Stof tot nadenke: Die grootste hiervan is…

Die liefde vergaan nooit nie, maar die gawe om God se boodskap te verkondig, sal verdwyn, die gawe om ongewone tale en klanke te gebruik, sal ophou, en dié van kennis sal uitgedien raak.”
1 Kor. 13: 8

Dis weer die week van die liefde in menslike terme. Valentynsdag word wêreldwyd gevier. Maar die begrip van die liefde het so afgewater en verwronge geraak deur die prentjie wat wêreldwyd van die liefde verkondig word, dat ons menigmaal in wantroue staan teenoor enigiemand wat ‘n liefdesverklaring maak. Die begrip ’to make love’ het mense laat dink dat hulle in beheer van die liefde is. Dat hulle deur hierdie woorde te uiter alle twyfel aan die ontvangs-kant sal verwyder. Dat hulle selfsugtige agendas nie raakgesien sal word nie.

In die naam van die liefde, die een ding wat belangriker is as geloof en hoop volgens 1 Kor. 13: 13, is mense al verwoes en moord gepleeg. Die duisternis in hierdie wêreld het die konsep van die liefde so verdraai dat om van die liefde te hoor soms net ‘n wrang smaak in mens se mond nalaat. Tog is dit nie wat die Woord ons leer nie. Ons wat nie van hierdie wêreld is nie, wat kinders van God is, ons wat glo dat die ware liefde, soos deur God aan ons betoon en uitgeleef, in die vorm van Sy Seun, Jesus Christus, en die versorging onder leiding van die Heilige Gees, die enigste waarheid is. Ons raak doof vir die wêreld se verleidings, want ons weet dat daar net een soort liefde is wat belangrik is.

Dit is die Liefde wat so mooi beskryf word in 1 Kor. 13. Ons kan alles wat ons het weggee, ons kan allerhande tale praat, ons kan alle kennis in pag hê; maar as ons nie die liefde het wat geduldig, vriendelik, nie afgunstig, nie eie belang soek, nie grootpraterig is, nie liggeraak is of boek hou van die kwaad nie, wat nie bly is oor onreg nie en wat verheug is oor die waarheid. Dis alleenlik hierdie liefde, wat nooit vergaan nie, wat groter is as geloof en hoop. Hierdie Liefde wat ons slegs kan hê deur die genade en as gawe van God!