Lydenstyd: “Visio-Divina” Eerste Lydensondag

26 Feb eerste sondag in lydenstyd

VISIO DIVINA #5

EERSTE LYDENSONDAG

(Sondae word nooit as ‘n Lydingsdag getel nie.)
Soos die Heilige Gees die hart van skrywers kan inspireer om Godswoorde neer te pen, so kan die Heilige Gees die hart van die kunstenaar inspireer om Godsbeelde met ’n kwas vas te lê. Soos die Heilige Gees die oë van ’n leser kan inspireer om ’n groter waarheid raak te lees as bloot ink op papier, so kan die Heilige Gees die een wat voor ’n ikoon staan ook inspireer om dieper te kyk as ’n “prentjie.” Dit noem ons “VISIO DIVINA” – heilige kyk.

Lees meer “Lydenstyd: “Visio-Divina” Eerste Lydensondag”

Stof tot nadenke: God se kudde

Deel van God se kudde

“Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ‘n kudde wees wat wei en gaan lê sonder dat iemand hulle skrikmaak”

Sef. 3: 13

Sefanja 1-3 is die verhaal van ‘n verwoestende tyd in Israel en Judea. Ons vra so dikwels hoekom verwoestende dinge soos oorloë en ander natuurrampe gebeur. Ons kan nie altyd verstaan hoe God wat ‘n God van liefde is, soveel haat, seer, verwoesting en magteloosheid kan toelaat of veroorsaak nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: God se kudde”

Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 4

Visio Divina 25 Feb

VISIO DIVINA #4

Deel 1

Die doel van ’n ikoon (’n visuele uitbeelding van ’n teks) is om die kyker dieper in ’n storie in te trek. Jy “lees” nie net die ikoon nie; jy lees jouself daarin raak. ’n Ikoon is dus ’n ontmoetingsgeleentheid. In hierdie ikoon sien jy die ontmoeting tussen Petrus en Jesus. Maar hoe langer jy kyk hoe meer sien jy dat dit ook ’n ontmoeting tussen jou en Jesus is.

Lees meer “Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 4″

Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 3

24 Feb ezekiel

VISIO DIVINA #3

Deel 1

Daar is nie veel inligting oor hierdie Griekse ikoon (uitbeelding) van die profeet Esegiël wat na die laagte vol droë beendere gebring word nie (Eseg. 37). “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” vra die Here.
Natuurlik nie!
Behalwe (en so beeld die ikoon dit uit) deur die opstanding van Jesus! Kyk mooi: agter die bejaarde profeet staan die verheerlikte Christus (met die stralekrans) en ‘n skitterende, leë kruis. Die graf is leeg. Dood is oorwin. “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?”
Natuurlik, ja!
Oor en oor bly die vraag: Kan daar in doodsheid lewe kom? Ja, ja, ja

Kliek op die skakel en beweeg af op die skerm tot by die video vir ‘n treffende visuele
uitbeelding van Esegiel 37. (“Valley, Dry Bones”)

https://www.fubiz.net/2011/10/24/dry-bones/

Deel 2

TEKSVERS:

“Dít verseker Ek julle: …Ek het gekom sodat (julle) die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10).
Die Kerkvader Irenaeus (2de eeu n.C) het gesê, dat God verheerlik word deur die mens wat sy/haar lewe voluit leef. Volgens Irenaeus het dit beteken jy leef die lewe soos God dit bedoel het om geleef te word – as werklike verteenwoordiger (beeld/ikoon, aldus Gen 1:27) van God. Jy lééf, omdat God jou lewe wíl. Danksy God se “asem” (Sy Gees/ “Ruach”) mag jy leef. Die hartseer ellende is dat daar soveel mense is wat soos “dooie beendere” deur die lewe gaan. Wandelende lyke. Wat so leef dat God nie in hulle lewens herken kan word nie.

Vir 40 dae lank draai ons die vergrootglas op ons eie lewens. Bely ons dalk met die mond dat God die Heerser van ons lewens is, maar daar is geen sigbare teken daarvan in ons doen en late nie? Jakobus leer dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie ‘n dooie geloof is (Jak 2:17).
As die Heilige Gees (die Goddelike Asem) geloof in ons bewerk, kán ons nie anders nie as om ons lewens te wy aan daardie dinge – die goeie dade – wat God sal verheerlik (aldus Ef 2:10b).
Lydenstyd is lewegewende tyd! Vir die dooie geloofsbeendere is daar die belofte van nuwe lewe! Soos Paulus skryf, “Stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” (Rom 6:13).

GEBED:

Moet nie ophou om my lewe nuut te maak nie, my Here!

“Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.

Op Dag 3 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die baie bekende lied, “Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.
Hierdie is ‘n kwartet wat al sedert 1927 bestaan.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.

Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 2

23 Feb Briton_Rivière_-_The_Temptation_in_the_Wilderness

VISIO DIVINA #2

Deel 1

Die Ierse kunstenaar, Briton Riviere, het in 1898 hierdie “donker” kunswerk geskep van
Jesus se 40-dae lange versoeking in die woestyn. Wat ‘n mens opval is die ontsaglike
onvriendelike omgewing: rotsagtig; die lug bykans die vuurgloed van ’n vulkaan. Alhoewel
moeilik om te sien kronkel daar ’n slang by Jesus se voet; in die ander hoek is ‘n slu jakkals.
Verder is daar net ‘n enkele voël op die horison. Alles dui op verlatenheid. In wit geklee sit
Jesus, kop onderste-bo.
Kyk lank en biddend na die kunswerk. Maak dit iets in jou wakker?
‘n Skakel is aangeheg met goeie kommentaar oor die kunswerk:

Lees meer “Lydenstyd – “Visio Divina” Dag 2″

Lydenstyd – “Visio Divina” – Dag 1

Visio Divina - 22 Februarie 2023

Deel 1

Ons begin nie ons Lydenstydreeks met ‘n tradisionele ikoon nie, wel met ‘n moderne
kunswerk van Brian Jekel: “Jesus genees die blinde man.”

Kyk lank en biddend na hierdie kunswerk.

Wat “sien” jy in hierdie skildery?

Toe Jesus na die blinde man gekyk het, wat dink jy het deur Jesus se gedagtes gegaan?
Hoe sou dit voel om deur Jesus aangeraak te word?
Spreek die uitgestrekte hande dalk tot jou hart?
Waarom?
Begeer jy dalk al vir lank dat Jesus jou moet aanraak?
Waarom vra jy dit nie nou vir Hom nie.

Lees meer “Lydenstyd – “Visio Divina” – Dag 1”

Stof tot nadenke: God is my skild

God is my skild - Stof tot nadenke. NGK Groot-Brakrivier

“God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos, God is ‘n regverdige regter -…”

Ps. 7: 11-12

Met die genadegawe van die liefde wat ons deur God ontvang het, belowe God dat Hy ons skild is wanneer ons opreg van hart is. Wanneer ons nie leuens in ons ronddra of uitdeel nie. God alleen weet of ons opreg van hart is. Vir mense kan ons dit wegsteek, maar nooit vir God nie. Hy beskerm ons in moeilike tye.

Die omvang van God se liefde word so mooi in Ps 23 vir ons uitgespel. Hy neem ons na rustige groen weivelde, Hy gee ons nuwe lewenskrag, Hy lei ons op die regte paaie in sy Naam. Selfs waar ons deur donker beproewings gaan hoef ons nie bang te wees nie, want God is in sy Almag by ons. Dit is Sy leiding deur die Heilige Gees wat my gerusstel. God gee ons nuwe krag vir elke dag. “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae” (Ps. 23: 6).

Lees meer “Stof tot nadenke: God is my skild”

Stof tot nadenke: Die grootste hiervan is…

Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe om God se boodskap te verkondig, sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.”
1 Kor. 13: 8

Dis weer die week van die liefde in menslike terme. Valentynsdag word wêreldwyd gevier. Maar die begrip van die liefde het so afgewater en verwronge geraak deur die prentjie wat wêreldwyd van die liefde verkondig word, dat ons menigmaal in wantroue staan teenoor enigiemand wat ‘n liefdesverklaring maak. Die begrip ’to make love’ het mense laat dink dat hulle in beheer van die liefde is. Dat hulle deur hierdie woorde te uiter alle twyfel aan die ontvangs-kant sal verwyder. Dat hulle selfsugtige agendas nie raakgesien sal word nie.

Lees meer “Stof tot nadenke: Die grootste hiervan is…”

Stof tot Nadenke: Is jy Vry?

Stof tot Nadenke: Is jy Vry?

“Maar as julle julle deur die Heilige Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie”

Gal. 5: 18

Soms lees mens ‘n Bybelvers raak wat jou hele siening van die lewe laat verander. Is dit moontlik dat ons vrygeskeld kan wees van die wet? Tog staan dit baie duidelik in Galasiërs. Ons moet onsself net beskikbaar stel vir die Heilige Gees. Die Gees van waarheid. Die Gees wat ons krag gee onder moeilike omstandighede. Die Gees wat ons lei om die dinge van die Vader te doen, en nie in te gee aan ons menslike begeertes nie. Watter ongelooflike vryheid skenk God ons nie deur ons die Heilige Gees te skenk nie.

Lees meer “Stof tot Nadenke: Is jy Vry?”

Stof tot nadenke: Vreugde en Swaarkry

Vreugde en Swaarkry - Stof tot nadenke, NGK Groot-Brakrivier

“Ons verkondig nie onsself nie maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus uitstraal”

2 Kor. 4: 5-6

Wanneer ons antwoord op God se belofte ja is, weet ons dat Hy ons harde harte sal sag maak. Dan sal ons ook weet dat ons nie onsself verkondig nie, maar deur die krag van die Heilige Gees, sal ons nie anders kan as om God die Vader en Jesus Christus as Verlosser te verkondig nie. Ons hele wese word verander om nie meer ons eie menslike ek te wil wees nie, maar om meer, en meer, soos Christus te word. Ons word dus op hierdie wyse ‘weergebore’. Dis nie ‘n menslike geboorte nie, maar ‘n goddelike ingryping om, hoe ons dink en doen, totaal te verander.

Lees meer “Stof tot nadenke: Vreugde en Swaarkry”

Wat is jou antwoord op God se belofte?

Antwoord op God se belofte

Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my as sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe”

1 Tim. 1: 16

Laas week het ons gekyk na die belofte van God, wat beloof het om ons harde harte te versag sodat ons met mede-menslike liefde die verskil in ons lewe aan almal om ons kan uitstraal. Ons is dus ook begenadig deur die liefde en geduld wat God aan ons betoon indien ons God se belofte ons eie maak.

Lees meer “Wat is jou antwoord op God se belofte?”

Stof tot nadenke: ‘n Belofte van God

Stof tot nadenke: 'n Belofte van God

En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen”

Eség. 36: 26-27

In hierdie Nuwe lewensjaar kom bevestig God weer sy belofte wat Hy in Eségiël 36 aan ons belowe het. Dit is nie in ons om self die veranderinge te bewerkstellig nie, maar God beloof dat Hy ons ongenaakbare harte sal verander en ons harte sal gee wat ‘n deernis vir ander mense sal openbaar. God sal hierdie verandering in ons lewens bewerkstellig. Hy sal ons tot ander insigte bring.

Lees meer “Stof tot nadenke: ‘n Belofte van God”

Stof tot Nadenke: ‘n Nuwe Jaar en ‘n Nuwe Lewe…

Stof tot nadenke Nuwe Jaar - NGK Groot-Brakrivier

“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood”

1 Pet. 1: 3

Nog ‘n Jaar is verby, maar ons lewe met die verwagting van ‘n hoopvolle toekoms. Die Nuwe Jaar lê voor ons, soos ‘n nuwe bladsy. Dit laat ons weereens met die keuse om die Nuwe Lewe wat God aan ons bied, in 2023 met alles in ons aan te gryp. God, die Vader het Hom oor ons omtferm. Hy het ons so lief dat Hy sy enigste Seun reeds meer as 2 duisend jaar gelede gestuur het, om dit vir ons moontlik te maak om die Nuwe Lewe, wat ons slegs deur in Hom te glo, kan ontvang. Ons kry dus weereens die kans om ons keuses te hernu of te verander.

Lees meer “Stof tot Nadenke: ‘n Nuwe Jaar en ‘n Nuwe Lewe…”

Stof tot nadenke: Johannes kondig Jesus se koms aan

Stof tot nadenke

Johannes 1:1-34

1 In die begin was die Woord,
en die Woord was by God,
en die Woord was God.
2 Hy was in die begin by God.
3 Alles het deur Hom ontstaan,
en sonder Hom het selfs
nie een ding wat bestaan,
ontstaan nie.
4 In Hom was lewe,
en dié lewe was die lig vir die mense.
5 En die lig skyn in die duisternis,
en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

6 Daar was ‘n man, gestuur deur God, wie se naam Johannes was.

7 Hy het tot ‘n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom kon glo.

8 Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

9 Die ware lig wat elke mens verlig,
was aan die kom na die wêreld.

10 Hy was in die wêreld,
en die wêreld het
deur Hom ontstaan,
en tog het die wêreld
Hom nie erken nie
11 Hy het gekom na wat syne was
en tog het sy eie mense
Hom nie aanvaar nie.

12 Maar aan almal wat Hom
aanvaar het,
het Hy die reg gegee
om kinders van God te word –
hulle wat in sy Naam glo.

13 Hulle is nie uit bloed nie,
ook nie uit liggaamlike drang nie,
ook nie uit die wil van ‘n man nie,
maar uit God gebore.

14 En die Woord het vlees geword
en onder ons kom woon,
en ons het sy heerlikheid aanskou,
‘n heerlikheid soos dié
van die unieke Seun van die Vader –
vol genade en waarheid.

15 Johannes getuig oor Hom en roep uit: “Hý is die Een van wie ek gesê het, ‘Hy wat ná my kom, is my voor, omdat Hy die eerste was.’ ”

16 Uit sy volheid het ons almal genade ontvang – ja, genade op genade.

17 Want die wet is deur Moses gegee die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.

18 Niemand het God nog ooit gesien nie; die unieke Seun, self God, wat teen die bors van die Vader is, Hy het Hom bekend kom maak.

Getuienis van Johannes die Doper

19 En dit is die getuienis van Johannes toe die Jode priesters en Leviete uit Jerusalem na hom gestuur het om hom te vra: “Wie is u?”

20 Hy het verklaar, dit nie ontken nie, maar openlik verklaar: “Ek is nie die Christusl nie.”

21 Hulle vra hom toe: “Wat dan? Is u Elia?” En hy sê: “Ek is nie.” “Is u dié Profeet?” En hy antwoord: “Nee!”

22 Hulle sê toe vir hom: “Wie is u? Ons moet ‘n antwoord verskaf aan hulle wat ons gestuur het. Wat het u oor uself te sê?”

23 Hy antwoord toe,

“Ek is ‘die stem van een
wat uitroep in die woestyn
“Maak die pad van die Here reguit!”’ –
“soos die profeet Jesaja gesê het.”

24 Daar was ook afgevaardigdes uit die geledere van die •Fariseërs,

25 en hulle het hom gevra: “As u nie die Christus of Elia of die Profeet is nie, waarom doop u dan?”

26 Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar in julle midde staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie.

27 Hy is die Een wat ná my kom, en ek is nie werd om die riempies van sy sandale los te maak nie.”

28 Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop.

Jesus die Lam van God

29 Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: “Kyk, die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

30 Hy is die Een van wie ek gesê het, ‘Ná my kom ‘n Man wat belangriker as ek is, omdat Hy voor my was.’

31 Ook ek het Hom nie geken nie, maar juis daarom het ek gekom en doop ek met water, sodat Hy aan Israel bekend gemaak kan word.”

32 En Johannes het getuig: “Ek het die Gees uit die hemel sien neerdaal soos ‘n duif, en Hy het op Hom gebly.

33 Ook ek het Hom nie geken nie, maar Hy wat my gestuur het om met water te doop, Hy het vir my gesê, ‘Hy op wie jy die Gees sien neerdaal en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’

34 En ek het gesien en getuig, ‘Hy is die •Seun van God

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Stof tot Nadenke: Jesus se seën en roeping

Vissermanne

Markus 1: 9 – 22

DOOP VAN JESUS

9In daardie dae het Jesus vanaf Nasaret in Galilea gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water opkom, het Hy die hemel sien oopgaan en die Gees soos ‘n duif op Hom sien neerdaal. 11En ‘n stem het uit die hemel gekom: “Jy is my Seun, my geliefde. Oor Jou verheug Ek My!”

JESUS WORD VERSOEK

12Direk daarna het die Gees Hom die woestyn in gedryf. 13Hy was veertig dae lank in die woestyn, waar Hy deur Satan versoek is. Hy was saam met wilde diere, en engele het Hom versorg.

BEGIN VAN JESUS SE VERKONDIGING

14Nadat Johannes gevange geneem is, het Jesus na Galilea gegaan, waar Hy die evangelie van God verkondig het. 15Hy het gesê: “Die bestemde tyd is vervul, en die •koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.”

ROEPING VAN DIE EERSTE DISSIPELS

16Terwyl Hy langs die See van Galilea loop, het Hy Simon en Andreas, die broer van Simon, nette in die see sien uitgooi, want hulle was vissers. 17Jesus sê toe vir hulle: “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense laat word.” 18Hulle het onmiddellik hulle nette gelos en Hom gevolg. 19Hy het ‘n entjie verder geloop en Jakobus, die seun van Sebedeus, en sy broer Johannes gesien waar hulle in die boot besig was om nette heel te maak. 20Hy het hulle dadelik geroep, en hulle het hulle vader Sebedeus met die huurarbeiders in die boot agtergelaat, en weggegaan agter Hom aan.

21Hulle het in Kapernaum ingegaan, en op die Sabbat het Jesus dadelik die •sinagoge binnegegaan en begin leer. 22Hulle was verwonderd oor sy lering, want Hy het hulle geleer soos iemand met gesag, en nie soos die skrifkenners nie.

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za

Stof tot Nadenke: Feestyd saam met God

God is saam met ons

“Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem, Die naam beteken God by ons. ”

Matt. 1: 23

DIs weer tyd vir afsaal en feestyd, na ‘n jaar van nimmereindige woelinge, in Suid Afrika, asook wêreldwyd. Dis oorloë en terrorisme. Dis vredes-samesprekinge en oorlog-verklarings. Dis vloede en droogtes. Dis vreugdes en hartseer. Dis oorleef in ‘n tyd van toenemende druk op ons finansiële situasies. Dis tye waar ons na die ophef van grendeltyd, weereens moet leer om met ons medemens oor die weg te kom. So lank was ons geïsoleerd en het ons ‘n gemaklikheid in ons alleenwees ontwikkel. Ons het selfs geleer om alleen met God te verkeer, sonder die sosiale samesyn van mede-gelowiges.

Lees meer “Stof tot Nadenke: Feestyd saam met God”

Stof tot nadenke: Eer aan God

Ere aan God

“Here, ons God, U is waardig om die heerlikheid en eer en die mag te ontvang omdat U alles geskep het; deur u wil het alles ontstaan…”

Open. 4: 11

Watter heerlike ervaring was die Kerssangdiens van 2022, na jare, waar die grendeltyd ons verhoed het om behoorlik as gelowiges saam te kom, saam te aanbid, saam dankie te sê en saam tot eer van God se lof te kan sing. Die Kerssangdiens was waarlik ‘n heerlike dankie sê waar dinge so stadig maar seker na die nuwe normaal toe terugkeer.

Johannes wys ons weereens hier in Obenbaring dat alles om God gaan en dat alles wat ons het tot eer en verheerliking van God aangewend moet word. Ons kan nie met half-mate gee nie. God soek eenhonderd persent van ons. Alles wat ons het. Dit sluit nie net geld of goed nie, maar elke talent wat ons so mildelik uit Sy hand ontvang het. Of ons mag dink dis te veel of te min, God voorsien ons van genoeg om Hom te eer.

Lees meer “Stof tot nadenke: Eer aan God“

Stof tot nadenke: Danksegging

deur: Carin Van Ginkel

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het… ”

1 Pet. 1: 3

Die gebruik van ‘Thanksgiving’ wat in die 1600’s in Amerika sy oorsprong het, is ‘n wonderlike gebruik van jaarliks dankie sê vir dit wat mildelik aan hulle uitgedeel is. Dit is ‘n feestelike geleentheid van deel met almal wat betrokke was by die oeste van die jaar; familie, vriende, bure en werkers. Dit is ook ’n tyd van versoening. Dit is ‘n fisiese gebaar wat hande uitsteek na almal rondom jou. Dit is ‘n wonderlike gebaar wat sekerlik ook in ander lande kan posvat. Maar kan ons die danksegging net tot eenmaal per jaar beperk?

Lees meer “Stof tot nadenke: Danksegging”

Stof tot nadenke – ‘n Gebed vir Reën

Stof tot nadenke - Droogte

“As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid… ”

Jak. 5: 13

“Hemelse Vader en almagtige Here, dit is 2 uur in die môre , en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.

Maar voor ek vir reën vra, moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U, en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook, Here, vir die wonderlike mense wat u rondom my in hierdie wêreld geplaas het. ‘n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, met elkeen se uniekheid, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef, het U ‘n besondere liefde vir die diere en die boerdery in my hart geplant, en daarvoor is ek U baie dankbaar. Maar Liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my menslike nietigheid en tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie.

…ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

…ek verstaan nie as die koei met ‘n sug gaan sit en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

…ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoe-koei wie se voet in die draad vasgehaak het – kyk, en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestynson, veroorsaak sal word nie.

…ek verstaan nie as ek “hart-se-punt” koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het nie.

…ek verstaan nie as jong eerstelam-ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek vaagweg kan onthou hoe glad-verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang afloop.

…ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf opstaan as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

…ek verstaan nie as ek die donkie dood langs die pad sien lê, nog in die tuig, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ‘n plan gehad nie.

…ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voort sukkel nie.

…ek verstaan nie as die erdvark, wat ‘n nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op soek na iets om te eet nie.

…ek verstaan nie dat graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het, sodat die wind hulle wortels oopkalwe en die woestynson hulle verdroog en verskrompel nie.

…ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas nie, omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur ‘n wolk stof en ‘n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny…

Here, ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis. Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en kwaad te kan onderskei en dan die goeie te kies. Ek bid dat ons U Koningkryk en U geregtigheid EERSTE sal soek, soos Matt. 6: 33 dit duidelik vir ons sê: “…beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Ek bid veral, Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U alleen toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here, nou dat U my hart ken, smeek ek by U: “Gee asseblief vir mens en dier en plant en grond milde reën.

Dankie Here.

Amen”

Gebed deur Pieter van Schalkwyk (Boer van Namibië)
(Uit die Afkondigings van NG Groot-Brakrivier – 15 November 2015)

Stof tot nadenke: Hoe weet ons virseker?

Stof tot nadenke - NGK Groot-Brakrivier

“…ons moet mekaar liefhê, want die liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde.”

1 Joh. 4: 7-8

Die vraag “Waarom het Christus kans gesien om vir ons aan die kruis te sterf?” is menigmaal in ons gemoed. Waarom was Hy bereid om deur die vernietigende venyn van mense se woede, smaad en haat te gaan? Wat is dit wat hom gedryf het om, ten spyte van sy versugting om die beker by hom te laat verby gaan, steeds voortgegaan het om homself aan die kruisdood te onderwerp. Hy het geweet dat dit vir die Vader moontlik sou wees om hom daarvan vry te skeld. Die enigste antwoord wat ons hierop kan vind is “die liefde’.

Lees meer “Stof tot nadenke: Hoe weet ons virseker?”