Stof tot Nadenke: God se amfiteater

“Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.”
Gen. 1: 31

Ons is tans in Lydenstyd en word gedurig herinner aan die offer wat God bereid was om te bring. Hy het ons so lief gehad, dat Hy bereid was om deur Sy seun na hierdie aarde, wat Hy geskep het, te kom. Dit, om vir ons mense, wat so afgedwaal het van alles wat goed is, te red uit genade en liefde. God het geweet dat wat Hy geskep het baie goed was en Hy wil nie sien dat dit alles verlore gaan nie.

Wanneer mens Gen. 1 lees oor die skepping besef jy dat hierdie aarde deel is van God se amfiteater, waar die lied van die lewe behoort te klink. Wanneer ons om ons kyk, staan ons soms so verslae, seker net soos God soms oor ons moet voel. Hoe kan ons hierdie pragtige amfiteater van Hom, so verwoes. Hoe kan ons mekaar en medemense sommer net so uitsmyt, ignoreer en vernietig. Is ons so verblind deur die glans van die goue kalf, dat ons in ons troon-paleise sit en toekyk hoe ander om ons vernietig word – Solank die vernietiging tog net nie aan ons bas kom vat nie!

Wanneer gaan ons ooit wakker skrik, en besef dat hierdie stukkie hemelse teater waarin ons woon, nie ‘n reg is nie, maar ‘n God gegewe gawe. Dat ons elke dag die son, die see en alles wat daarin leef, en alles wat op hierdie aarde woon, moet koester en versorg; maar meeste van alles ook elke dag moet geniet en waardeer. Dan kan ons net, bewus van ons nietigheid, elke dag vir God dank, loof en eer, omdat ons die wonderlike voorreg het om hierdie asemrowende amfiteater van God te kan beleef.