Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 16 Maart 2023

VISIO DIVINA #23

16 Maart – Deel 1

Vroeër (#VD 6) is ‘n mosaïek-muurpaneel geplaas wat uit die 6de eeu dateer; vandag se toneel kom uit dieselfde basilika in Ravenna, Italië.

Dit is ‘n visuele uitbeelding van die vrou wat “aan bloedvloeïng gely het” (Matt 9:20; Mark 5:25; Luk 8:43). Die kunstenaar beeld hier nie die groter skare uit nie; net vir Jesus saam met 4 dissipels. Die vrou is seker reeds “uitgevang” omdat sy knielend voor Jesus is. Kyk net hoe toegevou is haar hande (ook een van die agterste mans s’n). Hierdie vrou is volgens die Torah onrein. (Twaalf jaar reeds!) Niemand mag haar aanraak nie. Maar Jesus hou sy hand uitgestrek.

Dan val die oë ‘n mens op. Sien jy dit ook? Net Jesus kyk na haar. Wil die mosaïektoneel ons nie dalk uitdaag met hoe ons met mense maak wat ons eerder wil vermy nie?

VISIO DIVINA 23

16 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Toe het Ek verbygekom en jou (Jerusalem) in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, … Leef, groei!’” (Eseg 16:6-7).

Wat maak ‘n mens met jou lewe as daar geen uitsig is op veranderinge nie? Hoe behou ‘n mens – spartellend – hoop? Aanvanklik gryp jy na elke grashalm, net om telkens teleurgestel gelaat te word. (Lees Mark 5:26, dan sien jy dit is presies wat met hierdie vrou gebeur het.) Ek dink jy hou later maar bloot op met hoop. Totdat jy die gerugte hoor van ‘n Man wat verlamdes laat loop; gebreklikes heel; besetenes genees. En hy is in die omgewing! Dit is juis die groot skare wat haar “gesigloos” kon maak. Sy moes net suutjies beweeg; suutjies aanraak. Niemand sou weet nie…

Tog is dit nie regtig sy wat Jesus aanraak nie; dit is anders om. Die oomblik as Jesus jou lewe aanraak, so skryf die teoloog, Frederick Gaiser, is dit soos om uit die dood opgewek te word. Dit is wat met haar gebeur. Jy maak ‘n fout as jy dink sy is net van haar siekte genees. Meer as dit gebeur met haar: sy ontvang God se “shalom.”

Jesus sê vir haar. “Jou geloof het jou gered.” Jy is gesond. Maar dan praat Jesus verder: “Gaan in vrede” (Mark 5:34). Jy is nie net gesond nie. Jy is volledig héél. Alles het nuut geword. Leef nou! Groei! Word wie jy bedoel is om te wees.

Dit gebeur as Jesus jou lewe aanraak.

GEBED: Raak my aan, Here. Maak my nuut. Maak my heel. Gee my U vrede.

Op Dag 23 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die musiekduo, “Prophet” se eie komposisie, “Huil maar nou”.

Uit die lirieke,

“Hy sal jou in trane was.
Huil jou maar nou tot teen God vas.
Die rou, die seer, maak heling sag,
terwyl jy stukkend op Hom wag.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.