Week 1 Dag 4 Nie sommer-so nie – Ons is die plan: 9 weke van Transformasie

Hieronder sien jy drie blokkies. Kom ons kyk of jy ’n goeie kunstenaar is. Teken in blokkie 01 jou siening van die kerk. Met ander woorde, as jy aan die kerk dink, wat sien jy in jou geestesoog? Onthou net, moenie teken wat jy dink die kerk behoort te wees nie, maar wat jy tans prakties van die kerk ervaar.

Skryf / Vul in

01


02


03


Gebed

Praat nou met die Here oor jou belewenis van die kerk. Miskien is daar mense wat jou verstaan en belewenis van die kerk deur die jare negatief beïnvloed het. Dalk is daar mense wat jy moet vergewe of selfs vryspreek … Dalk is jou belewenis van die kerk ’n hindernis in jou geestelike lewe …

Skryf / Vul in

Skryf neer wat jy ervaar nadat jy hieroor gebid en na God geluister het.


Noudat jy op “ golflengte Jesus” is, lees 1 Pet 2:1-10; 1 Kor 6:19-20.
1 Pet 2:1-10
21Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.
4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. 6Daar staan immers in die Skrif:
“Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer,
‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar;
maar wie in Hom glo,
sal vir seker nie beskaamd staan nie.”
7Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld,
“Juis die klip wat die bouers afgekeur het,
het die hoeksteen geword,”
8en “’n klip waaroor ‘n mens kan struikel,
ja, ‘n rots wat jou kan laat val.”Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem.
9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –
10julle wat eers nie ‘n volk was nie,
maar nou volk van God is;
wat eers nie ontferming ontvang het nie,
maar nou ontferming ontvang het.

1 Kor 6:19-20
19Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het, ‘n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 20Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan met julle liggaam.


Kyk of jy hieronder die kerngedagte van elke Skrifgedeelte in een sin kan saamvat.


Petrus se brief, waaruit jy nou net gelees het, is geskryf aan verstrooide groepies gelowiges wat in heidense samelewings geleef het. Hierdie Christene het diskriminasie ervaar en hulle is beskou as dié soort mense met wie jy liewer nie geassosieer wil wees nie. Dit was selfs erger as dit – hulle het lyding verduur omdat hulle hul geloof openlik uitgeleef het. Petrus noem hulle
daarom tereg bywoners en vreemdelinge.

Petrus se motief is om hierdie jong gelowiges te troos en te bemoedig. Hy wil hulle help om hulle identiteit in Christus, sowel as hul roeping, te herontdek. Jesus het hulle spesiaal uitverkies en met sy bloed losgekoop. Op Christus as die hoeksteen en met hulleself as lewende stene, bou God ’n splinternuwe gebou in hierdie wêreld – dít is hulle identiteit. Hulle roeping is nou om in die wêreld ’n heilige (afgesonder vir God) priesterdom te wees. Priesters se roeping is om dienswerk te doen en offers te bring wat God se hart bly maak. Hulle is dus nie maar net bywoners en vreemdelinge soos wat die wêreld van hulle dink nie, nee, hulle moet hulleself eerder as God se kosbare eiendom
sien, mense met ’n spesiale roeping.

In 1 Pet 2:9-10 gebruik Petrus nog ’n klompie Ou Testamentiese beelde om hulle identiteit en hulle roeping as kerk te verduidelik:

  • Uitverkore volk: ’n Term wat net vir die volk Israel in die Ou Testament gebruik is – mense wat in ’n spesiale verhouding met God staan.
  • Koninklike priesterdom: Mense wat in diens van die Koning staan, dienswerk verrig, offers bring wat vir God aanvaarbaar en goed is.

Dit is egter belangrik om te sien dat dit nou nie meer om diereoffers of ander brandoffers gaan nie, maar om geestelike offers. (Kyk gerus ook na Rom 12:1-2.)

Rom 12:1-2
121Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens. 2Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.

  • Nasie vir God afgesonder: Die rol wat Israel as lig vir die nasies moes speel, is nou oorgedra aan hierdie verstrooide gemeentetjies wat lig moet bring in die donkerte van ’n oorweldigende heidendom. Waar Israel as volk etnies verstaan is (net Jode), bestaan hierdie nuwe nasie egter nou uit Jode, Grieke, Romeine en ander – mense wat hulle op Christus as hoeksteen in die geestelike huis laat inbou het en daarom deel van die nuwe volk geword het.
  • Eiendomsvolk van God: Hierdie nuwe volk is God se eiendom. Daar is ’n intieme en hegte verbintenis tussen God en sy volk. As die eiendom van God is hulle (die Kerk) daarom ook net aan Hom gehoorsaam. (Kyk na 1 Joh 5:1-5.)

1 Joh 5:1-5
51Elkeen wat glo dat Jesus die •Christus is, is uit God gebore, en elkeen wat die Vader liefhet, het ook almal lief wat uit Hom gebore is. 2Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. 3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; 4want elkeen wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dít is die oorwinning wat die wêreld oorwin – ons geloof.
DIE WARE GETUIE OOR DIE SEUN
5Wie anders oorwin die wêreld as hy wat glo dat Jesus die •Seun van God is?

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Nasie vir God afgesonder: Vgl ook Rom 9:6-8; Hand 2:1-11; Kol 3:11-12.

Rom 9:6-8;
6Dit is nie asof die woord van God nou gefaal het nie. Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie. 7Ook is nie almal wat nageslag van Abraham is, sy kinders nie. Inteendeel, daar staan: “Dit is deur Isak dat jou nageslag benoem sal word.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders na die liggaam wat kinders van God is nie, maar die kinders na die belofte, word as nageslag beskou.

Kol 3:11-12
11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. 12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld.

Hand 2:1-11
UITSTORTING VAN DIE HEILIGE GEES
21Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek.

5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.”


DIEPER DELF: Eiendomsvolk van God: Vgl ook Jes 43:1, 4; Hos 11:8; Ef 2:19-22.

Jes 43:1, 4

431“Maar nou,” so sê die Here,
jou Skepper, Jakob,
die Een wat jou gevorm het, Israel,
“moenie bang wees nie,
want Ek het jou losgekoop,
Ek het jou op jou naam geroep –
aan My behoort jy.

4Omdat jy kosbaar is in my oë,
geëer is,
omdat Ek die Een is wat jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.

Hos 11:8
8“Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?
Hoe kan Ek jou oorlewer, Israel?
Hoe kan Ek jou prysgee soos Adma,
jou maak soos Sebojim?
My hart is diep ontroer in My,
die deernis brand in My.

Ef 2:19-22
EEN BOUWERK VAN GOD
19So is julle dan nie meer •vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die •heiliges, en lede van die huisgesin van God, 20gebou op die fondament van die •apostels en profete, met •Christus Jesus self as hoeksteen. 21In Hom verrys die hele gebou, goed saamgevoeg, tot ‘n heilige tempel in die Here. 22In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees.


God het hulle wat vroeër geen volk was nie, nou sy eie volk gemaak. Hy het hulle verander van mense wat voorheen in die duister was, verstote was, vreemdelinge was, niks was nie, na ’n nuwe gemeenskap waar daar barmhartigheid, liefde en warmte is. Dit is wat die Kerk is, dit is haar identiteit … of liewer, so behoort dit te wees! As eiendomsvolk het die Kerk die roeping om God se verlossingsdade, hierdie groot barmhartigheid waarmee Hy ’n nuwe gemeenskap, ’n nuwe huis bou, wyd en syd te verkondig.
Met so ’n identiteit en so ’n roeping kan die Kerk (ek en jy) nie anders as om hoopvol en getrou te bly nie – al is dit soms asof ons vreemdelinge en bywoners in hierdie wêreld is. Ons is God se mense (1 Kor 3:22)!
22Of dit Paulus of Apollos of Sefas, of die wêreld, of lewe of dood, of teenswoordige of toekomstige dinge is – alles behoort aan julle. 
Daarom moet ons ook besef: Die Kerk is nie ons vyand nie! ONS is die Kerk!
Inteendeel, as jy die Kerk as vyand beleef, dan beteken dit jy is jou eie vyand – want, jy is die Kerk.

Skryf / Vul in

Dit is nou weer tyd om kunstenaar te speel. Teken ’n beeld van die Kerk in blokkie 03 (p 010), maar hierdie keer soos God sy Kerk sien.

03


  • Hoe verskil God se prentjie (blokkie 03) van die prentjie wat jy (blokkie 01) van die Kerk gehad het?
  • Vul nou blokkie 02 in. Skryf daarin wat die Here van jou vra.

Wat is nodig om jou prentjie (01) te verander na God se beeld (03) van sy Kerk?

Gebed

Wat wil jy vir God sê?

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 18-25
Lees ook Rom 6:1-23; Gal 2:19-20; 3:7; Ef 1:9-14, 22-23; 1 Joh 3:1-10.

Rom 6:1-23
DOOD VIR DIE SONDE EN LEWEND VIR GOD

61Wat sal ons dan sê? Sal ons in die sonde bly voortleef, sodat die genade kan toeneem? 2Hoegenaamd nie! Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog langer daarin bly leef?

3Of weet julle nie dat ons wat in •Christus Jesus in gedoop is, in sy dood in gedoop is nie? 4Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei. 5As ons inderdaad met Hom saamgegroei het in ‘n dood soos syne, sal ons ook met Hom saamgroei in ‘n opstanding soos syne. 6Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan tot niet gemaak kan word, en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie. 7Wie gesterf het, is immers vrygemaak van die sonde. 8As ons saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal leef. 9Ons weet dat Christus, nadat Hy uit die dood opgewek is, nie weer sterf nie – die dood het nie meer seggenskap oor Hom nie. 10Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy ter wille van die sonde eens en vir altyd gesterf, maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. 11Beskou julleself dan so dat julle in Christus Jesus dood is vir die sonde, maar lewend vir God.

ALLES TOT BESKIKKING VAN GOD

12Laat die sonde dan nie langer oor julle sterflike liggaam heers, om julle sy begeertes te laat gehoorsaam nie. 13Julle moet ook nie meer julle ledemate as wapens van ongeregtigheid tot beskikking van die sonde stel nie. Nee, as mense wat uit die dood lewend geword het, stel julleself tot beskikking van God, en julle ledemate as wapens van •geregtigheid tot beskikking van God. 14Die sonde mag beslis nie oor julle heers nie; julle is immers nie onder die wet nie, maar onder die genade.

15Wat dan? Sal ons sonde doen omdat ons nie onder die wet is nie, maar onder die genade? Hoegenaamd nie!

16Besef julle nie dat as julle julleself vir iemand beskikbaar stel om hom as slawe te gehoorsaam, julle slawe is van die persoon aan wie julle gehoorsaam is nie? Julle is óf slawe van die sonde, wat tot die dood lei, óf slawe van gehoorsaamheid, wat lei tot geregtigheid. 17Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van leer waaraan julle onderwerp is; 18vrygemaak van die sonde, het julle slawe van die geregtigheid geword 19– ter wille van julle menslike swakheid praat ek in menslike terme – want soos julle julle ledemate in diens van onreinheid en losbandigheid gestel het om losbandig te leef, stel nou so julle ledemate in diens van die geregtigheid om heilig te leef. 20Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle nie aan geregtigheid gebonde nie.

21Watter vrug het julle destyds verkry? Oor daardie dinge skaam julle julle nou, want die uiteinde daarvan is die dood. 22Maar, noudat julle van die sonde vrygemaak is en diensbaar aan God geword het, lewer julle die vrug van heiligmaking, en die uiteinde hiervan is die ewige lewe. 23Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in •Christus Jesus ons Here.

Gal 2:19-20
19Inderdaad, deur die wet het ek die wet afgesterf, sodat ek vir God leef. Met Christus is ek gekruisig; 20ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my! Die lewe wat ek nou liggaamlik leef, leef ek in geloof, die geloof in die •Seun van God, wat my liefgehad en Homself vir my oorgegee het.

Gal 3:7
7Besef dan: Die mense wat uit die geloof is, dié is kinders van Abraham.

Efesiers 1:9-14

9Hy het die geheimenis van sy wil
aan ons bekend gemaak,
soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde
–onder een Hoof in Christus saam te bring,
11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies,
voorbestem volgens die voorneme
van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur,
12sodat ons,
wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het,
kan bestaan tot lof van sy heerlikheid.
13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid,
die evangelie van julle verlossing,
gehoor en tot geloof gekom het,
verseël met die Heilige Gees, wat beloof is.
14Die Gees is die waarborg van ons erfenis,
om ons los te koop as God se eiendom,
tot lof van sy heerlikheid.

22Hy het alles onder sy voete gestel,
en Hom aan die kerk gegee,
as Hoof oor alles,
23die kerk wat sy liggaam is,
die volheid van Hom
wat alles in almal vul.

1 Johannes 3:-10

31Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! En dit is ons ook. Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat hulle Hom nie leer ken het nie. 2Geliefdes, nou is ons kinders van God, maar dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie. Wat ons weet, is dat wanneer Hy verskyn, ons soos Hy sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. 3En elkeen wat hierdie vaste hoop op Hom het, hou homself rein, net soos Hy rein is. 4Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid. 5Julle weet dat Hy verskyn het om die sondes weg te neem, en in Hom is daar geen sonde nie. 6Elkeen wat in Hom bly, sondig nie meer nie; elkeen wat aanhou sondig, het Hom nie gesien, en Hom nie leer ken nie.

7Kinders, laat niemand julle mislei nie: wie doen wat reg is, is regverdig, soos Hy regverdig is. 8Wie sonde doen, is uit die Duiwel, omdat die Duiwel van die begin af sondig. Hiervoor het die •Seun van God verskyn: om die dade van die Duiwel te vernietig. 9Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly, en hy kan nie meer aanhou sonde doen nie, omdat hy uit God gebore is. 10Hieraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die Duiwel is: Wie nie doen wat reg is nie, is nie uit God nie. Dieselfde geld vir iemand wat nie sy broer liefhet nie.

Wenk

WENK: Staan nou van jou knieë af op en dan gaan leef jy volgens God se beeld van sy Kerk.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg:
Dr. Frans Hanke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hanke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za