘n “d”) waarmee die verhaal van Saggeus begin. Kyk lank hierna – wat sien jy alles? ‘n Boom met 4 takke. En druiwetrosse? Sou dit herinner aan Jesus se woorde: “Ek is die wingerdstok; my Vader die boer” (Joh 15:5). Of, dat ons aan ons vrugte geken sal word nie (Matt 12:33)?

Waarom 5 trosse as daar dan net 4 takke is? In die Bybel is die getal 5 die simbool van genade. Dit beeld God se genade-op genade, sy goedheid en guns teenoor die mens uit. (En is die verhaal van Saggeus nie juis ‘n verhaal van genade nie!)

Deel 2

TEKSVERS:

Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10).

Saggeus was nie net ‘n tollenaar nie; hy was die hóóftollenaar. Hy was nie net ryk nie, hy was báíe ryk. Saggeus was ook ‘n verstotene onder sy eie mense. (“’n Sondaar” noem Lukas hom in 19:7, m.a.w. iemand wat die Wet van Moses verontagsaam het.) Sulke mense is gewoonlik ook vereensaamdes, juis omdat hulle so “sosiaal onaanvaarbaar” was. (Ons ken almal sulke mense; dit is daardie tipe mense oor wie ons praat; of wie ons liefs in ‘n winkelsentrum maak of ons nie raaksien nie.)

Ek wonder of Saggeus gedink het hy gaan net ‘n toeskouer van Jesus bly? Die blindes en die melaatses het nog die verskoning gehad dat hulle nie hul eie siektetoestande “gekies” het nie; Saggeus – daarenteen – het gekies om ‘n tollenaar te wees. Hy het gekies om geld van sy arm landgenote vir homself toe te eien. Die verwerpinge wat hy moes ervaar was hy sélf voor verantwoordelik.

Mag ek eerlik bely? Ek weet nie of ek myself sommer met Saggeus sou vergelyk nie: ek is immers ‘n dominee (‘n christen); ek kom mense nie (doelbewus) te na nie; ek “probeer” darem goed wees, en ek dink nie ek besteel die armes nie. Maar dan hoor ek weer die woorde van Jesus: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is”. En dan wonder ek, wie is die gelukkigste mens? Saggeus, of ek wat dink dat ek “okay” is?

En jy?

GEBED:

Hemelvader, U ken my deur-en-deur. Wees my genadig, soos U vir Saggeus ook was.

———–

Sinfoglesia: “Gratia” (die Latynse woord vir genade)

Op Dag 18 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n Duitse groep, “Sinfoglesia” se nuwe lied, “Gratia” (die Latynse woord vir genade)

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.