Stof tot nadenke: God is my skild

God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos, God is ‘n regverdige regter -…”

Ps. 7: 11-12

Met die genadegawe van die liefde wat ons deur God ontvang het, belowe God dat Hy ons skild is wanneer ons opreg van hart is. Wanneer ons nie leuens in ons ronddra of uitdeel nie. God alleen weet of ons opreg van hart is. Vir mense kan ons dit wegsteek, maar nooit vir God nie. Hy beskerm ons in moeilike tye.

Die omvang van God se liefde word so mooi in Ps 23 vir ons uitgespel. Hy neem ons na rustige groen weivelde, Hy gee ons nuwe lewenskrag, Hy lei ons op die regte paaie in sy Naam. Selfs waar ons deur donker beproewings gaan hoef ons nie bang te wees nie, want God is in sy Almag by ons. Dit is Sy leiding deur die Heilige Gees wat my gerusstel. God gee ons nuwe krag vir elke dag. “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae” (Ps. 23: 6).

Deur ons lewe kan ons net dankbaarheid hê vir God se beskerming; vir Sy permanente, ondeurgrondelike teenwoordigheid en almag; vir Sy leiding wanneer die pad vir ons donker lyk; vir Sy dra deur moeilike tye, wanneer ons voel ons kan nie meer nie; vir Sy saamwees en gesels in tye van vreugdes en hartseer; vir Sy onbewuste en bewuste beskerming wanneer daar onverwagte aanslae teen ons is. Die belofte om God as ons skild te hê, dra ons deur elke dag.

Hoe kan ons dan anders as om God te loof!