Stof tot nadenke – ‘n Gebed vir Reën

As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid… ”

Jak. 5: 13

“Hemelse Vader en almagtige Here, dit is 2 uur in die môre , en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.

Maar voor ek vir reën vra, moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U, en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook, Here, vir die wonderlike mense wat u rondom my in hierdie wêreld geplaas het. ‘n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se uniekheid, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef, het U ‘n besondere liefde vir die diere en die boerdery in my hart geplant, en daarvoor is ek U baie dankbaar. Maar Liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my menslike nietigheid en tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie.

…ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

…ek verstaan nie as die koei met ‘n sug gaan sit en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

…ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoe-koei wie se voet in die draad vasgehaak het – kyk, en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestynson, veroorsaak sal word nie.

…ek verstaan nie as ek “hart-se-punt” koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het nie.

…ek verstaan nie as jong eerstelam-ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek vaagweg kan onthou hoe glad-verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang afloop.

…ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf opstaan as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

…ek verstaan nie as ek die donkie dood langs die pad sien lê, nog in die tuig, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ‘n plan gehad nie.

…ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voort sukkel nie.

…ek verstaan nie as die erdvark, wat ‘n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op soek na iets om te eet nie.

…ek verstaan nie dat graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het, sodat die wind hulle wortels oopkalwe en die woestynson hulle verdroog en verskrompel nie.

…ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas nie, omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ‘n wolk stof en ‘n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny…

Here, ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis. Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en kwaad te kan onderskei en dan die goeie te kies. Ek bid dat ons U Koningkryk en U geregtigheid EERSTE sal soek, soos Matt. 6: 33 dit duidelik vir ons sê: “…beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ek bid veral, Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U alleen toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here, nou dat U my hart ken, smeek ek by U: “Gee asseblief vir mens en dier en plant en grond milde reën.

Dankie Here.

Amen”

Gebed deur Pieter van Schalkwyk (Boer van Namibië)
(Uit die Afkondigings van NG Groot-Brakrivier – 15 November 2015)