Lydenstyd 2023: “Visio-Divina” 26 Februarie 2023

VISIO DIVINA #5
26 FEB: EERSTE LYDENSONDAG
(Sondae word nooit as ‘n Lydingsdag getel nie.)
Soos die Heilige Gees die hart van skrywers kan inspireer om Godswoorde neer te pen, so kan die Heilige Gees die hart van die kunstenaar inspireer om Godsbeelde met ’n kwas vas te lê. Soos die Heilige Gees die oë van ’n leser kan inspireer om ’n groter waarheid raak te lees as bloot ink op papier, so kan die Heilige Gees die een wat voor ’n ikoon staan ook inspireer om dieper te kyk as ’n “prentjie.” Dit noem ons “VISIO DIVINA” – heilige kyk.

’n Goeie voorbeeld is Andrei Rublev (die Russiese ikonograaf) se “Ikoon van die Verlosser” uit die 15de eeu. Behalwe dat die ikoon baie beskadig is (dit het vir eeue onder ’n plaasopstal se trap gelê), is dit ’n vreemde gesig – te lank dalk; die neus heeltemal te smal en ongevorm met ’n piepklein mondjie onder ’n dun snorretjie. Maar kyk lank, dan begin die oë “praat.”

Maar wat wil hulle sê, hierdie sagte, liefdevolle oë; teer; bykans droewig? Kan dit die oë wees waarmee Jesus op Palmsondag na Jerusalem gekyk het? Oë vol trane …“Jerusalem, o Jerusalem” (Luk 13:34).

Kyk jy nóg langer dan sien jy eers die posisie van die skouers – so asof Jesus erens heen oppad was, en skielik omgedraai het om die kyker reguit in die oë kyk. Bykans asof Jesus wil sê, “Ek sien jou raak.”
“Ek ken jou op jou naam.”
“Kom na My toe.”
Is dit die oë wat in Petrus s’n gekyk het die aand toe Petrus sou sê, “ek ken Hom nie”? Is dit die oë waarin die blinde Bartimeus vir die eerste keer gekyk het? Oë wat meer sien as wat jy eintlik sou wou hê. Net om te ontdek dat daardie oë nie veroordeel nie.

Mag jy vandag met sagte oë raakgesien word.

Klik hier as jy ’n verdere verduideliking van Rublev se ikoon wil sien: