Stof tot nadenke: God se Offer

“God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.”
Joh. 3: 17

In Lydenstyd is die offer wat God bereid was om te bring, gedurig in ons gedagtes. Hy het ons so lief gehad (Joh. 3:16) dat Hy sy Seun gestuur het, nie as oordeel nie, maar om ons, sy skepsels, vir wie hy so liefhet, te red van die ewige dood.

Ons kan net in verwondering staan dat God ons, nietige mense, so hoog ag, dat Hy ons nie verlore wil laat gaan nie. Dat Hy ons so oneindig liefhet, dat Hy sy Seun as offer gestuur het en die Heilige Gees gestuur het om oor ons die wag te hou. Daarom moet ons in totale dankbaarheid lewe, veral in hierdie herinnerings tyd aan die lyding wat Christus vir ons moes deurgaan. Hy was van God verlaat in Sy lydensuur. Ons voel so dikwels van God verlate, maar Hy verseker ons dat Hy ons nooit sal verlaat nie. As daar een entiteit is op wie ons volkome kan vertrou, dan is dit God en sy Woord. Die Woord wat waarheid geword het in Jesus Christus, veral in hierdie Lydenstyd wat ons bewus mask van God se offer.

Hoe kan ons nie dankie sê vir hierdie groot offer wat God uit sy eie besluit het om vir ons te gee nie. Kan ons dan kerm en kla oor wat ons soms moet deurgaan? Kan ons ondankbaar wees vir al die klein en grootse gawes wat ons uit sy Hand ontvang. Daar is geen groter liefde, as wat God vir ons bewys het deur Jesus Christus, wat vir ons as soenoffer gegee is, asook die bystand van die Heilige Gees wat ons elke dag help deur enige moeilike situasie.