Stof tot nadenke

Moenie bang wees nie. Kyk ek bring vir julle ‘n goeie boodskap wat vir die hele volk ‘n bron van groot vreugde sal wees: Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid as Verlosser gebore, Christus die Here
Luk. 2: 10-11

Reeds in Jesaja belowe God aan ons dat ‘n seun aan ons gegee gaan word, vir die uitbreiding van Sy heerskappy (“Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy en vir vrede sonder einde,…” (Jes. 9: 5-6)). Hierdie belofte word waar in die geboorte van Jesus Christus, soos deur die engel aan Josef verskyn het en hom weereens aan hierdie belofte herinner het. (“Sy sal geboorte gee aan ‘n seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sonde verlos” (Matt. 1: 21)). Johannes verseker ons dat God vlees geword het en onder ons kom woon het (“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” (Joh. 1: 14))

Lees meer “Stof tot nadenke”

Stof tot nadenke: Christus se Vrede

“Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie”
Joh. 14: 27

Jesaja wat reeds die koms van Jesus Christus voorspel het, het onder andere vir Christus die Vredevors genoem. (“Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n seun is aan ons gegee. Die heerskappy is op sy skouer. Hy word genoem: Wonderbare Raadgewer, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Vir die uitbreiding van heerskappy vir vrede sonder einde, sal hy op die troon van Dawid en oor sy koninkryk wees, om dit te vestig en te ondersteun deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Die ywer van die Here, heerser oor alle magte, sal dit doen” (Jes. 9: 5-6)). Die vraag ontstaan oor hoe lyk hierdie vrede wat Christus vir ons sou bring? Ons as mens het altyd ons eie menslike perspektiewe en verstaan nie noodwendig presies wat God se bedoeling is met die vrede wat God vir ons wil bewerkstellig nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Christus se Vrede”

Stof tot nadenke: Wat gee ons vreugde?

Die koninkryk van God is tog nie ‘n saak van kos en drank nie, maar van geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees
Rom. 14: 17

Wat is dit wat elkeen van ons vreugde verskaf in hierdie aardse lewe van ons? Ons vind ons tydelike vreugdes, wat dikwels nie juis langdurig is nie, in allerhande aardse plesiertjies. Ons hou van fees vier, familie en vriende om ons hê. Baie van ons vind ons vreugde daarin om alles wat ons wil hê te kan koop en te geniet. Maar bring dit regtig ware en blywende vreugde. Die blydskap met hierdie aardse dinge is so dikwels van kortstondige duur. Die oomblik wat die nuutheid van daardie lank begeerde ding oorgewaai het, bly ons agter met nog ‘n hol kol…wat ons so dikwels met ‘n volgende item probeer vul, wat ons dink ons gelukkig sal maak; maar doen dit regtig?

Lees meer “Stof tot nadenke: Wat gee ons vreugde?”

Stof tot nadenke: Waarop hoop ons?

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo
Eff. 1: 18-19

In ons jong dae is ons hoop so dikwels op die materiële en aardse dinge ingestel as gevolg van selfsugtige redes. Dinge wat dikwels deur ouers aangewakker word, bewustelik of onbewustelik, omdat dit so moeilik is om die onsienbare dinge aan ‘n kind te verduidelik. Ons hoop om gelukkig te wees; om bekendheid te verwerf; om baie ryk te wees; om beter af te wees as die meeste mense om ons; om slim te wees; om geleerdheid te kry. Wanneer jy in ‘n opregte christelike huis groot word, word jy reeds vroeg in jou lewe blootgestel aan die genadegawe van hoop wat daar is in die geloof. In 1 Kor. 13: 13 (”En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan is die liefde”) word hoop, saam met die geloof en die liefde as die drie belangrikste gawes van ‘n Christen uitgewys deur Paulus. Dis in hierdie wete dat ons ook moet begin besef dat ons as kinders ‘n lewenspad gehad het om te loop wat ons by volwassenheid moet uitbring, soos Paulus so mooi gestel het in 1 Kor 13: 11 (“Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind”). Ons moet ook so groei in die hoop in ons harte.

Lees meer “Stof tot nadenke: Waarop hoop ons?”

Stof tot nadenke: Koninkrykstyd en Danksegging

…maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie,…
Gal. 6: 8-9

DIe Kerklike jaar word opgedeel na aanleiding van die genadegawes wat God vir ons gegee het. Tans is ons in die Koninkrykstyd wat net na Pinkster begin en eindig teen die einde van November. Soos die naam van die tyd aandui gaan dit oor die heerskappy van die drie-enige God (Skepper, Verlosser en Trooster). In die tyd voor die Hemelvaart het Christus die evangelie van die koninkryk aan die apsostels verkondig, sodat Hy hulle kon stuur om die evangelie te gaan verkondig. (Matt 24: 14 “Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies”); ook in Mark. 13:10 “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” en in Luk 4: 43 s136 Christus “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is ek gestuur

Lees meer “Stof tot nadenke: Koninkrykstyd en Danksegging”

Stof tot nadenke: Luister en doen

Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.
Jak. 1: 25

Ons wonder dikwels of dit geloof alleen is wat ons red. Is dit voldoende om net volkome te glo dat Jesus Christus my Verlosser is? Dit is duidelik deur die hele boek van Jakobus, waarin hy briewe gestuur het vir die twaalf stamme in Diaspora, dat ook hulle soms met hierdie vraag geworstel het. Jakobus maan hulle egter telke male dat om net te glo nie voldoende is nie. In Jak. 2: 4 vra Jakobus “Wat baat dit broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie?” en in Jak. 2: 20 “Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is?”, in Jak. 2: 24 “Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.”, en in Jak. 2: 26 “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.

Lees meer “Stof tot nadenke: Luister en doen”

Stof tot nadenke: Water van die lewe

My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.
Jer. 2: 13

Dikwels in die Ou Testament speel water ‘n belangrike rol (bv. In Eks. 2: 10 “Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want”, het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.””; In Eks. 14: 22-29 waar die Israeliete droogvoets deur die see getrek het en die agtervolgende Egiptenare verdrink het nadat die see se walle weer deur God se beheer terug gevloei het; In Rig. 7: 6 word Gideon se vegters gekies na aanleiding van die manier wat hulle water gedrink het; en so kan ons talle voorbeelde noem). Selfs in hierdie lewe weet ons dat ons nie kan oorleef sonder water nie. Ons liggame bestaan uit meer as 75% water, en dit is dus vir ons onmoontlik om sonder water te lewe.

Lees meer “Stof tot nadenke: Water van die lewe”

Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse

Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. ‘Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer…”
Jak. 5: 2-3

In menige plekke in die Bybel en in die geskiedenis van die aarde, word ons herinner aan die verganklikheid van die hier en nou, die verganklikheid van hierdie wêreld (bv. Jak. 1: 11 “ want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af en sy skoonheid gaan tot niet”). Met die media se uitsending van die oorloë en gerugte van oorloë besef ons daagliks hoe vernietigende impak die mens self op hierdie aarde het. Waar stede en al die mense daarin in ‘n oogwink platgevee word met die aarde, soos ook in Sodom gebeur het (“Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.” Kla. 4:6) en tans in die Gasa strook, wat ‘, herhaling is van wat in Sef. 2:4 sou gebeur. (“Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan ‘n woesteny word…”). Dit is soms uit ons menslike oogpunt onverstaanbare gebeure, maar God waarsku dikwels in die ou Testament teen ongehoorsaamheid aan Hom (bv. Deut. 8: 20 “…soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.”).

Lees meer “Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse”

Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”
Rom. 12: 21

Die woord kwaad word dikwels in die bybel gebruik, maar in ‘n verskeidenheid van kontekste. Die vers in Romeine 12 verwys nie na die emosie wat ons amal so dikwels aan skuldig is nie, maar aan die boosheid wat ons so maklik kan verswelg. Dit is so maklik om te val; deur die dinge wat ons dink, doen en sê. Ons moet gedurig daarop bedag wees dat die ‘kwaad’ alles in sy vermoë sal doen om ons te oorwin. Joh. 3: 20-21 stel dit duidelik dat almal wat kwaad doen, haat die lig omdat dit sy duister dade aan die kaak kan stel. Wanneer ons in die waarheid handel, kan almal sien dat ons gehoorsaam is aan God, by wie die kwaad geen plek het nie (Ps. 5: 5).

Lees meer “Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’”

Stof tot nadenke: Bekommernis

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”
Matt. 13: 22

Dit is so maklik om verstrengel te raak in die alledaagse gebeure, gerugte van oorloë, woede, haat, nyd en leuens rondom ons, dat ons die gevaar loop om sonder vrug te bly. Christus stel dit so mooi in Luk. 12: 25-26 “Trouens wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?” Dit is so deel van ons lewe omdat ons alles om ons wil beheer en beplan. Terwyl God ons telkens herinner daaraan dat Hy in beheer is. Ons kan kyk na die diere en vöels van die veld (matt. 6: 25-27). God het in Sy raadsplan ‘n siklus van seisoene en beskikbare voedsel in die vorm van nuwe saad en nuwe lewe geskep.

Lees meer “Stof tot nadenke: Bekommernis”

Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode

“Ek is die here julle God. Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God” Lev. 19: 3-4

Ons persepsie van afgode is in die vorm van dooie beelde wat nie aanbid mag word nie, dit wat dikwels in die Ou Testament genoem word (Deut. 30:16; Jes 42: 17). Ons word gereeld gemaan om nie agter afgodsbeelde aan te loop nie. Wêreldwyd sien mens nog dikwels afgodsbeelde waar mense voor neerbuig, asof dié hulle kan hoor bid en hulle sou kon help. In Ps. 115 beskryf Dawid reeds baie raak hoe mens na die beeldende afgode moet kyk. Hulle het sienlose oë, gehoorlose ore, woordelose monde, stil hulpelose hande en voete wat nêrens heen kan gaan nie. Hy maan ook dat mense net soos hierdie dooie beelde sou word, indien hulle diesulkes sou aanbid (Ps. 135: 18) en dat God ons indien ons die afgode sou aanhang, Hy ons dienooreenkomstig sal behandel (Eseg. 14: 3-5; Eseg. 23: 49).

Lees meer “Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode”

Stof tot nadenke: Geestelike Groei

“Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.”
2 Pet. 1: 5-7

Ons hoor dikwels dat ons nie uit eie krag die ewigheid kan beërwe nie, want dit is ‘n genaddegawe van God. Dit is absoluut korrek, maar ons kan nou ook nie op ons louere sit en hoop dat ons die ewigheid sal erf nie. In Petrus 2 roep Petrus ons duidelik op om ons te beywer om geestelik te groei. Daar is dus tog ‘n sekere inset wat van ons kant af moet kom. Ons moet nadat ons besluit het om die genadegawe van God te aanvaar, ons beywer om al die deugde wat so mooi gestel word, in ons lewe ‘n werklikheid te maak.

Lees meer “Stof tot nadenke: Geestelike Groei”

Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens

“Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen. Ek sê vir jou: as iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koningkryk van God nie binnegaan nie”
Joh. 3: 4-5

Die vraag waarmee baie mense worstel, en tog so eenvoudig deur Christus beantwoord word. Ons moet deur water gebore word, die normale geboorte in die menslike konteks. Dit is egter die tweede geboorte wat so dikwels vir ons ‘n duister saak is. Uit ons menslike perspektief wil ons dinge beheer. Ons wil die vermoë hê om dinge te doen, wat vir ons beheer gee oor die uitkomste. Ons wil nuwe mense wees in Christus, want ons leef met die natuurlike drang, soos God ons geskape het, om nader aan God te kom.

Lees meer “Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens”

Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding”

“Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.”
Jak. 1: 2-3

Ons moet bly wees as ons versoek word? Dat ons geloof getoets word? Dit is ‘n baie interessante stelling wat Jakobus hier maak. Is die feit dat ons versoek word ‘n aanduiding dat ons in geloof begin wen? Dat die vyand dit besef en alles in sy vermoë sal doen om ons van die regte pad af te lei. Dit is dan juis in hierdie omstandighede wat ons moet volhard in ons geloof. Is dit vir ons moontlik in ons eie swak nietige menslikheid?

Lees meer “Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding””

Stof tot nadenke: Wat gee vrede?

“Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei….Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.”
Sag. 8: 16 & 19

Vrede. Dis iets wat ons almal soek. Die definisie vir vrede is ‘vryheid van steuring; afwesigheid van konflik; stil en rustig’. Maar die konsep van waar ons vrede soek het so baie fasette. Vrede tussen familie, vrede tussen vriende, vrede tussen gemeenskappe, vrede tussen lande. Vrede tussen mense kan slegs bereik word indien daar nagevolg word wat in Sag. 8 genoem word. Alleenlik wanneer mense onder mekaar die waarheid praat en regspraak aanvoor wat waar is, kan daar vertroue tussen mense ontwikkel wat tot vrede kan lei. Is dit egter die vrede waarvan hier gepraat word?

Lees meer “Stof tot nadenke: Wat gee vrede?”

Stof tot nadenke: Afskeid by die graf

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag”
1 Tes. 5: 8

Soos die seisoene in die natuur is daar ook seisoene in ons lewe. Die vreugde van lente by ‘n nuwe geboorte lei die lewe van elkeen van ons as mense in, in hierdie aardse lewe. Dis ‘n siklus wat elke dag herhalend begin en eindig. Die lewe loop soms vir ons onverstaanbare draaie, wat nie altyd van ons menslike perspektief af lekker of aanvaarbaar lyk nie. Tog vra God van ons om te alle tye en in alle omstandighede dankbaar te wees. God het ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het verskillende voorkeure, smake en idees oor wat aanvaarbaar in hierdie lewe is. Dit is egter belangrik vir elkeen van ons om te vra of dit wat ons doen voor God aanvaarbaar is.

Lees meer “Stof tot nadenke: Afskeid by die graf”

Stof tot nadenke: Seisoene in die Bybel

“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit -gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur….God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard…God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”
Gen. 1: 11; 25; 30

Dit is weer lente hier in Suid-Afrika, net soos God dit geskep het. Volgens die aard van elke plant en dier is dit die tyd vir nuwe lewe en nuwe groei. Afhangend van die tye om te saai, is daar ook gewasse wat nou gesaai moet word, en daar is gewasse wat nou ge-oes word. Want God het dit goed gedink om alles volgens hulle eie geaardheid te maak.

Lees meer “Stof tot nadenke: Seisoene in die Bybel”

Stof tot nadenke: Vissers van mense

“Hy (Jesus) sê vir hulle; “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak! Hulle het onmiddelik hulle nette gelos en Hom gevolg.”
Matt. 4:19-20

Die opdrag van Jesus Christus aan sy eerste dissipels laat mens verbaas. Wie van ons sal alles waarmee ons besig is net so laat staan en agter Christus aanstap. En tog is dit die opdrag. Los alles agter waarmee jy jou dag vul, en volg my. Mens dink so dikwels dat dit beteken dat elkeen van ons nou ‘n prediker moet word, of ‘n sendeling of aktief die woord moet verkondig. Dit het egter ‘n hele paar jaar vir hierdie dissipels geneem, en dikwels sonder begrip, waarheen Christus met hulle oppad was. Dit was eers by die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) waar hulle duidelik en met oortuiging Christus se lewe begin verkondig en navolg het.

Lees meer “Stof tot nadenke: Vissers van mense”

Stof tot nadenke: Elke dag in afhanklikheid

“Die God van Sadrag , Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie.”
Dan. 3:28

Kan ons, soos Daniël en sy vriende van ouds, so in totale afhanklikheid en met volle vertrou in waarheen God ons lei, elke dag leef? Ons is so besig om ons eie lewens te reël en beplan. So besig om net die beste vir onsself te soek op hierdie verganklike aarde. Ons mis so maklik die doel waarmee God ons elkeen op ons eie unieke lewenspad geplaas het.

Dan luister mens na die getuienis van ‘n hedendaagse ‘Daniël’ in die vorm van Michelle Potgieter, Sy en haar man Ockert wat so duidelik in totale afhanklikheid en met volle oorgawe na die stem van God geluister het. Daar waar Hy hulle heen gelei het om vir Hom te werk op ‘n baie braak land. Dit wat reeds vir daardie ver land beplan was.

Lees meer “Stof tot nadenke: Elke dag in afhanklikheid”

Stof tot nadenke: Geloofsekerheid

“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat seur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.”
Heb 6:11-12

So dikwels worstel ons met die vraag of ons volkome sekereheid kan hê van ons geloof in God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Is dit vir ons moontlik on volkome te vertrou, net soos ‘n drenkeling op sy lewensredder moet vertrou. Kan ons onsself so in totale vertroue en oorgawe aan God gee, en kan ons dan ‘n lewe van oorwinning oor die sonde lewe, te midde van hierdie aandag-afleibare wêreld waarin ons leef.

So dikwels is die antwoord dat ons sondige natuur met ons parte speel. Dat ons sondige natuur maak dat ons keer op keer val en die verkeerde dinge doen en sê. Is dit wat die oorhand oor ons kry, of hou ons ‘n agterdeur oop om tog net ‘n goeie verskoning te hê oor waarom ons keer op keer weer val.

Kan ons ‘n lewe van sondeloosheid lewe? Is dit in enigeen van ons om, vandat ons ons hart in volkome afhanklikheid aan God gegee het, ‘sonder sonde’ te wees? Paulus maan ons om ons geloof gedurig te ondersoek (2 Kor 13:5). Ons krag om die sonde te oorwin, kom van die Heilige Gees af, wat ons daagliks maan om op die regte pad te bly, om regte besluite te neem, en om tot eer en verheerliking van God te leef.

Dit is soos wanneer mens leer fiets ry. Aanvanklik val en struikel mens gereeld, maar sodra jy die tegniek onder die knie gekry het, kan jy ry sonder om te veel daaroor te dink. Dit gebeur deur ‘spier-herinnering’. Net so kan ons lewens verander deur meer en meer na die beeld van Christus te wees. DIt is nooit uit ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Dit is moontlik om volkome geloofsekerheid te hê, want Paulus noem in Rom 10:9 dat “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;”. Vir God, wat ons harte ken, kan ons vra dat Hy ons sal vorm om elke dag nader aan die beeld van Christus te wees, sodat die wêreld kan sien dat ons Sy kinders is.