Deur: Carin von Ginkel
“Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens ek dat dit al aangesteek was!” Lukas 12: 49
Ds Danie Goosen se preek van Sondag 7 Augustus het ingelei met die teksvers. In die verse wat op hierdie teksvers volg sê Jesus dat hy eerder verdeeldheid bring, selfs in families. Wat is dit wat Jesus hiermee bedoel? Die verdeeldheid waarvan Christus hier praat, wat selfs in families tot uiting kan kom, kan moontlik wees omdat nie almal tot volle geloof in die Drie-enige God kom nie. Die basiese oortuigingsverskille kan tot groot verdeeldheid in ‘n familie lei, en selfs tot skeuring, want gelowiges en ongelowiges kan nie in een juk trek nie.
Elkeen van ons is oppad met Christus deur die lewe. Die Sanger Marius Landman stel dit so mooi in sy lied ‘Always be a Child’, waar God vir ons sê dat hy by ons was toe ons die eerste keer ons oë oopgemaak het, en Hy belowe dat Hy by ons sal wees op ons sterfbed. Elkeen van ons is uniek, met die pad wat God vir ons beplan het deur die lewe. Elkeen van ons het ‘n doel – hetsy of dit is om prediking of sendingwerk te doen; aktief betrokke te wees in die kerkgemeenskap, om om te gee vir die mense naby of ver van ons; begrip te hê vir ‘n ander se pyn, ‘n lewensvoorbeeld te wees vir die mense om ons; hetsy of dit in die werk, op straat, in die huis, in die kerk of in die gemeenskap is. In ‘n gelowige se lewe wys die Heilige Gees ons waar ons nodig is.
So dikwels hoor mens ‘n bybelvers en die vertolking deur verskillende persone is dikwels anders as dit wat jy gehoor het. Dit is heel moontlik omdat ons elkeen op ‘n ander plek op ons geloofspad is, en God vir elkeen van ons, deur die werking van die Heilige Gees, verskillende boodskappe het. Is die vuur wat Christus op die aarde kom werp, die veroordelende vuur van verlorenheid? Is jy dalk op ‘n plek waar jy moet besef dat jy jou manier van lewe moet verander en wil God jou wys dat jy ‘n omkeer moet maak?
Is dit ‘n belofte? Is dit ‘n goeie of ‘n ontstellende belofte? Is daar dalk ‘n belofte van ‘n opwindemde verandering, of dalk ‘n hartverskeurende skeiding? Moet ons deur die vuur gelouter word om ons geloof te suiwer, sodat ons nader aan God kan leef?
Of is dit die vuur wat na ons gestuur word in die vorm van die Heilige Gees, Die Trooster, na die hemelvaart? In Joh. 16: 13 sê Jesus: “Maar wanner Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek, en die toekomstige dinge aan julle verkondig.” Sodat ons begeesterd kan wees om God te verheerlik, Christus verder te verkondig en in die waarheid te leef.
Die boodskap in Luk. 12: 49 kan wees dat Christus angstig was vir die vuurtonge van die Heilige Gees se uitstorting. Maar Hy het geweet dat Hy eers deur die vuurdoop van die kruising moes gaan, voordat die vurigheid in ons harte aangesteek kon word deur die Heilige Gees, sodat ons in Sy waarheid kan leef.