“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood”
1 Pet. 1: 3
Nog ‘n Jaar is verby, maar ons lewe met die verwagting van ‘n hoopvolle toekoms. Die Nuwe Jaar lê voor ons, soos ‘n nuwe bladsy. Dit laat ons weereens met die keuse om die Nuwe Lewe wat God aan ons bied, in 2023 met alles in ons aan te gryp. God, die Vader het Hom oor ons omtferm. Hy het ons so lief dat Hy sy enigste Seun reeds meer as 2 duisend jaar gelede gestuur het, om dit vir ons moontlik te maak om die Nuwe Lewe, wat ons slegs deur in Hom te glo, kan ontvang. Ons kry dus weereens die kans om ons keuses te hernu of te verander.
Deur God se liefde en wonderlike, soms onverstaanbare omgee, gee Hy vir ons opnuut met die vooruitsig van die Nuwe Jaar, ‘n lewende hoop. Die hoop wat op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat vir ons bewaar word in die hemel, gebaseer is. Ons geloof is die versekering dat ons deur die krag van God veilig bewaar sal bly. Ons hoef ons dus nie te bekommer nie, maar kan in vreugde leef, selfs deur die beproewinge wat oor ons pad mag kom.
Leef in geloof in hierdie nuwe lewensjaar. Leef saam met God, deur Jesus Christus en onder leiding van die Heilige Gees. Wees lief vir mekaar, wees verdraagsaam met ‘n ander se swaarkry en deel in enige vreugdes, sodat ons tot seën vir mekaar kan wees in hierdie Nuwe Jaar. Petrus verseker ons dat ons geloof meer kosbaarder is as goud wat kan vergaan. Ons geloof in die onsienbare, gee ons reeds aandeel in die saligheid wat die einddoel van ons geloof is. (1 Pet. 1: 3-9)


