“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid”
1 Tim. 2: 1-2
Gebed is deel van ons dag se bestaan wanneer ons meelewende Chistene is. Dis egter nie altyd so maklik om te besluit wat en waarvoor ons moet bid nie. As kind, onder leiding van gelowige ouers, leer mens aanvanklik om enkel sin gebede te doen. Ons leer om vir die mense naby en om ons te bid. Soos ons ouer word raak die gebede soms dikwels meer ek-gesentreer. Daar word immers gesê “Bid en vir julle sal gegee word” (Mark. 11: 24). Vir sommiges is dit makliker om te bid as vir ander. Maar moet ons gebede ek-gesentreer wees?
In die bybel is daar menige voorbeelde van gebed. Ons kan gaan kyk na koning Salomo se gebed by die opening van die Tempel (1 Kon. 8); die noodgebed van Dawid (Ps. 17); die lofgebed tot eer van God, van Dawid (Ps 86); die dankseggings en verootmoedigings gebed van Moses (Ps. 90); Daniël se gebed van sonde belydenis (Dan. 9: 8-9), Jona se noodroep gebed nadat hy ongehoorsaam was (Jon 2:7) en Habakuk se verootmoedigings gebed omdat die volk gesondig het (Hab. 3: 17-19). So kan ons voort gaan om voorbeelde aan te haal.
Hoe moet elkeen van ons egter bid? In Matt. 6: 7 word ons gemaan om nie met ‘n stortvloed van woorde te bid nie. Uit al die voorbeelde reeds genoem, is dit duidelik dat daar menige maniere van gebed is, afhangend van die dankbaarheid, nood of sondigheid. Elkeen van ons het ‘n unieke verhouding met God. Vir Job was God sy vriend wat vir hom voorspraak kon doen (Job 16: 19-22). Na Christus se kruisiging en hemelvaart, met die uitstorting van die Heilige Gees, het elkeen van ons wat glo, nou ‘n vriend en voorspraak by God. Die Heilige Gees wat ons lei in gebed.
Waar moet ons bid? Ons moet gedurig waak daarteen dat ons nie skuldig staan voor Christus se aantuiging van Matt. 21:13, nadat hy die kopers en verkopers van die tempelterrein verjaag het,: “My huis sal ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het daarvan ‘n rowerspelonk gemaak!” Laat ons die huis van die Here ‘n aanbiddings hawe maak. Soos Christus Hom self afgesonder het in voorbidding (Luk. 6:12) en in nood (Luk. 22:44-46) , kan ons ook enige plek in afsondering bid. Hetsy of dit in ‘n kerkgebou, jou binnekamer, of in die wye en wonderlike natuurskepping van God is.
Hoekom moet ons bid? Watter beter antwoord as “…sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid” soos gestel in 1 Tim 2: 2. Sodat ons nie so verstrengel raak in hierdie wêreld se afleidings en moelikhede nie, maar dat ons deur lofgesong en in dankbaarheid, en in alles God se raad vra, net soos al die opregte gelowiges voor ons.
Waarvoor moet ons bid? Daar is geen einde aan waaroor en waarvoor ons kan bid nie. Dis soos om alles met jou beste vriend/in te deel. Sondebelydenis, vergifnis te vra, alles te deel wat in jou lewe gebeur…die hartseer, die blydskap, die dankbaarheid, die verwondering oor God se grootheid en almag. Daar is egter ook duidelike aanduidings van dinge wat ons nie moet nalaat in ons gebede nie. Die dinge wat ons soms liewer nie wil doen nie, soos om vir ons vyande en vervolgers te bid (Matt 5:44), of in smeking, voorbidding en danksegging te bid vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen (1 Tim. 2:1). Ons kan veral ook bid dat ons die vrug van die Gees sal verkry (Gal 5:22), sodat ons lewe volkome sal wees in Christus se genade en tot verheerliking van die Vader. Maar Christus het vir ons, vir wie woorde nie so maklik kom nie, die volmaakte gebed gegee in die woorde van die Onse Vader (Matt. 6: 9-13), en in Kol. 4:2-3 word ons gemaan om te volhard in waaksame en dankbare gebed sodat God se genade en die misterie van Christus en die Heilige Gees verder ontsluit sal word.


