Lees deur internet, klik hier >> kommunikasie@kaapkerk.co.zaAmptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland Beste Groot-Brakrivier SINODENUUS![]() Die storie agter die sinodelogo Die 2023 Sinodesitting spog met ‘n kleurvolle logo wat deur die grafiese kunstenaar Lizanne Jordaan ontwerp is. Daar is egter baie simboliek en dinkwerk agter die protea. In die abstrak is daar gekyk na ‘n kaleidoskoop om die diversiteit van die Wes-Kaap vas te vang, maar terselfdertyd vorentoe te kyk met God as ons middelpunt. Uiteindelik het sy haar inspirasie gekry in die unieke inheemse plantegroei in die Wes-Kaap soos ons fynbos. Uiteindelik het sy die vorm van proteablare gebruik om die Drie-eenheid en vyf bewegings tydens die sinode uit te beeld met ‘n kleurvolle palet om ons ankergedagte Christus, ons vreugde! te vergestalt. Klik hier om haar visiebord en ontwerpproses te sien. Geloofsbriewe en inligtingsvormsAfgevaardigdes word daaraan herinner dat die sperdatum vir die voltooiing van die inligtingsvorm Dinsdag 14 Maart is. Klik op die grafika hieronder om die aanlynvorm in te vul. Dit is ook beskikbaar op https://www.kaapkerkadmin.co.za/ onder Sinodesitting 2023.Let asseblief dat Artikel 33.4 bepaal dat geloofsbriewe sowel as inligtingsvorms ingedien MOET word. ![]() Nuwe Saakgelastigde Die Sinode van Wes-Kaapland het ‘n nuwe persoon in die kantoor van die Saakgelastigde. Na die bedanking van mnr. Stephan Pretorius, het die moderatuur besluit om ‘n tussentydse reëling te tref en onmiddelik vir Charl Stander te vra om die posisie van waarnemende saakgelastigde te aanvaar.Charl het op 28 Februarie geëmeriteer as leraar, nadat hy vir 37 jaar in die bediening by NG Kerk Kraaifontein Parke was. Hy en sy vrou Ilna het hulle in die Paarl gaan vestig. Charl is tans nog die aktuarius van die sinode en gaan ook hierdie funksie bly vervul tot na die sinodevergadering in Mei. Charl se verantwoordelikheidsin is sodanig dat hy besef het die kerk het hom nodig en dat hy oor besondere kundigheid beskik om spoedig in die rol van saakgelastigde in te pas. Hy het reeds op Maandag 6 Maart met sy nuwe werk begin. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, skryf dat hulle baie dankbaar is dat Charl die oorgangsrol sal vervul. “Sy kennis van die sinodale sisteem, maar veral ook van die gemeentes van ons sinode, maak van Charl ‘n besonderse bate in al die spanne waarin hy funksioneer. Hy is ewewigtig en weldeurdag, het wysheid en begrip en sal sterk leiding kan gee aan die personeel, asook die gemeentes wat advies benodig. Ons sien baie uit na die nuwe tyd saam met Charl in hierdie belangrike pos van ons kerk. Ons bid ook dat die Here aan hom alles sal voorsien wat hy nodig het om al die verantwoordelikhede van hierdie pos te kan vervul. Ons is groot dank verskuldig aan Charl en Ilna wat baie persoonlike opofferings moet maak om nou hierdie werk te doen.” ![]() Sinode verwelkom nuwe PSD Siegfried Louw van Brackenfell-Proteahoogte het die pos van PSD (Predikant in Sinodale Diens): Predikantebegeleiding aanvaar. Ons wens vir hom voorspoed in hierdie nuwe fase van sy bediening en bid dat die Here hom sal lei en seën. Siegfried vertel dat hy opgewonde is dat die Predikantebegeleidingspos na Wellington toe skuif, omdat die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit ʼn fisiese ruimte gee waar mense net weer hulleself kan vind. “Ek sien en beleef dat predikante dikwels baie moeg is of vasgeloop voel. Daar is so baie uiteenlopende komponente in die bediening. As jy jou oë uitvee, is jy oraloor met alles besig, maar jy verloor jouself. Dit is die teenoorgestelde van integrasie. En dan vervaag jou roepingsfokus. My droom is om, saam met ander mense rondom my, prosesse te ontwikkel en verder uit te bou wat predikante help om hulle werk met vreugde en vervulling te doen. ʼn Veilige ruimte vra nie net ʼn mooi tuin nie – dit vra ook eerlike oomblikke wat ons doelbewus moet skep. Ek hoor soms dominees praat oor hulle geloofsbelewenisse – oor wie God vir hulle is. En dan maak dit my hartseer as dit klink asof ons soms godsdiens in die kerk bedryf en ons eerlike geloof liewer in privaatheid uitleef. Die Sentrum vir Spiritualiteit beskou ek as ʼn veilige hawe waar ons die “pause-knoppie” kan druk, brokstukke van ons lewe (goed en sleg, lelik en mooi) weer bymekaar kan sit en met blydskap ons Godgegewe roeping kan koester.Elke enkele dominee het iewers met ʼn roeping of ʼn droom begin. Daar is soveel wonderlike Bedienaars van die Woord. Ek is daarvan oortuig dat God se Woord nie onverrigter sake na God terugkeer nie. Ek brand om dit saam met kollegas te sien en te hoor gebeur. Party het al ʼn bietjie moed opgegee of het besluit om maar net eenkant hulle eie ding te doen, want dit is al waarvoor hulle krag oor het. My uitnodiging sou wees: “Kom ons wees regte, gewone mense vir mekaar… en vertrou God vir wat volgende gebeur.” Lees gerus meer oor Siegfried se lewe en roeping as predikant op ons webblad. Foto: Siegfried saam met sy seun Carlo, dogter Leandri en vrou Elfreda. ![]() Moderamen sluit termyn af Die huidige moderamen het vandeesweek (6-8 Mei) vir die laaste keer in hulle vier jaar termyn vergader. Die propvol agenda het verslae van die verskillende diensgroepe en taakspanne asook ‘n uitgebreide moderatuursverslag ingesluit. Dr. Tommy Solomons van die Rynse Kerk in Suid-Afrika was Dinsdag die gasspreker, terwyl dr. Coenie Burger Woensdag die nuwe publikasie Ons wil Jesus sien bekendgestel het (lees meer hieroor onder Publikasies). ‘n Opsomming van die vergadering sal eersdaags aan gemeentes gestuur word.Vier dominees uit die Suid-Kaap het na vier jaar as ringsvoorsitters vandeesweek hulle laaste moderamenvergadering bygewoon. Na afloop van die vergadering stuur Pieter ‘n stemboodskap. “Daar kom nou nuwe leierskap in die Suid-Kaap. Ek en Jan ry al vir vier jaar saam na elke moderamenvergadering toe. As ons uit George vertrek, praat ons oor ons gemeentes en as ons terugry, praat ons oor hoe dit in die groter kerk gaan. Vir ons was dit ‘n ongelooflike leersame tyd en ons het baie oor die kerk, leierskap en vergaderingsprosedures geleer. Ons is eintlik hartseer om klaar te maak, maar dis nou tyd vir ‘n nuwe generasie leiers om oor te neem.”Foto van links na regs: Willem Smit van Hartenbos, Pieter van Santen van George-Tuinedal, Anton Louw van Knysna en Jan Marais van Oudtshoorn-Wes. ![]() Zithulele Vennootskap verbind gemeentes “Tydens ons onlangse besoek aan die VGK Zithulele, in die voormalige Transkei, is dit weereens bevestig dat ons besoek daar nie net ’n uitreik na hulle toe is nie, maar dat dit werklik ’n tweerigtingstraat in ’n vennootskap met mekaar is.” So vertel ds. Wynand Breytenbach, predikant by Durbanville-gemeente en sameroeper van die Zithulele Vennootskap, wat onlangs saam met ’n paar van hul lede op besoek was aan Zithulele. Lees meer van hul besoek hier.Foto van links na regs: Louise Koch (Sonstraal-gemeente), ds. Christi Thirion (Kenridge-gemeente), ds. Mzukisi Mtyana (VGK Zithulele) en ds. Wynand Breytenbach (Durbanville-gemeente) . ![]() ![]() Pedriatiese noodhulp opleiding Medical Education Centre (MEC) bied op 27 Junie ‘n pediatriese noodhulpkursus by Badisa se kantoor in Bellville aan. Die opleiding word aangebied deur Little Seeds. Die koste van die kursus beloop R500. Daar is beperkte plekke beskikbaar. Little Seeds nooi alle belangstellendes uit om met Zylia Volschenk by 082 902 8391 te skakel indien jy belangstel in die opleiding. ’n Sertifikaat word na afloop van die kursus uitgereik. ![]() Kerkenboek van Caap de goede hope Ds. Joannes van Arckel is op 23 Augustus 1665 aangestel as die eerste predikant van die gereformeerde kerk aan die Kaap. Dit was die konstituering van die eerste Christelike gemeente aan die Kaap en word dan gesien as die stigtingsdatum van die Kaapstad-gemeente (Groote Kerk) en die begindatum van die NG Kerk in Suid-Afrika. Die eerste dokumente van die gemeente is deur die dominees bygehou en dit is van leraar tot leraar oorgedra. Hierdie oudste dokumente van die kerk, nl. notules, doop-, lidmaat- en huweliksregisters is later van tyd saamgebind in een dokument en is bekend as Kerkenboek van Caap de goede hope. Die Kerkargief het in samewerking met prof. de Boer (links op foto links onder) hierdie werk as die sesde boek in die Argiefpublikasiereeks laat publiseer. Dit is op Vrydag 24 Februarie op Stellenbosch bekendgestel. Dolf Brits, professor in Kerkgeskiedenis, het met prof. de Boer gesels oor die werk en ook goeie toeligting gegee oor die beginjare van die kerk in die Kaap. Op Sondag 26 Februarie het Andrew Kok van die Argief die boek ook in die Groote Kerk bekendgestel en ‘n kopie van die boek is aan ds. Riaan de Villiers oorhandig (foto regs).Die boek is beskikbaar by die Kerkargief teen R250 plus R100 posgeld. Kontak die argief by argief@kaapkerk.co.za vir bestellings. ![]() ![]() Stewige bande met Arbeidsbediening Helderberg – tot groot seën vir almal “Dis wat in die praktyk gebeur as ‘n mens met ’n oop hart, ’n oop gemoed en opregte toewyding getuig oor wat die Here vir jou gedoen het en ook vir ander mense kan doen,” sê At Kampman, geestelike werker van Arbeidsbediening Helderberg in die Strand. “Op hierdie manier kry die Here die eer wat Hom toekom.” At praat hier van die effek wat hul bediening dikwels het op van die talle besighede wat deur hul 35 vrywilligers bedien word. Lees meer oor hoe dit veral een besigheid geraak het hier.Foto: Die voorsitter van Arbeidsbediening Helderberg Buks du Toit (links) en geestelike werker At Kampman (regs) by hul kantoor in die Strand se ingang. ![]() SAFCEI by presidensiële kommissie Die Presidential Climate Commission het gister in Johannesburg met verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en SAFCEI (South African Faith Communities Environment Institute) vergader. Die R1.4 duisend miljard Just Energy Transition Plan is in detail bespreek. So ook die ontwikkeling van groen waterstof, uitfassering van petrolaangedrewe motoraanlegte. Braam Hanekom skryf: “Ons is in krisis. Werksverliese by steenkoolmyne of kinders wat doodgaan weens besoedeling? Ek was egter baie beïndruk met die vlak van die gesprek. Daar is hoop!”Foto van links na regs: Braam Hanekom, Queen Munyai en Francesca DeGasparis van SAFCEI. EKOLOGIE Groenspan besoek aan boomplantprojek in Malawi Dewald Hoffmann, koördineerder van die Taakspan Ekologie en Noxolo Fihla, lid van hul Groenspan, was bevoorreg om verlede week Malawi te kon besoek in verband met ʼn boomplantprojek. Die projek word in vennootskap tussen Getuienisaksie en ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode gedoen. Die doel van die projek is om bome te plant in gebiede wat veral in gevaar van ontbossing is. Tot dusver is daar 600 bome by agt verskillende plekke geplant. Die projek plant spesifiek bome op of naby CCAP-gemeentes met lidmate, kleingroepe, kore en diensgroepe wat elkeen ʼn boom of twee aanneem. Die bome word dus nie net aan die elemente oorgelaat nie, maar word deur die lidmate van die gemeentes versorg. Die doel van Dewald en Noxolo se besoek was om van die gemeentes te besoek en ook meer te leer oor die hele proses. Kontak gerus vir Dewald by ds.dewaldh@gmail.com vir meer inligting. GEMEENTENUUS ![]() Worcester-Vallei in vennootskap met Songo Worcester-Vallei beplan ‘n Afrika-uitreik van 23 Junie tot 9 Julie om die gemeente van Songo te help. Die Mosambiekse gemeente is sowat 3 000 km van Worcester af geleë. Die kerkgebou wat in 2020 beplan is, is tot op dakhoogte gebou en die gemeente versoek tans hulp met die dakkonstruksie.As jy belangstel om deel te raak van die uitreik, stuur ‘n WhatsApp aan Worcester-Vallei se kerkkantoor by 066 158 9857 en vra vir ‘n inskryfvorm. Enige navrae kan aan Johan Blomerus gerig word by 082 829 7302.”Belangstellendes moet in voertuie groepeer. Elke voertuig werk dan as ‘n eenheid en die passasiers moet selfonderhoudend wees vir die hele trip. Daar is geen sentrale koördineerder nie en daar word 100% staat gemaak op onderlinge reëlings. Belangstellendes moet ook min of meer R20 000 vir brandstof begroot per voertuig vir soontoe en terug. Songo sorg vir kampplek waar almal dan as groep saamsnoer, oornag en take sowel as etes deel. Die gemeente van Worcester-Vallei sal die boufonds vir die dak dryf. Sluitingsdatum vir inskrywings is 24 Maart, so moet asseblief nie wag nie!” ![]() Van trauma tot triomf Akteur en skeppende kunstenaar Erik Holm bied in Mei sy vertoning “Van Trauma tot Triomf!” by NG Gemeente Bellville-Vallei aan. Hierdie uurlange reis deur die heuwels en dale van die mens se hart en gees, is gebaseer op Erik se ervarings nadat hy na ‘n fratsduikongeluk in 2007, op die ouderdom van 25 ‘n kwadrupleeg geword het. Na baie omwentelinge wat hom geskep en herskep het, kom deel hy nou in die vertel-spel sy storie van oorlewingsgees en druppels dou van lafenis en lag.”Die ervaring is ‘n wa-wip rit deur die newels van die goed-en-sleg, mooi-en-lelik, die gee-en-neem van die lewe, met die gees van vernuwing en hoop altyd in die oog. Met oomblikke van diep teerheid, gevolg deur uitspattige en traanskietlag uit die maag, is hierdie kleurvolle ervaring werklik iets wat blyplek vind in jou hart en gedagtes.”Bellville-Vallei nooi ieder en elk om saam hierdie ervaring te kom geniet. Fondse word ingesamel ten bate van MES en gaste word aangespoor om ook enige onbederfbare kos of toiletware saam te bring as deel van hul ingangsfooi. Verder sluit die prys verversings asook versnaperinge wat die tongspiere sal kielie in. Daar sal ook interessante stalletjies wees. ![]() 70 jaar van genade in Parowvallei-Oos Sondag 26 Maart om 09:30 vier Parowvallei-Oos hulle 70ste verjaarsdag! Hulle beplan om ‘n langtafel liefdesmaal buite in Amazing Place te hou. Die tema van hierdie spesiale geleentheid is Jesus ontmoet ons by die tafel. Almal is welkom, maar ter wille van beplanning moet jy Soekie teen 22 Maart per WhatsApp by 072 306 8602 of e-pos by ngpvoos@telkomsa.net kontak om ‘n sitplek te bespreek. ![]() ![]() ONS FAMILIE IN AFRIKA ![]() God aan die werk in Kenia “Afrika los mens altyd met weersprekende emosies,” vertel dr. Koos Greeff, tentmaker-predikant, tans verbonde aan die NG Kerk Vredenburg, wat in Februarie op besoek was aan Kenia. Hy is deur dr. Luka Ariko, die algemene sekretaris van ons susterkerk daar, die Reformed Church in East Africa (RCEA), uitgenooi om vir twee weke by hul seminarium in Eldoret klasse oor inleiding tot sistematiese teologie en inleiding tot ekklesiologie te gaan aanbied. Lees gerus hier hoe hy ten spyte van sy verlore tas en die gevolglike uitdagings ook diep geroer is deur die uitlewing van ons susterskerk in Kenia se Christenskap. Foto: Dr. Koos Greeff saam met die RITT-studente. PREDIKANTENUUS ![]() Karla Smit bevestig by NG Lambertsbaai NG Gemeente Lambertsbaai laat weet dat Karla Smit die afgelope naweek by hulle verwelkom en bevestig is. Hierdie is haar eerste gemeente. Sy is Saterdagaand bevestig deur Cobus Swanepoel van De Tyger-gemeente waar sy ‘n proponent was en het Sondag haar intreepreek gelewer. Hetta Saunderson vertel dat dit vir hulle as gemeente werklik ‘n voorreg is om hulle eerste vrouepredikant te ontvang. “Welkom ds. Karla! Dankie aan al die gaste wat van ver gekom het om die aand nog meer spesiaal vir haar te maak. En dankie vir almal wat namens die Ring van Clanwilliam daar was. Spesiale dank aan ons lidmate vir die ongelooflike samewerking om ‘n LIEFDE Sonder Grense markie te hou en dieselfde aand sonder krag die pragtige saal met diè lekkerste eetgoed gemaak het.” Klik hier om meer foto’s van die geleentheid te sien. Voorspoed en seën met jou bediening in Lambertsbaai, Karla! ![]() Uitsig-gemeente verwelkom Suléne du Toit NG Gemeente Uitsig in Bellville is opgewonde om vir Suléne du Toit, haar man Rikus en seuntjie Jean as deel van die Uitsig-familie te verwelkom en bid vir haar ‘n geseënde bediening toe. Sy is op Sondag 5 Maart 2023 as medeleraar van die gemeente bevestig en is die sewende leraar in die geskiedenis van die gemeente. Suléne het in die hartjie van die Karoo, op ‘n plaas naby De Aar, grootgeword en was die afgelope vier jaar leraar op Fraserburg. Foto: Uitsig-gemeente se twee leraars Suléne en Louis Minnaar en hulle eggenote. TOERUSTINGSGELEENTHEDE Klik op die grafika vir meer inligting. ![]() ![]() GEBEDSVERSOEK VAKATURES Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures. ![]() BEHOU DIE HUMOR PUBLIKASIES ![]() Hoogtepunte uit Kerkbode Dele van Namakwaland is al nege jaar sonder goeie reën. Kerkbode was onlangs daar om eerstehands te hoor en sien wat beteken droogte én droogtehulpprojekte soos RSG Red ’n Plaas vir mense soos Berto Archer, wat boer naby Kamieskroon, en Elton Vries, wat boer naby Springbok. Hulle vertel hul stories in die video hieronder. ![]() Nuut op die rak Ons wil Jesus sien is tydens vandeesweek se moderamenvergadering bekendgestel. Dr. Coenie Burger en professor Marius Nel se publikasie fokus op die ryk en vreemde veelkantigheid van Jesus se lewe en veral van sy werk. “Ons besef nie altyd hoe sentraal Jesus Christus in die Christelike geloof staan nie en ons moet meer aandag gee aan die veelkantigheid van Christus se lewe en werk. Ons moet ruimte maak vir groei in ons verstaan van Jesus en ons geloof in Hom,” sê Burger tydens die bekendstelling.Die boek bied ’n waardevolle oorsig oor wat die Nuwe-Testamentiese boeke oor Jesus sê, én hoe gelowiges deur die eeue heen – tot vandag toe – oor Jesus en sy werk gedink het. Die skrywers bou voort op van die heel beste navorsing, maar het die boek vanuit ’n geloofshoek vir gewone gelowiges geskryf.Klik hier om die boek aanlyn by Bybel-Media te bestel. ![]() Wêreldbiddag vir mans In die nadraai van Wêreldbiddag vir Mans wat op 5 Maart gevier word, herinner CLF dat hulle gratis pamflette vir mans beskikbaar stel wat aanlyn of via e-pos bestel kan word. Mans het vandag meer as ooit tevore aanmoediging, goddelike wysheid en hoop nodig. God se Woord is vol manlike figure wat God met hulle hele hart, verstand en siel gesoek het! God het ‘n spesiale roeping vir mans om sterk, moedige leiers te wees, en Sy Skrif kan die inspirasie bied wat hul nodig het om daaglikse stappe te neem in die rigting van hul roeping.1 Timoteus 6: 11-12 “Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na opregtheid, toewyding aan God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal. Daartoe het God jou geroep en het jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê.” NUUSBRIEWE ALGEMEEN ![]() Raakgelees: Musiek toon hoe SA’ers voel Musiek is ‘n integrale deel van selfuitdrukking en help mense om hulle gevoelens te verwoord. Die musiekstroomdiens Spotify se nuwe data onthul wat die heersende gemoedstoestand vir Suid-Afrikaanse luisteraars is volgens die toon van die snitlyste waarna ons luister en gee so ‘n blik van hoe 2023 tot dusver ervaar word.Die snitlyste waarna Suid-Afrikaners luister, is oorweldigend positief. Produktiwiteit is die topbui, met fokus in die derde plek en motivering sesde. Dit blyk dat Suid-Afrikaners ook meer selfversekerd wil voorkom, met selfvertroue wat ook in die top-10 pronk.Maar die soektogte is nie net maanskyn en rose nie, want “donker” is die tweede gewildste bui vir snitlyste in ons land (en dit is die soort donker wat niks met beurtkrag te doen het nie), terwyl “hartseer” die bui is wat in die negende plek verskyn. Die top 10 word afgerond met “chill”, “free” en “happy” vir balans, terwyl “hopeful” net buite die top 10 in die 11de plek is. Luister gerus Hauke Egermann se TedTalk waarin hy meer vertel oor hoekom mense emosionele reaksies op musiek het. ![]() Geloofsreis vir lidmate Die Sentrum vir Geloofsvorming bestaan reeds 14 jaar – honderde leiers se lewens is op ‘n baie diep vlak getransformeer. Hierdie reis is nou nuut verpak vir gelowiges.Kern elemente: Om God beter te leer ken – Hy is Here en Hy is hier! Om persoonlik met Jesus te lewe – groter intimiteit is die gevolg. Om Sy stem duideliker te hoor.Om Hom te leer ken nie net as Verlosser nie – maar “Afrigter” vir die daaglikse lewe.Om te ontdek dat Christenskap nie net uiterlike rituele is nie – karaktergroei na Christus se karakter toe vind plaas. Om jouself beter te leer ken. Ontdek jou eie emosionele ongesondheid en beleef vryheid.Om Die oorvloedige lewe (Joh. 10) wat Hy beloof, te ervaar. Jy begin vry en lig leef. Omdat jy verander, verander jou huwelik, werksplek, gemeenskap, SA.Datum: 10 – 12 Maart 2023 Plek: ATKV Goudini, Rawsonville Koste: R1650 per egpaar (Sluit akkommodasie, twee etes en materiaal in) Registreer: Stuur ‘n e-pos na info@geloofsvorming.co.za voor 24 Februarie 2023. KUIERKANSE ![]() Klik bo vir ‘n lys van gemeentes met gesellige geleenthede. TEN LAASTE ![]() Die sleutelteks vir die derde Sondag van Lydenstyd is Romeine 5:1-11. “Omdat ons dan nou op grond van geloof regverdig is, het ons vrede by God ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons in geloof ook toegang verkry tot hierdie genade waarin ons vasstaan, en ons beroem op die hoop om deel te kan hê aan die heerlikheid van God.”Mag ons hierdie week die genade van God beleef en vrede vind. Luister gerus hier na Peace van We The Kingdom/Sparrow Records. Illustrasie: Tumiso/Pixabay.VrydagNuus-groeteRonelda Visser en Wilmi Wheeler kommunikasie@kaapkerk.co.za Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.zaTeken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring |




SINODENUUS
Geloofsbriewe en inligtingsvorms





























PUBLIKASIES 






KUIERKANSE 
