Dink ’n bietjie … wat sou jy sê is die verskil tussen iemand wat die hoof of alleeneienaar van ’n onderneming is, teenoor iemand wat ’n vennoot is?
Wanneer die Bybel na Jesus as die Hoof van sy Kerk verwys, dan het dit die volgende implikasie: Jesus, die Hoof, is die eienaar; het volle seggenskap; alleenbelang en Hy is 100% in beheer. Vennote daarenteen, is gelykes en hulle het gedeelde belang.
Lees Ps 139:23-24 en laat die Heilige Gees jou lei om die waarheid oor God se posisie in jou lewe en jou verhouding met Hom na vore te bring
Psalm 139: 23-24
23Ondersoek my, o God, en ken my hart; toets my,
en ken my ontstellende gedagtes.
24Kyk of ek nie op ‘n pad
van verdriet is nie,
en lei my op die ewige pad.
Lees nou Ef 1:9-14, 22-23; Kol 1:15-20. Gee God geleentheid om deur sy Woord en Gees met jou te praat …
Efesiers 1:9-14
9Hy het die geheimenis van sy wil
aan ons bekend gemaak,
soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het,
10om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring, 11In Hom is ons ook as erfgename uitverkies, voorbestem volgens die voorneme van die Een wat alles volgens sy raad en wil laat gebeur, 12sodat ons, wat van die begin af ons hoop op Christus gevestig het, kan bestaan tot lof van sy heerlikheid. 13In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. 14Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.
Efesiers 1:22-23
22Hy het alles onder sy voete gestel, en Hom aan die kerk gegee, as Hoof oor alles, 23die kerk wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vul.
Kolossense 1:15-20
15Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die •Eersgeborene oor die hele skepping; 16want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heersende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom en tot Hom geskep. 17Hy het oor alles bestaan, en in Hom hou alles stand. 18Hy is die Hoof van die liggaam, die kerk. Hy is die oorsprong, die Eersgeborene uit die dood, sodat Hy in alles die eerste plek kon inneem; 19want God het dit goedgevind om die hele volheid in Hom te laat woon, 20en om deur Hom alles, ja, alles op aarde en in die hemel, met Homself te versoen, deurdat Hy vrede gebring het deur sy bloed aan die kruis.
DIEPER DELF: Lees gerus ook Kol 2:6-23; 3:1-17.
Kol 2:6-23
STERWE EN OPSTANDING MET CHRISTUS
6Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. 8Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op •Christus nie. 9Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. 11In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. 12Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. 13Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. 15Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het.
16Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. 17Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, 19en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom.
NUWE LEWE IN CHRISTUS
20As julle saam met •Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: 21“Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? 22Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. 23Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.
Kol 3:1-17
31As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. 2Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. 3Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. 5Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. 6As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. 7Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. 8Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. 9Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, 10en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. 11By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. 12Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. 13Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. 14Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. 15Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. 16Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 17En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.
Wat leer die Bybel jou van die verhouding tussen Christus en sy Kerk?
Is dit regtig waar in jou lewe?
Met ander woorde: Is Christus werklik daagliks jou Hoof – van jou gedagtes, gesindheid (veral teenoor mense wat die lewe vir jou moeilik maak, of van wie jy nie hou nie), verhoudings, konflikhantering, prioriteite, dit waarop jy geld spandeer, noem maar op …? Jy sien, Christus die Hoof, is nie maar net ’n teologiese of geestelike waarheid, of net ’n mooi Bybelse (lippetaal) belydenis nie. Dit beteken nie net om my dag met Skriflesing en gebed te open of af te sluit nie, maar dit het ook te doen met hoe ek deur die loop van die dag met mense verskil – of dit plaasvind op ’n manier wat tot God se eer is. Dit het selfs te doen met die oomblik-vir-oomblik besluite wat ek neem – of ek eerder die praktyk of omstandighede die deurslag laat gee in plaas van God se wil. Jy sien, Christus as Hoof het praktiese implikasies vir jou lewe!
Dit gaan nie hier oor die vraag of God buite-om ons verstand, of deur ons verstand werk nie. Dit gaan oor die eerlike vraag na die “bottom line” van jou geloof – dit waarby jy staan of val; dit waarvoor jy sal sterf! – en of Christus wérklik in praktiese terme die Hoof van jou lewe is.
Watter waarhede oor jou verhouding met God het die Heilige Gees aan jou geopenbaar?
Miskien het jy iets om vir God te sê, of ’n belydenis om te doen … Dalk wil jy opnuut die beheer oor jou lewe “afgee”; Hom opnuut die beheer van jou gedagte-wêreld, verhoudings – jou totale lewe gee (Ps 31:6 6In u hand gee ek my gees oor; U het my bevry, Here, troue God.). Miskien is dit nou die tyd om Hom die Hoof en Eienaar, met 100% alleenbelang, in jou lewe te laat wees. Praat gerus hieroor met Hom en laat sy Gees jou daarin lei.
DIEPER DELF: Ons is die Plan handboek, p 25-29
Kyk wat leer Ef 5:21-32 ons van Christus as die Hoof van die Kerk. Sien Figuur 1 in Bylae 2, p 171
Ef 5:21-32
VROU EN MAN IN DIE HUWELIK
21Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir •Christus.
22Vroue, wees onderdanig aan julle mans, soos aan die Here, 23omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die •kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. 24Maar soos die kerk onderdanig is aan Christus, so ook moet die vroue in alle opsigte aan hulle mans onderdanig wees.
25Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, 26sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. 27Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. 28Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. 29Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy •kerk. 30Ons is immers lede van sy liggaam. 31“Om hierdie rede sal ‘n man sy vader en moeder verlaat, en hom aan sy vrou verbind – en hulle twee sal een vlees wees.” 32Hierdie geheimenis is groot; ek sê dit met verwysing na Christus en die kerk.
WENK: Dit is baie sinvol om ’n kaartjie te vat en daarop in baie duidelike en praktiese terme neer te skryf wat dit beteken as Christus die Hoof van sy Kerk en ook van jou lewe is. Moenie probeer verbykom met swaarwigtige teologiese uitsprake nie. Hou dit eenvoudig en kyk hoe vaar die gemeente waaraan jy behoort, asook jyself … (Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)
Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!
Inhoudsopgawe
Kopiereg:
Dr. Frans Hanke.
Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hanke).
Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie
Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za