Stof tot Nadenke: Is jy Vry?

Maar as julle julle deur die Heilige Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie”

Gal. 5: 18

Soms lees mens ‘n Bybelvers raak wat jou hele siening van die lewe laat verander. Is dit moontlik dat ons vrygeskeld kan wees van die wet? Tog staan dit baie duidelik in Galasiërs. Ons moet onsself net beskikbaar stel vir die Heilige Gees. Die Gees van waarheid. Die Gees wat ons krag gee onder moeilike omstandighede. Die Gees wat ons lei om die dinge van die Vader te doen, en nie in te gee aan ons menslike begeertes nie. Watter ongelooflike vryheid skenk God ons nie deur ons die Heilige Gees te skenk nie.

Hierdie belofte maak ons vry van die sondige natuur (Gal. 5: 19), daardie dinge wat op aarde so algemeen gevind word, waaronder onsedelikheid, losbandigheid, vyandskap, haat, naywer, verdeeldheid en afguns, maar enkeles is. Wanneer jy hierdie dinge doen en deel van jou lewe maak staan jy nog volledig onder die wet en sal veroordeling jou voorland wees. Watter swaar las om te dra; en mense wat hulle daaraan skuldig maak glo dat hulle vry is!

Wanneer ons die Heilige Gees beheer van ons lewe gee, sal almal kan sien. Dan sal ons daardie lig vir die wêreld kan wees wat hulle ‘n blik op God gee. In ons lewe sal die mense om ons liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing raaksien. Ons sal ook nie beangs wees nie, want God het ons die Gees gegee wat ons “vul met krag, en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1: 7). Dit alles nie omdat ons dit uit ons eie krag kan regkry nie, maar omdat ons die vryheid van die Heilige Gees as erfporsie gekry het. Ons sal mekaar met ondersteuning en opregte nederigheid en liefde kan dien. Watter heerlike vooruitsig!