Stof tot nadenke: Wat is die belangrikste?

“Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees…in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.”
Fil. 1: 27

Ons worstel so dikwels met ons eie swakhede, sodat ons in ooreenstemming met die evangelie van Christus kan leef. Een van die moeilikste dinge in hierdie lewe is om eensgsindheid in die gemeente en gemeenskap te hê. Daardie eie ek wat altyd wil seëvier. Ons kom almal, selfs uit dieselfde kultuur, uit soveel verskillende agtergronde, en met sovel verskillende ervarings, dat ons selde die ander se verwysingsraamwerk verstaan. Volgens Fil. 1:27 blyk eensgesindheid een van die belangrikste eienskappe van die gemeente te wees, sodat hulle standvastig kan saamstry vir die geloof in die evangelie.

Na die koms van Christus wat die vervulling van die beloftes van God se koninkryk ‘n werklikheid gemaak het (Mark 1: 15) word ons opgeroep om ons te bekeer en te glo in die evangelie. Die evangelie waarvan Jesus Christus, die seun van God, die begin was (Mark. 1:1). Ons kan egter nie ons eie lewe red nie, maar onder leiding van die Heilige Gees is dit vir ons moontlik om ons eie ek te verloor ter wille van die evangelie (Mark. 8:35), en die enigste manier wat ‘ons’ ons lewe kan red.

Ons moet besef, net soos Petrus in sy toespraak by Cornelius (Hand 10:34-35) noem“…dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. ”Jesus Christus is die Here van alle mense” (Hand. 10: 36). Daar is soveel rigtingwysers in die Woord van God , oor hoe ons moet lewe en wees, om meer en meer soos Christus te wees. “Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien, …” (sien Rom 12: 9-21).

Ons hoef dus nie uit eie krag te probeer eensgesind wees nie, want God wat ons bemoedig deur die genade van die verlossing in Jesus Christus en die Heilige Gees as trooster gestuur het, sal ons bystaan sodat ons “onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. Daarom aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom 15: 5-7). Ons moet mekaar egter aanvaar. Elkeen met sy eie swakhede, maar meeste moet ons soek na die sterkpunte, of spesiale gawes wat ‘n ander het, en wat God wil gebruik om Sy koninkryk uit te bou.

Ons kan dus net pleit soos Paulus in 1 Kor. 1:10, “Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.”, sodat ons as gemeente in eensgesindheid werktuie in die hand van God, en tot uitbouing van Sy koninkryk, kan wees.