“Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan.”
(Luk. 16: 1020)
Die klein dingetjies
In Lukas maak Jesus Christus ons daarop attent dat ons in die kleine betroubaar moet wees, want dan kan ons ook betroubaar wees met die groter dinge. Want die omgekeerde is ook waar. As jy nie met klein goedjies betroubaar is nie, sal jy ook met groter goed onbetroubaar wees. Dit geld ook vir dankbaarheid.
Hoeveel dankbaarheid betoon ons teenoor die klein goedjies in die lewe. Daardie onverwagse nuwe klein blommetjie wat jy nog nooit raakgesien het nie. Die nuwe saailing wat net begin kop uit steek. Of, indien jy die voorreg gehad het om Namakwaland te besoek, die massas en verskeidenheid van kleur en geur in blomme prag. Die skepping se manier om dankbaarheid te betoon vir ‘n ligte reënbui in ‘n baie dor wêreld!
Daardie onverwagse vriendlikheid van ‘n onbekende; die glimlag op ‘n dag wat jy dit nodig het; die oog kontak van iemand, wat jou raaksien; daardie bemoedigende woord op ‘n grou dag; en so kan mens voort gaan. Sê ons gereeld dankie daarvoor?
Teksverse:
“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is.” (Gen. 1: 1220);
“God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur.” (Gen. 1: 29-3020);
“Die Here God het ‘n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die Here God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – ‘n genoeë om na te kyk en goed om van te eet.” (Gen. 2: 8-920);
“Ja, die Here het Sion getroos, Hy het al haar puinhope getroos. Hy het haar woestyn soos Eden gemaak, haar Araba soos die tuin van die Here. Vreugde en blydskap word in haar gevind, dankliedere en die klank van begeleiding.” (Jes. 51: 320)
Dankbaarheid ook vir klein dingetjies
Ons word gereeld in die Woord daaraan herinner dat ons moet dankbaar wees. As gelowige Christen is ons dankbaarheid mateloos, by die blote gedagte aan wat Jesus Christus vir ons aan die kruis kom doen het.
Paulus maan ons om waaksaam te wees en in alle omstandighede dankbaar te wees. Ons kan ook vir al die mooi in die skepping dankbaar wees. Die skepping waaroor God tevrede was nadat Hy dit geskep het.
Om te volhard in gebed, is om vas te staan in gesprek met God, die Vader. Dit beteken ons kan om elke hoek en draai, ook waar God se skepping ons verras, dankbaarheid betoon. Ons kan nooit genoeg dankie sê vir alles wat God oor ons pad laat kom nie. Daar is soveel vreugde en liefde oor ons elkeen se pad, wat ons aan God kan herinner.
Teksverse:
“Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.” (Kol. 3: 1520);
“Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4: 220);
“Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” (1 Thes. 5: 16-1820);
“Daarom, terwyl ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en God daardeur op ‘n welgevallige wyse dien, met eerbiedige onderworpenheid en ontsag.” (Heb. 12: 2820);
“Aangesien julle dus in Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid.”(Kol. 2: 6-720)
God se skepping
Volgens die Woord weet ons dat die ganse skepping saam met ons in afwagting is op die nuwe hemel. Daar is niks wat ons kan skei van die liefde Van die Vader, die Seun, en die wonderlike bystand van die Heilige Gees nie.
Die hele skepping verkondig die evangelie en die skeppingsverhaal. Laat ons in afwagting en met dankbaarheid deur die lewe gaan, sodat die wêreld kan weet dat ons kinders is van die drie-enige God.
Teksverse:
“Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het , sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Rom. 8: 22-2320);
“Maar in alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.” (Rom. 8: 37:3920);
“Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping.” (Kol. 1: 1520);
“…maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, …” (Kol. 1: 22-2320)


