Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 10 Maart 2023

VISIO DIVINA #17

10 Maart – Deel 1

Dit was eers in die 1500’s dat kunstenaars aandag aan híérdie bybelverhaal begin gee het. Sommige reken dit is omdat Martin Luther gereeld hierna verwys het as ‘n voorbeeld van vergewende liefde teenoor verguisende veroordeling. Wat hierdie skildery (deur die Vlaamse kunstenaar, Pieter Bruegel, 1565) so besonders maak is die vreemde monokleure (wat die figure bykans soos klipbeelde laat lyk). Waar ander kunstenaars die owerspelige vrou óf neergegooi op die grond, óf as ‘n gevangene voor die skare geskilder het, staan sy hier, kiertsregop, en is dit Jesus wat buig.

Hoe weet jy dit is Jesus? (Daar is geen stralekrans om sy kop nie; en Hy dra nie die tipiese purper-en-blou kleed nie.) Die bukkende man lyk dan net soos al die ander. Maar is dit nie die punt nie! Jesus lyk “soos ons.” ‘n Mens! Maar Hy tree anders as ons op. Jesus buig voor die sondige vrou en voor elke sondige mens wat staar.

VISIO DIVINA 17

10 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Joh 8:7).

Dit is ‘n strikvraag waaruit Jesus Homself nie sou kon loswikkel nie. Daar was net een regte antwoord: “stenig haar!” Dit was wat die wet van Moses beveel het. Vir owerspel is daar nie genade nie! Die Fariseërs het dit geweet. Die skare het dit geweet. Die vrou het dit geweet. En toe kom die vraag, “…Maar u, wat sê u?” (v5). Dalk sou Jesus (om tyd te koop) kon sê, “en die man, waar is hy? Bring hom, hy moet ook gestraf word volgens die wet van Moses.” Maar nee, Jesus antwoord nie ‘n woord nie. Hy buk net grond toe.

Dit was ‘n ontstellende ding wat Jesus gedoen het: hy verneder homself om laer as die vrou te buig … nie net ‘n vrou nie; maar ‘n vrou soos sý! En steeds geen woord nie! Hy krap net met sy vinger in die sand.

Natuurlik wou hulle ‘n antwoord van Jesus hê (want dan kon hulle hom aankla). “Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Het jy opgelet dat Bruegel klippe by haar voet geskilder het?)

Die res van die verhaal ken jy goed. Jy ken die gesprek wat Jesus met die vrou het (Joh 8:8-11). Maar mag ons nooit hierdie verhaal lees sonder om nie te onthou van die geboë Jesus nie En dit voor ‘n sondaar.

GEBED: Vergewe my, Here, dat ek soveel keer eerder reg wil wees as om te buig.

———–

Op Dag 17 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n “Nederland Zingt”-opname in Doesburg waar die gemeente “Genade, zo oneindig groot” sing.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.