Wat is jou antwoord op God se belofte?

Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my as sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe”

1 Tim. 1: 16

Laas week het ons gekyk na die belofte van God, wat beloof het om ons harde harte te versag sodat ons met mede-menslike liefde die verskil in ons lewe aan almal om ons kan uitstraal. Ons is dus ook begenadig deur die liefde en geduld wat God aan ons betoon indien ons God se belofte ons eie maak.

Hierop moet ons egter direk en met aksie toon dat God se begenadiging ook in my hart ontvang is. Elkeen van ons moet ‘n antwoord vir God gee, en dan alleen sal Hy ons help deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Uit onsself is ons nie by magte om die verskil te maak nie, maar ons moet egter vir God ‘n antwoord hê. So daar is ‘n sekere mate van eie wilsbesluit, wat God in ons harde harte bewerk, sodat ons Hom kan loof en prys vir die verskil wat die besluit ook in ons lewens kan te weeg bring.

Ons moet egter waak om nie voor te gee dat ons die Heilige Gees in ons het, en sodoende vals voorwendsels skep nie. Ons kan nie vals intensies voor God en dikwels ook mense wegsteek nie. God sien en ken ons ten volle, en mense is dikwels beter ingestel op mense se intensies as wat ons besef. Die impak van die verandering deur Ja op God se belofte te antwoord is nie altyd vir ons duidelik nie, maar die lig wat uit ons skyn deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees, kry direkte terugvoer van mense om ons, en die hoop op die ewige lewe.