Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 13 Maart 2023

VISIO DIVINA #20

13 Maart – Deel 1

Wat hierdie kunswerk van die Koreaanse kunsternaar, Yongsung Kim, vir my so uniek maak is dat jy nie presies weet vanuit watter rigting jy daarna moet kyk nie. Een oomblik kyk jy van bo en sien die figuur aan die onderkant staan met ‘n uitgestrekte hand. Is dit nie wat Saggeus (Visio Divina #18) dalk ook gesien het nie – ‘n hand, opgesteek in sy rigting: “Saggeus, klim af.” Die volgende oomblik kyk jy weer van onder af en sien jy die hand wat afgesteek word na jou: “Hou vas, ek sal jou uit trek.”

Natuurlik, ja, jy moet van onder af kyk, want die son is dan agter die figuur se kop. Is dit Jesus met ‘n stralekrans om sy kop (‘n “halo”)? Alles is uit fokus geskilder, behalwe die Hand.

Dit is alles wat ek sien. Die vraag is, wat sien jy?

VISIO DIVINA 20

13 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie” (Jes 43:2).

Ek kan werklik nie met sekerheid sê uit watter rigting ek na die uitgestrekte hand moet kyk nie. Natuurlik suggereer die golwe ‘n drenkelling aan wie ‘n reddened hand deur die water aangesteek word. Tog sien ek ook hoe ek te hoog geklim het, en die hand van onder af aangebied word om my te help om af te kom. Dit is toe dat ek besef, eintlik maak dit nie saak van waar ek kyk nie, die hand wat uitgestrek is, kan ek – ongeag die rigting – nie miskyk nie. Dit is altyd daar. “U omsluit my van alle kante,” skryf Dawid (Ps 139:5). Die Hand is nooit afwesig nie.

Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar,” skryf Dawid (139:8). Oral vind ek U hand. Hoe instemmend sal ons nie almal kopknik nie. En tog… waarom voel ons dan soms so godsverlate? Het jy dan nie ook al gewonder nie: Here, wáár is U dan? Waar is die uitgestrekte Hand dan nou wanneer ek dit nodig het?

Soek ons dalk die hand vanuit ‘n rigting en herken ons dit nie vanuit ‘n ander rigting nie? Soos die persoon wat – na ‘n groot vloed – op sy huis se dak sit, pleitend dat God sal red. Menigmaal kom iemand daar verby wat aan ‘n groot boomstomp klou: “spring, hier is plek!” Maar jy kyk in die lug vir die helikopter…

GEBED: Dankie dat die “Ek is”, altyd by my is!

Op Dag 19 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n ou bekende Spiritual – “Take My Hand, Precious Lord” – soos uitgevoer deur die bariton, John Thomas.

Uit die lirieke:

When my way groweth drear
Precious Lord, linger near
When my light is almost gone
Hear my cry, hear my call
Hold my hand lest I fall
Take my hand, precious Lord
Lead me on

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.