Lydenstyd 2023 – “Visio Divina” 23 Februarie 2023

VISIO DIVINA #2
23 Feb – Deel 1

Die Ierse kunstenaar, Briton Riviere, het in 1898 hierdie “donker” kunswerk geskep van
Jesus se 40-dae lange versoeking in die woestyn. Wat ‘n mens opval is die ontsaglike
onvriendelike omgewing: rotsagtig; die lug bykans die vuurgloed van ’n vulkaan. Alhoewel
moeilik om te sien kronkel daar ’n slang by Jesus se voet; in die ander hoek is ‘n slu jakkals.
Verder is daar net ‘n enkele voël op die horison. Alles dui op verlatenheid. In wit geklee sit
Jesus, kop onderste-bo.
Kyk lank en biddend na die kunswerk. Maak dit iets in jou wakker?
‘n Skakel is aangeheg met goeie kommentaar oor die kunswerk:

TEKSVERS: “Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel” (Matt 6:10).

In die Bybel volg iets belangriks altyd die getal 40 op: 40 dae en nagte reën dit, dan trek die bewolkte lug oop; 40 jare dwalend deur die woestyn, dan lê die Beloofde Lad daar voor; 40 dae se versoeking deur die bose, dan begin Jesus met sy prediking. Die lang afwagting is uiteindelik voltooi – soos die 40 lange weke van ’n swangerskap voordat ’n geboorte aan nuwe lewe geskenk word. Markus leer dit ook: “Net daarna het die Gees Hom (Jesus) weggevat die woestyn in, waar Hy veertig dae lank gebly het en deur die Satan versoek is” (Mark 1:12-13). En dan volg die belangrike woorde van Jesus, “Die tyd het aangebreek” (m.a.w., die geboorte-uur is hier). “Die koninkryk van God het naby gekom” (Mark 1:15). Dit was presies waarvan die bose Jesus wou weerhou het! Waarom was dit so ‘n bedreiging? As God se koninkryk aangebreek het, sal niks ooit weer dieselfde wees nie! Die krag van die bose sal getroef wees! ‘n Nuwe manier van leef sal moontlik wees! Gaan lees self hoe Lukas dit (in hoofstuk 4) beskryf: nadat Jesus vir 40 dae lank versoek is, staan Jesus in die sinagoge op, haal uit Jesaja aan, en sê dan, “Vandag is hierdie Skrifwoord wat julle nou net gehoor het, vervul” (Luk 4:23). Uiteindelik – die tyd het aangebreek! Niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

Mag jou 40-dae Lydenstyd die Koninkryk van God al meer sigbaar maak.

GEBED: Laat U Koninkryk meer en meer in my lewe sigbaar raak.

Op Dag 2 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n kontemporêre Engelse
uitvoering van ‘n Kyrie Eleison, soos uitgevoer in die St Laurence Gemeente in Chorley
(Engeland).
Die woorde verskyn in die video.

As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieël te ondersteun nie? 
STANDARD BANK
Takkode:  051001
Rek No:  080042805
RM BEZUIDENHOUT
Kampstraat 13, Eurekapark, 
Groot-Brakrivier, 6525.