Stof tot nadenke: Weerkaatsers van God se liefde

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges”

Kol. 1: 3-4

As ons deel is van God se kudde, beteken dit nie ons kan nou immer net kerk toe kom om gevoed te word nie. Dit beteken nie ons kan nou agteroor sit en sefvoldaan wees nie. As ons die pad saam met God stap, moet ons weerkaatsers vir Hom na buite word. Alle mense om ons moet sien dat ons van ons ou klere en verkeerde gewoontes afstand gedoen het, en dat ons die nuwe stel klere aangetrek het en daarmee die nuutgevonde gewoontes wat God ons gegee het, onder leiding van die Heilige Gees, uitleef. (Kol 3: 9-11).

Dis wanneer ons hierdie liefde van God die Vader, Jesus Christus die Seun onder leiding van die Heilige Gees na buite weerkaats, dat ander ook van ons sal kan sê dat hulle God dank vir ons geloof en liefde. Ons moet weg beweeg van die ou geestelike gevegte en kragtelose gebede, en ‘n geestelike minderwaardigheids gevoel, wat nie die liefde van God kan reflekteer nie. Dis soos ‘n spieël wat aangeslaan is, en niemand kan die wonderlike lig en liefde van God daardeur beleef nie.

Ons moet meer en meer op die eer en verheerliking van God ingestel word, deur ‘n lewe van omgee te leef, ‘n liefde wat vanself uitstraal deur die nederige en verootmoedigende afwagting op wat God van ons vra. Ons moet vergeet van ons eie belangrikheid in ‘n baie verganklike wêreld, vergeet om konstant oor ons onsself en ons eie belange te bekommer. Wanneer ons God heel eerste stel en daarnaas ons medemens, sien ons so dikwels dat ons probleme wat vir ons so enorm lyk, dikwels nie eers die skaal kan tip wanneer dit vergelyk word met alles wat ons mildelik as geskenk gekry het of met die pyn en seerkry van ander nie. Dit help niks as ons God loof met mooi woorde nie, maar ons lewe weerkaats ‘n heel ander beeld nie.