Stof tot nadenke: Gee jy regtig om?

“Julle moet doen wat die Woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself”

Jak. 1: 22

Ons Christelike geloof het wonderlike leerstellings, wat die moeite werd is om aan te hang. Dit is egter van min nut indien ons Sondag na Sondag met voorgee gesigte die eredienste bywoon, of selfs aktief betrokke is, maar nie die Christelike voorbeeld uitleef nie. Christus vra dat ons meer en meer soos Hy moet wees. Dat ons alle mense moet aanvaar. Dat ons omgee opreg moet wees. Dat ons nooit uit die oog moet verloor dat ons net nietige mense is nie. Ons moet waak om nie met mense oë na mense te kyk nie, maar met die oë van Christus. Geen mens is te min in die oë van God nie. Dit was die hele rede vir Christus se sterwe aan die kruis. Hy het vir almal gesterwe, ongeag of jy ryk of arm, mooi of lelik is in mense oë.

Ons moet gedurig waak dat ons nie net na die uiterlike van die menslike persoon moet kyk nie. Vir Christus is die innerlike, die wesenlike menswees, die hartseer en pyn, die swaarkry van so ‘n mens belangrik. Dis is ons mense se fisiese en psigiese nood wat ons na God toe dryf. Ons moet mense word wat met oop arms, net soos Christus se arms oop was vir enigeen wat Hom gesoek het, deur die lewe loop. Aanvaarding en net die erkenning van elke mens wat jou pad kruis, se bestaan, deur ‘n kopknip, ‘n groet, selfs net ‘n glimlag, kan ‘n verandering aan ‘n ander se lewe bring. Niks is so sieldodend soos om te voel dat jy onsigbaar is nie – want niemand sien jou eers raak nie.

Ons moet besef dat kerkwees nie net gaan oor die gebou, die reëls en regulasies of ons eie geloof nie. Ons moet elke dag poog om ‘n verskil te maak in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef. God wil hê dat ons moet omgee vir mekaar; en dit beteken nie net daardie mense na aan jou nie. Om hulle lief te hê, of voor om te gee, is maklik. Dit is daardie mense wat deur die kunsmatigheid van die wêreld uitgewerp word, of onaanvaarbaar is – vir hulle moet ons opreg omgee. Dit is in ons mag om deur die hulp van die Heilige Gees mense te word wat doen wat die Woord sê. Dit is die enigste manier om in Christus se voetspore te volg.