“Ons verkondig nie onsself nie maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus uitstraal”
2 Kor. 4: 5-6
Wanneer ons antwoord op God se belofte ja is, weet ons dat Hy ons harde harte sal sag maak. Dan sal ons ook weet dat ons nie onsself verkondig nie, maar deur die krag van die Heilige Gees, sal ons nie anders kan as om God die Vader en Jesus Christus as Verlosser te verkondig nie. Ons hele wese word verander om nie meer ons eie menslike ek te wil wees nie, maar om meer, en meer, soos Christus te word. Ons word dus op hierdie wyse ‘weergebore’. Dis nie ‘n menslike geboorte nie, maar ‘n goddelike ingryping om, hoe ons dink en doen, totaal te verander.
Dit is nie in ons eie krag wat ons dit kan bereik nie. Dis alleenlik met die hulp en bystand van die Heilige Gees dat ons in ons roeping as Christen kan slaag. Dit is dus God wat hierdie lig, wat ons nie onder die maatemmer moet verberg nie, deur ons laat skyn. Dit is nie ons eie oulik wees of intelligensie of omgee vir ander nie; maar dit is God die Vader, deur die Verlossing van Jesus Christus en deur die intrek van die Heilige Gees in ons lewens. Ons het daarom nie iets om op te roem nie…dis alles net genade.
Hierdie lig wat in ons aangesteek word help ons om die vreugde en swaarkry van ander raak te sien, en saam met hulle te beleef. Hierdie aangesteekte lig dryf ons om ons hand uit te kan steek na ander en hulle vreugdes en pyn te help dra. Dis God se wil dat ons meer en meer mense moet bereik; om meer en meer soos Christus te wees. Ons moet net gewillig wees om die meulsteune van hierdie lewe, soos bv. sosiale druk, veroordelende gedagtes en aksies, van ons af te gooi, en volkome op die krag van God deur die Heilige Gees te vertrou. Ons moet soos Jesus Christus ‘n omgee gemeente en gemeenskap word. So kan ons deel in mekaar se vreugdes en ook ‘n ander se swaarkry help verlig. Ons kan die liggies wees vir ander oppad huis toe.


