Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 3 Maart 2023

VISIO DIVINA #10

3 Maart – Deel 1

Sonder om te raai weet jy dadelik hierdie (16de eeuse) ikoon beeld Jesus uit wat ‘n storm stil maak. Omdat ‘n enkele ikoon die hele storie moet vertel, sien jy twee Jesusse (met glanskrans om elk se kop): eers ‘n slapende Jesus, dan een met ‘n uitgestrekte hand wat die golwe stil maak. Maar dit is nie die unieke van die ikoon nie. Kyk in die rigting waarna Jesus se hand dui: ‘n bose figuur met ‘n tuit in sy mond wat wind aanblaas. Aan die oorkantse oewer is daar bose geeste wat op die varke se rûe aangejaag kom en in die see in vaar. Dit herinner dadelik aan die verhaal (in Mark 5:1-20) waar Jesus die bose geeste uit die besetene van Gerasa uitdryf, en die demone in die varke jaag, wat dan oor die krans val in die see in en daar verdrink (Mark 5:13).

Deur die eeue het ‘n skuitjie met ‘n kruis op die stormsee die simbool van die Kerk geword. Vandag nog is dit die realiteit van die Kerk.

VISIO DIVINA 10

3 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “… ‘n Verstandige man (bou) sy huis op rots. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots” (Matt 7:24-25).

Die kans is goed dat, toe Jesus hierdie woorde in sy bergpreek gee, dat die skare (wat almal Galileërs was, en die Skrifte geken het) aan Spreuke 10:25 gedink het, “As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan.” Of dalk aan Job wat sê, “Die goddelose se huis is tydelik… Die oostewind lig hom op, en weg is hy, dit waai hom weg uit sy plek. … Die wind klap sy hande van blydskap terwyl hy die goddelose uit sy plek wegblaas” (27:18-23).

Soms wil aanhangers van Voorspoedsteologie ons wysmaak dat daar iets fout in ‘n gelowige se lewe is as daar krisisse in hul lewens opduik. Christenskap – helaas – is nie “bubble wrap” wat gelowiges toedraai en van ellende en pyn beskerm nie. Vergaan beide gelowiges en ongelowiges se huise nie op dieselfde wyse in ‘n brand of ‘n aardbewing nie? Dit kan dus nie die sigbare wees waaroor Jesus praat nie.

Jesus praat hier oor die keuses wat ons in die lewe maak? Die keuses wat ons vandag uitoefen bepaal die rigting waarheen ons lewe more gaan inslaan. Waarop baseer jy die keuses wat jy daagliks maak? Waar soek jy wysheid en raad?

Jakobus se antwoord sou dadelik wees: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid” (Jak 1:5). Jesus sou daarmee saamstem!

GEBED: U is die fondasie, My Here, maar as ek U pad nie kies nie, is ek ‘n dwaas.

———–

Op Dag 10 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die Suid-Afrikaanse sopraan en komponis; Gisela du Plessis, se weergawe van “Voel jy soms.

Uit die lirieke

Voel jy soms of die Here te ver is
Twyfel jy soms aan God se bestaan
Jy moet glo dat die Here met jou saamloop
Dat Sy gees oral met jou sal gaan

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.