En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee.En Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen”
Eség. 36: 26-27
In hierdie Nuwe lewensjaar kom bevestig God weer sy belofte wat Hy in Eségiël 36 aan ons belowe het. Dit is nie in ons om self die veranderinge te bewerkstellig nie, maar God beloof dat Hy ons ongenaakbare harte sal verander en ons harte sal gee wat ‘n deernis vir ander mense sal openbaar. God sal hierdie verandering in ons lewens bewerkstellig. Hy sal ons tot ander insigte bring.
So sal ons beter begrip hê vir wat nodig is om die liefde en omgee, wat deur Christus hier vir ons kom demonstreer is, in ons lewens te laat posvat. God sal ons dring deur die werking van die Heilige Gees om al meer die nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid en begrip vir ander deel van ons elke dag se bestaan te maak. Sodat ons nie in selfsug, ongeduld en woede op mekaar se behoeftes sal reageer nie. Sodat ons nie ongemaklik sal voel om vir ander met nood ‘n helpende hand uit te steek nie. Sodat ons mekaar sal aanvaar vir wat elkeen is. Sodat ons meer begrip sal hê van waar elke mens vandaan kom. Elkeen in sy eie uniekheid. Elke mens het ‘n behoefte om nader aan God te leef, en ons as Christene moet die Liefde van God op ‘n sigbare manier uitleef.
My wens aan jou is dat jy ook in hierdie jaar die verandering van hart sal hê en dat jy die vreugde van gee sal beleef, net soos God sy enigste Seun aan ons gegee het, sodat die Liefde van God al meer deur ons lewenshandel sal skyn deur die immer teenwoordige werking en leiding van die Heilige Gees.


