Stof tot nadenke: Hoe sê mens dankie?

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” Psalm 16: 6

Hoe sê mens dankie, vir alles wat jy so mildelik ontvang? Die siekte van ons tyd, selfsug, soos Ds Kobus Smit so mooi uitgewys het is die kanker van ons lewens. Dit maak ons ondraaglik en onvergenoegd. Dit spruit uit ons persepsie van wat menseregte is. Dit lei ons om meer te verwag as wat ons nodig het, of wat vir ons bestem is.  

Dit maak dat ons, wat elkeen uniek is, se oë gerig is op ons buurman, buurvrou, broer of suster, om seker te maak dat ons darem aan hulle standaarde kan voldoen. So verloor ons God uit die oog. Ons is so besig om te begeer wat ‘n ander het, dat ons nie eers besef dat dit wat ons het voldoende is vir ons behoefte nie. In die proses vergeet ons om ons dankbaarheid aan God te openbaar.

Ons kan ook nie voorgee om dankbaar te wees nie, want God ken ons elkeen se harte, elke gedagte nog voordat dit gevorm is. God sien elke opregtheid en valsheid raak. So rig jou oë op die Here? Die Een waarvandan ons hulp en krag vandaan kom. Moet Hom nie uit die oog verloor nie. Dan sal jy volkome gelukkig wees.

Kyk om jou rond om die wonderlike gawes van God elke dag raak te sien. Daardie sagte rol-klank van die vleiloerie en die vrolike klanke van die Knysna ruigtesangertjie in die kusbos. Die lekker-kry plas van die logge walvis wat deur die see-oppervlak breek met ‘n grootse waterspat, of die asemrowende saam-geniet van die dolfyne wat in die voor-brander-breek die branders ry. Ons moet net ingestel wees om elke liewe gawe wat God oor ons pad bring te waardeer en te geniet.

Dankie vir die liefkry, lekker-kry en lag; maar ook dankie vir die seerkry, hartseer en trane. U vorm ons deur elke ervaring om ons die unieke skepsels te maak wat U wil hê ons moet wees. U help ons in tye van voorspoed en ook in die tye van swaarkry. Deur U smeltkroes en U genade kan niemand anders ‘n beter ek wees, as ekself nie. Ja, voorwaar, ek kan ook soos my skoolhoof van ouds së: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” (Ps. 16: 653)

Stof tot nadenke: ‘n Gebed

Gebed

Here maak my ‘n instrument van u vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde bring.
Waar daar leed is, laat my die gees van vergifnis bring.
Waar daar twyfel is, gee dat ek u geloof mag versprei.
Waar daar wanhoop is, help my om hoop te bring.
Waar duisternis, ek die lig mag bring.
Waar daar droefheid is, ek vreugde mag skep.
O Heiloge Meester, gee dat ek
nie soseer sal trag om vertroos te word nie,
as om te vertroos;
om begryp te word nie, as om te begryp;
om bemin te word, eerder as om lief te hê nie.
Want dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
dit is deur te sterwe dat ons tot die ewige lewe gebore word!

Amen

Gebed van St Francis van Assisi

Stof tot nadenke: Die onuitputbare Kragbron!

Stof tot nadenke Carin van Ginkel

Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees ” Psalm 27: 1

In hierdie tyd waar ons dikwels onderwerp word aan kragonderbrekings, gryp ons dadelik na gastofies, flitse en kerse, sodat ons tog net nie in die duister hoef te sit nie. Ons het so gewoond geword om op ons eie krag staat te maak. Die lewe het so gemaklik geword, dat dit ons dikwels onkant van wanneer hierdie kragonderbrekings ons tref.

In ons geestelike lewe weet ons egter dat daar ‘n onuitputbare kragbron aan die werk is. Dit is nie op onsself wat ons hoef staat te maak nie. Ons sterkte en lig lê by God, Christus en die Heilige Gees. Die Psalmdigter, Dawid het so dikwels God se lof en bystand besing. Ps. 8:2 noem hoe glansryk alles is wat God in die hemelruim geplaas het.

Ps 16: 5 leer ons dat God vir ons sorg. Alles wat ek het kom van Hom af. Kan ons anders as om dankbaar te wees vir die pragtige deel wat vir elkeen van ons afgemeet is, en die mooi daarvan raaksien (Ps 16: 6). Self in die donkerste tye laat die Here ons lampe helder skyn, wan God gee ons lig wanneer dit donker om ons is (Ps 18: 29). God omsingel ons met krag (Ps 18: 33 en Ps 18: 40).

In Ps 19: 8 verseker Dawid ons dat die woord van die Here lewe gee en Ps 23:3 stel dit so mooi: “Hy gee my krag. Hy lei my op die regte paaie…”

Kan ons dan anders as om by hierdie ewigdurende kragbron in te skakel. Hy wat vir ewig was, is en sal wees. Hy wat die heerser van die uitspansel is. Hy wat ons nooit verlaat nie, al voel dit of ons deur donker skaduwees gaan. “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.” (Ps 23: 6).

Stof tot nadenke: Wysheid van Bo…

Stof tot nadenke

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig, opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak ” Jakobus 3: 17-18

Jakobus begin in vers 13 met die vraag : “Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle?” Daar is so baie van ons wat wysheid in die aardse boekekennis en eie ervaring soek. Ons lees elke boek wat ons kan kry. Ons luister na al die rate en ‘wyshede’ wat op die radio of TV aan ons verkondig word. So dikwels aanvaar ons hierdie ‘waarheid’ as die begin en einde van kennis en dus ook wysheid.

Ons bevraagteken die bestaan van God, Christus en die Heilige Gees asook Sy skeppings vermoë. Ons staan skepties oor mense en al die aardse pogings om hierdie wêreld ‘n beter plek te maak. Ons word vasgevang in ons politiese oortuigings, kerklike leeringe, sosiaal aanvaarde lewenswyse, in so ‘n mate dat ons dikwels die basiese van wysheid totaal miskyk. Dit word so duidelik in Jakobus 3:13-18 uiteengesit.

As ons harte gevul is met jaloesie en naywer, in ons werkplek, of in ons woonplek, kan ons nie spog dat ons wysheid het nie. Dit is ‘n soort aardse wysheid wat sosiaal skynbaar aanvaarbaar is, en dikwels deur die boelies van hierdie wêreld gebruik word, om hulleself te bevorder. Die soort aardse wysheid lei tot wanorde en allerhande gemene dade, wat uit ons sogenaamde wysheid geregverdig word.

Wanneer iemand waarlik wysheid het, word dit gesien in sy gedrag van nederigheid, bedagsaamheid, medelye met ‘n ander se seerkry, onpartydigheid en opregtheid. Dis nie ‘n wysheid wat uit onsself kom nie, maar is ‘n genadegawe wat God aan ons skenk. Die geskenk kom deur die geloof in Christus wat vir ons sondes gesterf het, en die bystand en ewige nabyheid van die Heilige Gees wat ons lei en reghelp, elke keer as ons struikel. Ons moet gedurig onthou dat ons vir wysheid kan vra in gebed, wat ons kan help deur enige situasie. Dit bring ons ook in die regte verhouding met God, wat ons vul met ‘n vrede wat alle verstand te bowe gaan! Mag God jou seën met Sy wysheid.

Stof tot nadenke – Verskillende boodskappe

Deur: Carin von Ginkel

Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens ek dat dit al aangesteek was!” Lukas 12: 49

Ds Danie Goosen se preek van Sondag 7 Augustus het ingelei met die teksvers. In die verse wat op hierdie teksvers volg sê Jesus dat hy eerder verdeeldheid bring, selfs in families. Wat is dit wat Jesus hiermee bedoel? Die verdeeldheid waarvan Christus hier praat, wat selfs in families tot uiting kan kom, kan moontlik wees omdat nie almal tot volle geloof in die Drie-enige God kom nie. Die basiese oortuigingsverskille kan tot groot verdeeldheid in ‘n familie lei, en selfs tot skeuring, want gelowiges en ongelowiges kan nie in een juk trek nie.

Lees meer “Stof tot nadenke – Verskillende boodskappe”