Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 8 Maart 2023

VISIO DIVINA #15

8 Maart – Deel 1

Weereens sien ons hier ‘n uitbeelding van Jesus wat die kulturele reëls van sy tyd ignoreer, en weereens is ‘n vrou ter sprake. Nie net is sy ‘n nie-Jood (Samaritaan); maar sy is alles wat die Wet van Moses veroordeel: sy is al by haar vyfde man! Soos altyd is Jesus geklee in kleure wat beide sy goddelike (rooi/purper) en sy menslike (blou) status uitbeeld.

Daar is twee uitstaande kenmerke van hierdie ikoon: die put is in die vorm van ‘n klassieke doopfond. Natuurlik is dit simbolies van die Lewende Water wat haar reinig; ook bitter water (Mara) soet gemaak deur Christus. Maar dan sien jy hulle raak! Agter Jesus staan hulle, koppe na mekaar gedraai; drie dissipels. Agter haar, staan 2 ou mans in die stadspoorte (bewaarders van die sedes) en nog twee nuuskieriges.

Hoe konfronteer hierdie ikoon ons nie met al ons stereotipering nie!

VISIO DIVINA 15

8 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Baie van die Samaritane in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom op grond van die woorde van die vrou wat getuig het: ‘Hy het my alles vertel wat ek gedoen het’” (Joh 4:39).

Volgens oorlewering het die Samaritaanse vrou ‘n naam gehad: Fotini (wat “helder lig” in Grieks beteken). Hoe insiggewend dat dit juis die naam van ‘n vrou is met ‘n donker geheim. (“Ek het nie ‘n man nie”, antwoord sy Jesus. “Dis reg wat jy nou gesê het: ‘Ek het nie ‘n man nie.’ Jy het reeds vyf gehad, en die een wat jy nou het, is nie jou man nie” – Joh 4:16-18). Hierdie vrou was ‘n uitgeworpene – vir Jode was sy vuil; ‘n Samaritaan. Onder haar eie mense ook, daarom dat sy nie saam met die ander vroue gaan water skep nie; maar op die warmste uur van die dag (aldus vers 6). En tog word sy die eerste een wat verstaan dat Jesus die Messias is. Lank voor die dissipels dit begryp, begryp sy. Inderdaad word sy die eerste apostel: sy hardloop om almal in haar dorp te roep; “kom kyk, kom kyk!”

Fotini se lig skyn! Ongeag haar verlede. Ongeag haar agtergrond. Dit is wat gebeur as die Lig van die Lewe op jou val.

GEBED: Here, maak van my ‘n helder lig en laat my in die donker skyn

———–

Op Dag 15 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na “U is die Lig wat in die donker skyn”; soos uitgevoer deur die massakoor en Kaapse Filharmoniese orkes, o.l.v. Chad Hendriks.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.