“Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg. Sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel.”
Matt. 5: 44-45
In die Lydenstyd weet ons dat God se offer in Jesus Christus ons vrymaak van die sonde. Die vraag wat is my reaksie op wat God vir my gedoen het. Die bergpredikasie in Matt. 5 het ‘n baie lang lys van toepaslike dinge waarmee ons ons aanvaarding van Christus se offer kan uitleef. Dit is nie so maklik om Christus te volg in ‘n sosiale wêreld, waar mamon aan die orde van die dag is nie. Waar mense oënskynlik floreer terwyl hulle God en sy voorskrifte negeer.
Waar ons die ander wang moet draai wanneer ons geklap word, waar ons vyande wat ons wil vernietig, moet liefhê. Waar ons ja, ja moet wees, en ons nee nee; sonder uitsondering. Waar ons meer moet gee as wat ander van ons vra. Waar ons godsdienstige pligte nie openlik uitgevoer moet word, om deur ander gesien te word nie, want sulke mense is reeds beloon.
Hoe kan ons weier om God se offer te aanvaar, al is dit ‘n seer proses, en voel ons dikwels dat ons daarin gaan faal? As on kinders van die Vader wil wees, moet ons opkyk, voort beur en alles wat ons het insit om die eindpunt te bereik. Wat God aan ons bewys het deur Jesus Christus, en met die bystand van die Heilige Gees kan ons dinge doen wat soms vir ons onmoontlik lyk. God se liefde en bystand kan ons nooit oorskat nie. Ons geloof in God sal finaal beloon word as ons elke dag, met elke klein tree in die regte rigting voort beur teen die aanslae van die lewe in.


