Stof tot nadenke: Hoe sê mens dankie?

Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi” Psalm 16: 6

Hoe sê mens dankie, vir alles wat jy so mildelik ontvang? Die siekte van ons tyd, selfsug, soos Ds Kobus Smit so mooi uitgewys het is die kanker van ons lewens. Dit maak ons ondraaglik en onvergenoegd. Dit spruit uit ons persepsie van wat menseregte is. Dit lei ons om meer te verwag as wat ons nodig het, of wat vir ons bestem is.  

Dit maak dat ons, wat elkeen uniek is, se oë gerig is op ons buurman, buurvrou, broer of suster, om seker te maak dat ons darem aan hulle standaarde kan voldoen. So verloor ons God uit die oog. Ons is so besig om te begeer wat ‘n ander het, dat ons nie eers besef dat dit wat ons het voldoende is vir ons behoefte nie. In die proses vergeet ons om ons dankbaarheid aan God te openbaar.

Ons kan ook nie voorgee om dankbaar te wees nie, want God ken ons elkeen se harte, elke gedagte nog voordat dit gevorm is. God sien elke opregtheid en valsheid raak. So rig jou oë op die Here? Die Een waarvandan ons hulp en krag vandaan kom. Moet Hom nie uit die oog verloor nie. Dan sal jy volkome gelukkig wees.

Kyk om jou rond om die wonderlike gawes van God elke dag raak te sien. Daardie sagte rol-klank van die vleiloerie en die vrolike klanke van die Knysna ruigtesangertjie in die kusbos. DIe lekker-kry plas van die logge walvis wat deur die see-oppervlak breek met ‘n grootse waterspat, of die asemrowende saam-geniet van die dolfyne wat in die voor-brander-breek die brander ry. Ons moet net ingestel wees om elke liewe gawe wat God oor ons pad bring te waardeer en te geniet.

Dankie vir die liefkry, lekker-kry en lag; maar ook dankie vir die seerkry, hartseer en trane. U vorm ons deur elke ervaring om ons die unieke skepsels te maak wat U wil hê ons moet wees. U help ons in tye van voorspoed en ook in die tye van swaarkry. Deur U smeltkroes en U genade kan niemand anders ‘n beter ek wees, as ekself nie. Ja, voorwaar, ek kan ook soos my skoolhoof van ouds së: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi”.