Stof tot Nadenke: Jesus se seën en roeping

Markus 1: 9 – 22

DOOP VAN JESUS

9In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. 11En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!”

JESUS WORD VERSOEK

12Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. 13Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.

BEGIN VAN JESUS SE VERKONDIGING

14Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

ROEPING VAN DIE EERSTE DISSIPELS

16Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. 17Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” 18Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 19Hy het ‘n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. 20Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan.

21Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. 22Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie.

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za