“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem, Die naam beteken God by ons. ”
Matt. 1: 23
DIs weer tyd vir afsaal en feestyd, na ‘n jaar van nimmereindige woelinge, in Suid Afrika, asook wêreldwyd. Dis oorloë en terrorisme. Dis vredes-samesprekinge en oorlog-verklarings. Dis vloede en droogtes. Dis vreugdes en hartseer. Dis oorleef in ‘n tyd van toenemende druk op ons finansiële situasies. Dis tye waar ons na die ophef van grendeltyd, weereens moet leer om met ons medemens oor die weg te kom. So lank was ons geïsoleerd en het ons ‘n gemaklikheid in ons alleenwees ontwikkel. Ons het selfs geleer om alleen met God te verkeer, sonder die sosiale samesyn van mede-gelowiges.
In Matt. 1: 23 bevestig God egter weer vir ons dat Hy deur die koms van Christus, wat ons almal hierdie tyd van die jaar vier, met ons is. Dat ons selfs in hierdie moeilike aardse omstandighede op Sy nabyheid kan reken. Die koms van Christus was die bevestiging dat God na ons toe gekom het. Hy sal ons nooit verlaat wanneer ons Sy hand ons s’n omsluit nie. Ons kan met vrede in ons gemoed weet dat ons hierdie feestyd saam met God kan beleef, want deur die Heilige Gees is Hy permanent saam met ons. Daar waar ons met vriende of familie saam is in hierdie feestyd, kan ons weet, dat as God in ons lewe is, is Hy ook daar.
Mag die Here U ryklik seën in hierdie feestyd!