“Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit ‘n gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof;”
Rom. 12: 6
Mens sit soms in die kerk en luister na die boodskap en soms is daar geen boodskap vir jou spesifiek nie. Het ek dit verkeerd verstaan? Is daar dan nou fout met my? Hoekom is ek nie vandag begeester nie? Is die vrae wat dadelik by jou opkom. Jy kan nie onthou dat jou gedagtes afgedwaal het nie. Is ek dan nou een van die mense waarna Jesus in Matt. 13:14 , ‘wat hoor, maar nie verstaan nie; en sien maar nie insig het nie’? Wanneer mens dan 1 Kor 12: 7 “Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is.” lees, besef mens dat daar moontlik ook ‘n ander kant aan hierdie situasie kan wees. Of is dit net ‘n poging om my eie onkunde te regverdig? Ook in 1 Kor. 14:6 hoor ons dat indien die spreek in tale nie bevorderlik is vir die gemeente nie, het dit geen nut nie. Waar trek mens die streep oor wat bevorderlik en wat nie bevorderlikis nie?
In 2 Pet. 1:20-21 noem Petrus dat geen profesie op die uitleg van ‘n mens berus nie, aangesien die prediker se woorde deur die Heilige Gees ingestel moet wees. Dan alleen sal die woorde, deur mense uitgespreek, van God afkomstig wees. Timoteus maan in 1 Tim. 4:7 dat die prediker noulettend moet wees op homself, asook op die leer van Jesus Christus, sodat jy jouself kan red, asook die wat na jou luister. Dis ‘n besonder groot verantwoordelikheid. Pred. 1:17 noem dat hy hom daaraan toegewy het om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Hy het die sinlose lewensbestaan in baie detail genoem, maar in Pred. 3: 14 kom hy tot die besef “dat alles wat God doen vir altyd sal bestaan. Daaraan kan niks toegevoeg word nie, en daarvan kan niks weggeneem word nie. God het dit gedoen sodat hulle (ons) ontsag vir Hom sal hê.”
Die gelykenisse van die saaier (Matt. 13: 1-23), asook die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matt. 13:24-30) maak ons bewus daarvan dat die woorde van die prediker nie altyd vir almal ewe effektief bereik nie, en dat die vrug wat gedra word nie altyd in dieselfde mate gemeet kan word nie. God laat ook toe dat die onkruid tussen die koring kan groei, ten spyte van moontlike drastiese negatiewe gevolg op die ou end, omdat Hy nie die goeie koring verkeerdelik uitgehaal wil sien, wanneer die onkruid uitgetrek word nie. In alles sien ons God se liefde vir ons nietige mense raak.
Maar hoe onderskei ons as gelowiges of die boodskap bevorderlik of nie bevorderlik is nie? Hoe onderskei ons tussen vals en ware profete. Volgens my beskeie mening is daar net een manier om dit te doen. Dit is om die boodskap te meet aan die Evangelie van Jesus Christus. Het die boodskap die Evangelie verkondig? Was die boodskap bevordelik vir die geestelike opbou van die gemeente? Het die trefkrag van die boodskap eer gebring aan God die Vader, die genade van Jesus Christus se offer, en die nabyheid van die Heilige Gees beklemtoon? Ons moet egter ook onthou, God ken elkeen se hart en aan Hom alleen kom die oordeel toe, ook die ordeel teen valse profete (Jer. 23).

