Lydenstyd 2023: “Visio Divina” – 17 Maart 2023

VISIO DIVINA #24

17 Maart – Deel 1

Hierdie is nie ‘n antieke uitbeelding nie (die Engelse woorde daarop verklap dit). Ons ken die verhaal: 10 melaatses word genees, maar slegs een kom terug om dankie te sê. Wat val jou op terwyl jy hierna kyk? Vir my is dit die enkele man wat by Jesus se voete kniel. Nege ander mans is steeds vol sere. Maar is al tien dan nie genees nie? Waarom hou die kunstenaar die ander nege dan nog steeds siek? Waarskynlik omdat hulle dalk van hul melaatsheid genees is, maar nie die heelheid (vrede) ontvang het (sien #16) wat Christus werklik wil aanbied nie.

Jy kan op die oog af baie gesond wees, maar steeds is jy ‘n stukkende mens. Jy kan alles in die lewe besit, en tog ervaar jy nie die vrede wat alle verstand te bowe gaan nie.

VISIO DIVINA 24

17 Maart – Deel 2

TEKSVERS: “Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou. Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.” (1 Tessalonisense 5:16-18)

Dit was járe gelede – ek was nog in die laerskool – toe die predikant die oggend die verhaal vertel van die tien melaatses: “Jesus, Here, ontferm U oor ons!” En toe die Here dit wel doen en al tien gesond verklaar word deur die priester, kom daar net een van die tien terug om dankie te sê. (Luk 19:11-17). Op my kindergemoed het dit ‘n blywende indruk gemaak. Hoe is dit moontlik! Is een van die eerste woordjies wat jy leer as jy begin praat dan nie “dankie” nie. Hoeveel keer het my ma nie die koekie teruggetrek en gesê, “hoe sê mens…?” En hier doen Jesus die buitengewone en hulle kan nie eers dankie sê nie. Watse soort mense is dit!

Nou dat ek al diep middeljarig is, weet ek, hulle is maar dieselfde soort mense as ek! Wat ‘n vreeslike ding om te moet erken. Tog moet ek dit eerlik bedink: waar kom ‘n mens se onvergenoegdheid met die lewe vandaan? Is dit nie vanweë ‘n gebrek aan dankbaarheid nie? Die wonderwerke vind steeds elke dag om ons plaas, en tog neem die dankbaarheid nie toe nie!

Paulus skryf dit as ‘n opdrag: “wees altyddeur bly.” Altyddeur? Is dit moontlik? Ja, as jy jouself leer ken as die een oor wie Jesus Hom ontferm het!

Kyk weer na die ikoon – tien oor wie Jesus Hom ontferm het; net een met dankbaarheid. Mag ek en jy daardie een wees.

GEBED: Here, hoeveel het ek nie om voor dankbaar te wees nie. Ek kies vandag dankbaarheid as my lewenstyl.

—————–

Op Dag 24 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons ‘n pragtige koorverwerking van ‘n lied wat oorspronklik deur Josh Groban gesing is: “Thankful”.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.