Stof tot nadenke: Die geheim van die lewe

“…Ek së vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat my gestuur het, het die ewige lewe…”

Joh. 5: 24

Daar word so dikwels gevra: “Wat is die geheim van die lewe? Waarheen is ek oppad?” Ons wonder so dikwels wat ons doel in die lewe is. Wanneer ons deur moeilikhede gekonfronteer word, wil ons altyd iemand blameer vir wat verkeerd gaan. Ons hou so daarvan om vinger te wys na iemand anders. Ons wonder waarom God sulke moeilikhede in ons lewe toelaat. Ons voel altyd dat ons nog nie die geheim van die lewe ontdek het nie.

Terwyl die antwoord al vir eeue lank in ons bereik geplaas is. Ons is so dikwels te hardkoppig om die waarheid van die geheim van die Lewe wat deur Christus self vir ons gegee is raak te sien of ons eie te maak. Die sleutel tot die deur na die ontdekking van die geheim van die lewe is om na die woord van Christus te luister en in God te glo. Dit is die enigste geheim van die lewe wat ons ‘n vrede in ons gemoed gee wat alle verstand te bowe gaan; selfs onder moelike omstandighede. Dit is die wete dat God die Heilige Gees elke dag saam met ons stuur om ons te lei en ons te behoed en bewaar.

Hierdie geheim is gratis en verniet. Ons het elkeen die keuse om te luister, te hoor en te glo en vrede in ons gemoed te hê. Dit is wat God ook vir ons elkeen wil wens, net soos enige ouer net die beste vir sy kind wil hê, net so wil God hê dat dit met ons sal goed gaan. Dat ons vrede in ons gemoed sal ervaar.