“Die God van Sadrag , Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie.”
Dan. 3:28
Kan ons, soos Daniël en sy vriende van ouds, so in totale afhanklikheid en met volle vertrou in waarheen God ons lei, elke dag leef? Ons is so besig om ons eie lewens te reël en beplan. So besig om net die beste vir onsself te soek op hierdie verganklike aarde. Ons mis so maklik die doel waarmee God ons elkeen op ons eie unieke lewenspad geplaas het.
Dan luister mens na die getuienis van ‘n hedendaagse ‘Daniël’ in die vorm van Michelle Potgieter, Sy en haar man Ockert wat so duidelik in totale afhanklikheid en met volle oorgawe na die stem van God geluister het. Daar waar Hy hulle heen gelei het om vir Hom te werk op ‘n baie braak land. Dit wat reeds vir daardie ver land beplan was.
Dit beteken nie dat alles net altyd sal goed gaan nie. Maar wanneer mens na haar getuienis luister besef mens dat ook in mens se swakheid elke swaarkry die moeite werd is. Soms wens mens dat jy dit alles kan laat verbygaan, soms is daar onbegrip oor die manier wat dinge in jou lewe loop. Dis egter die wonderlike besef dat God altyd naby is en sy navolgers in die holte van Sy hand hou. Want alleen as jy jou volle vertroue in die liefde wat God vir jou het plaas, en jy in volle afhanklikheid van sy liefde leef, sal God by jou staan (1 Joh. 4:16) en jou daardie vrede gee wat alle verstand te bowe gaan (Fil. 4:7).
Wanneer mens elke dag in volle oorgawe Hom alleen soek en aanbid, sal jy God vind (2 Kron. 15:15) en sal Hy jou aan alle kante rus gee. Deur in volkome afhanklikheid van God se leiding te staan sal God Sy belofte van Ps. 91:4-5 as skild en skans vir jou wees. Jy sal nie meer vrees en in verskrikking leef nie. Deur Hom in totale afhanklikheid na te volg en te luister waarheen Hy jou lei, sal ook jy ongedeerd uit die brandende vuur kan kom soos Daniël en sy vriende. Die hele wêreld sal in verwondering staan en besef dat die Drie-enige God wat jy aanbid, voorsien, beskerm, almagtig, goed en groot is. Dat God, die Vader, Seun en Heilige Gees enig is. Mag elkeen van ons so in totale afhanklikheid van God gaan leef sodat die wêreld in ons lewens kan raaksien dat ons in die Liefde van God leef, na die beeld van Christus en in die krag van die Heilige Gees.


